1. Zeus

Zeus was die magtigste god van almal, en baie van die mindere gode en godinne was sy kinders. Hy het die lug en die weer beheer – en kon weerligstrale gooi na enigeen wat hom kwaad gemaak het.

Zeus was bekend vir sy dwaasheid, en selfs die gode het soms teen hom in opstand gekom.

2. Hera

Hera was die godin van vroue, die huwelik en familie. Sy was ook Zeus se vrou en koningin van die gode. Sy en Zeus het agt kinders saam gehad, van wie die bekendste, Ares, god van oorlog, was. Hera is bekend vir haar jaloesie – selfs die magtige Zeus het haar drifbuie gevrees. Maar dit het nie Zeus se dwaal­oog gekeer nie, en hy het talle kinders by ander godinne en selfs by sterf­linge gehad. Die pou was haar heilige dier.

3. Apollo

Apollo was nog een van Zeus se kinders en die god van musiek, kuns, lig en medisyne. Hy was dol daaroor om die lier (’n outydse soort harp) te bespeel. Hoewel Apollo ook die mag gehad het om gesondheid en genesing te bring, kon hy en sy tweelingsuster, Artemis, ook mense met siektes en plae straf.

4. Hermes

Zeus se seun Hermes was ’n bedrywige ou. Hy was die boodskapper van die gode en ook in beheer daarvan om die dooies na die onderwêreld te lei. Hermes was bekend vir sy spoed – danksy sy gevleuelde sandale en hoed – asook sy intelligensie en wysheid.

Hy het Zeus met sy belangrike besluite gehelp. Hy is ook aanbid as die god van reisigers. Volgelinge het standbeelde van hom op kruispaaie oor antieke ­Griekeland heen opgerig om vir reisigers geluk te bring.

5. Athena

Die beeldskone Athena was die godin van wysheid, vaardigheid en oorlog. Sy was Zeus se gunstelingdogter – hy het haar selfs sy bekende weerligstraal laat gebruik!

Athena was ’n uitstekende vegter en daar is geglo sy beskerm helde in gevegte. Die Griekse hoofstad, Athene, is na haar genoem.

6. Ares

Ares was ook ’n god van oorlog, maar in teenstelling met sy halfsuster Athena was hy nie baie goed in ’n geveg nie – hy was gewelddadig en onstabiel en het gehou van doodmaak.

Die antieke Grieke het hom as ’n boelie en moeilikheidmaker beskou. Sy tweelingseuns, Deimos, die god van terreur, en Phobos, die god van vrees, het saam met hom geveg.

7. Artemis

Artemis, Apollo se tweeling­suster, was die godin van die maan en van jag. Dié diereliefhebber het verkies om in die woude saam met haar dierevriende te wandel eerder as om op die berg Olimpus te woon.

Sy was wilskragtig en ’n uitstekende boogskutter en het altyd met ’n silwerboog en -pyle gejag. Sy was ook daarvoor bekend dat sy die geselskap van gode en sterflinge vermy het.

8. Hades

Nes sy broer Poseidon het Hades, die god van die onderwêreld, nie veel erg aan die berg Olimpus gehad nie. Hy het sy koninkryk van die onderwêreld verkies waar hy met sy hond met drie koppe, Kerberos, oor die dooies regeer het.

Hades het die dood verteenwoordig. Die antieke Grieke was so bang vir hom, hulle wou nie eens sy naam sê nie.

9. Poseidon

Poseidon was Zeus se broer en god van die see, aardbewings en perde. In teenstelling met sy goddelike eweknieë het hy die grootste deel van sy tyd deurgebring weg van die berg Olimpus in die oseaan, wat hy oorheers het met sy magtige drietandvurk.

Hy het in ’n goue wa gery wat getrek is deur vreemde dierasies wat halfperd-halfslang was. Hy het ’n reputasie gehad dat hy so buie­rig en onstuimig soos die see was.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!

Het jy geweet?

Baie van wat ons van die antieke Grieke en hul gode weet, kom uit ’n epiese gedig genaamd Die Iliade wat deur die vername digter Homeros geskryf is.

Dit vertel meestal die verhaal van die laaste jaar van die Trojaanse Oorlog wat tussen die stad Troje en die Grieke geveg is en waarby selfs die gode betrokke geraak het.