In Suider-Afrika is baie San-rotskuns steeds op rotse en in grotte te sien. Die oudste hiervan is in Botswana en is 5 000 jaar oud; die onlangsste is 150 jaar oud. Navorsers het eers gedink die tekeninge beeld die San se daaglikse lewe uit, maar nou glo hulle dit het ’n dieper betekenis.

Dit gee ons ’n blik op hierdie jagter-versamelaars se geestelike oortuigings en rituele.

Die beswymingsdans

Sanmense
Die beswymingsdans. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die San het geglo ’n sjamaan, of toordokter, gaan ’n beswymingagtige toestand binne en betree dan ’n geestesruimte waar hulle bose geeste beveg en siekes genees. Die dans kon tot ’n nag lank duur. Die vroue het in ’n sirkel gesit en handeklap en sing, en die mans en sjamaan het in die sirkel of om die vroue gedans.

Namate die dans, sang en handeklap intenser geword het, het die sjamaan se krag begin “kook” en by hul ruggrate opgestyg. Wanneer die krag in hul koppe “ontplof”, het hulle die beswyming betree.

Die San het geglo die sjamaan wat ’n beswyming binnegaan, tree soos ’n sterwende eland op: Hulle het gesweet, geskud, uit die neus gebloei, vooroor gebuig en eindelik op die grond neergeval. Op rotstekeninge is die sjamaan dikwels langs die sterwende eland geverf omdat geglo is die eland sal sy krag vrystel wanneer hy sterf.

Het jy geweet?
Die rots waarop die San geteken het, is beskou as ’n “sluier” wat hierdie wêreld en die geesteswêreld skei.

Die eland

Die eland is ’n baie belangrike simbool en die dier wat die meeste deur die San geteken is. Dis as ’n baie belangrike deel van die San se tradisionele seremonies beskou.

’n Seun het byvoorbeeld ’n volwassene geword wanneer hy sy eerste groot wildsbok, verkieslik ’n eland, gejag en doodgemaak het. Wanneer ’n meisie haar eerste maandstonde gekry het, het sy in ’n hut bo-op dierevel gesit terwyl die ander vroue buite soos elandkoeie en die mans soos elandbulle dans.

Wanneer ’n jong man met ’n vrou wou trou, het hy die vet van ’n eland se hart vir haar ouers gegee. 

Sanmense
Die eland. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waarmee hulle geteken het

Die San het met hul vingers, skerpgemaakte riete en kwaste van voëlvere geverf. Hulle het verf gemaak van ’n natuurlike klei genaamd oker wat gemeng is met sappe wat uit plante, eiers, water of bloed gepers is.

Rooi of geel oker was die gewildste omdat dit so maklik was om te verkry. Hulle het ook houtskool gebruik vir swart, en voëlmis of kaolien (’n ander soort klei) vir wit.

Het jy geweet?

Die Sanmense aanbid ’n god bekend as Kaggen, wat glo in baie verskillende vorms verskyn – meestal as ’n bidsprinkaan.

Hy was bekend as ’n poetsbakker.

Wat beteken die simbole?

Teriantrope

Die San het geglo die dansers en sjamane neem in hul beswyming die gees van ’n dier aan en word dan ’n halfdier-halfmens, oftewel teriantroop.

Genesingsritueel

Die siek persoon het op die vloer gelê met sy knieë onder hom ingevou. ’n Sjamaan het dan oor hom gebuig en die res van die groep het in ’n sirkel gedans om die “pyle” van die siekte uit te trek.

Sanmense
Teriantrope.
Sanmense
Genesingsritueel.
Sanmense
Die reëndier.
Sanmense
Die Getransformeerde sjamaan.

Die Reëndier

Die San het ’n beswyming binnegegaan om die dier te “vang” wat reën bring. Harde donderstorms is met die manlike reëndier verbind en sagte neerslae met die vroulike reëndier.

Die getransformeerde sjamaan

Namate hierdie sjamaan ’n gedaantewisseling ondergaan, het hy hoewe en vere gekry om die geestesruimte te betree.

Die ‘Rosettasteen’ van sanrotskuns

Sanmense
Die ‘Rosettasteen’ van sanrotskuns. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die uKhahlamba-Drakensbergpark in KwaZulu-Natal is ’n Wêrelderfenisgebied. In hierdie park is meer as 550 Santekeninge (waarvan ons weet). Dit word baie goed bewaar; ’n mens kan selfs die kunstenaars se kwashale sien.

Die groot tekening staan as die “Rosettasteen” van Sanrotskuns bekend omdat dit antropoloë gehelp het om die ingewikkelde simbole te verstaan wat die San geverf het – nes die regte Rosettasteen argeoloë gehelp het om die antieke Egiptenare se hiërogliewe te vertaal.