Suid-Afrika is ’n droë land en baie riviere en strome is besoedel. Droogtes is algemeen, maar oorstromings vind ook plaas. Water kom op verskillende plekke voor, maar ’n spesiale gebied waar dit ’n belangrike rol speel, is vleilande.

Ongelukkig word hierdie belangrike waterbronne te maklik deur mense beskadig of vernietig. Vleilande is stukke grond waar die watertafel by die oppervlak is en wat permanent of vir lang tye deur ’n vlak laag water bedek word. Sommige kan so deurdrenk met water wees dat moerasse vorm. Vleilande is oorgangsgebiede tussen droë grond en water.

Mense bou skerms van riet in die waters van iSimangaliso om vis met hoogwater vas te keer. Die vissers vang die vis met laagwater. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoekom is vleilande so belangrik?

Kenners meen vleilande moet beskerm word omdat dit ’n waterkrisis kan voorkom.

  • Suid-Afrika het meer as 115 000 vleilande.
  • Dis nie net noodsaaklike waterbronne nie; dis gebiede wat ’n hele ekosisteem onderhou en biodiversiteit verseker. Vleilande is propvol lewe. Dis lekker blyplekke vir voëls, plante en diere en verskaf voedsel aan vee.
  • Vleilandgebiede wat in strome en riviere voorkom, kan help om oorstromings te keer deurdat dit ’n groot, vlak “bak” vorm. Water word hier opgevang en terwyl die water uitvloei, verminder die spoed daarvan. Meestal vloei dit weer aan die ander kant verspreid uit. Op dié manier word vloedwater en veral erosie beperk.
  • Vleilande is meestal vol natuurlike plantegroei, en dit help om afsaksels, belangrike voedingstowwe (soos stikstof en fosfor), onsuiwerhede (soos bakterieë) en ander gifstowwe daarin vas te vang. Wanneer water deur ’n vleiland vloei, werk die vleiland soos ’n natuurlike filter wat onsuiwerhede uit die water verwyder. Water wat aan die ander kant van die vleiland uitkom, is dus gewoonlik skoner.
  • Riete is volop in vleilandgebiede. Mense gebruik dit vir dakke, mandjies en verskeie ander rietprodukte. Afgesien hiervan is die gebiede ’n lieflike plek vir mense wat daarvan hou om na voëls te kyk, en veral hengelaars geniet vleilande baie.

Veenvleilande

Die rooilechwe het lang hoewe wat hom deur die nat gebied help loop. Die grootlangtoon se lang tone stel hom in staat om bo-op drywende plante soos waterlelies te stap. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Veen is ’n grondsoort wat uit halfontbinde plantstowwe ontstaan. ’n Veenvleiland se bodem bestaan uit veen. Veen bevat organiese materiaal soos riete, biesies en mos wat deur die jare in die vleiland opgehoop het. Hierdie soort vleie is altyd nat; daarom kan die plante daarin nie vinnig afgebreek word nie.

Daar word gereken ’n tiende van Suid-Afrika se vleilande bevat veen. Na raming word dubbel soveel koolstof in veenvleilande wêreldwyd geabsorbeer as in woudgebiede. Dié vleilande is aangepas om as buffers vir vloedwaters te dien.

Dit bevat veenvormende plante wat water suiwer en waarvan die wortelstelsels sediment vasvang om grondverlies en erosie te voorkom.

Bedreigings

Meer as 60% van Suid-Afrika se vleilande is onherstelbaar vernietig of gaan agteruit. Die oorsake van hierdie vernietiging sluit in die dreinering daarvan vir ontwikkelings (behuising, winkels en ander geboue), erosie, indringerplante, brande en nadelige aksies weens ’n gebrek aan kennis van hoe hierdie ekosisteme werk.

Die grootste gevare vir hierdie noodsaaklike lewensbron kom egter van landbou- en mynbouaktiwiteite.

Vlei of moeras?

’n Vlei is ’n komvormige gebied met ’n geringe helling waar die grond in die reënseisoen water laat opdam. Digte plantegroei kom gewoonlik in vleie voor. Vleie kan ook seisoenaal wees. Dit beteken dis vol water in die reënseisoen.

’n Moeras is in ’n platter gebied geleë waarvan die grootste deel heeltyd onder vlak water is. Moddereilandjies waarop gras groei, is kenmerkend van moerasse.

Hoe kan ons vleilande bewaar?

  • Elke vleiland in Suid-Afrika is van ons hulp afhanklik. ’n Maklike manier om te help is om jou maats in die klas te vra om by ’n vleiland te help rommel verwyder.
  • Uitheemse bome en indringerplante moet uit vleilande verwyder word. Hierdie bome en plante gebruik te veel water. Ons kan inheemse bome plant en natuurlike vleilandplante bewaar.
  • Damme en kanale moenie in vleilandgebiede gebou word nie. Dit verander die vloei en die natuurlike werking van die vleiland. Die regte tegnieke moet gebruik word om die kuslyn te stabiliseer.
  • Sand (of veen) moet nooit uit vleilande gehaal word nie. Dis kosbare grond wat onvervangbaar is.
  • Maak seker gifstowwe of afval beland nie in water naby ’n vleiland nie. Aangesien vleilande die water daarin filtreer, bly baie van daardie gifstowwe agter, wat ’n nadelige effek op die vleiland het.
Hierdie rietbedding in Beira, Mosambiek, is so verstop van vullis dat die water wat hierdeur vloei nie meer gefiltreer word nie. Foto: Gallo Images/Alamy

Wêrelderfenisgebied

In 1999 is die Groter St. Lucia-vleilandpark, soos hy toe nog bekendgestaan het, deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Dit is een van die vier erkende natuurlike Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika. Ons land het ook vyf kulturele en een gemengde Wêrelderfenisgebied.

Seekoei
Die iSimangaliso-vleilandpark is ongeveer 275 km noord van Durban aan die ooskus van KwaZulu- Natal. Dit bestaan uit ongeveer 3 280 km2 natuurlike ekosisteme. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In 2007 is die naam verander na die iSimangaliso-vleilandpark. Die park bestaan uit 13 aaneengeslote beskermde gebiede wat altesaam sowat 2 400 km2 beslaan. Min mense weet dat hierdie gebied reeds sedert 1895 ’n bewaarde gebied is.

Die vleilandgebied is Afrika en Suid-Afrika se grootste riviermonding en lagunestelsel. Dit is geleë aan die kus van KwaZulu-Natal.

’n Groot verskeidenheid vleilande met baie unieke dier- en plantspesies kom hier voor. Sowat 6 500 plant- en dierspesies kom in die gebied voor, insluitend 521 voëlspesies.

Seekoeie
Seekoeie speel ’n sleutelrol in vleilande. Omdat hulle op land eet en in die water ontlas, bring hulle voedingstowwe na die riviere en mere wat andersins nie daar sou uitkom nie en verryk ­sodoende die plant- en dierlewe.. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die grootste bevolking seekoeie word hier aangetref. Baie pelikane, ooievaars, reiers en selfs seeskilpaaie maak op die strand nes.

Die wêreld se grootste duinwoude (tot 180 m hoog!) word hier aangetref.