Plankton is drywende plantjies (fitoplankton) en diertjies (soöplankton) in die see, mere en ander watermassas. Ons kyk na diatome. Dis ’n groot groep alge (plantjies) en die algemeenste soort fitoplankton.

Ontelbaar baie van hierdie piepklein alge kom in water voor. Die woord “diatoom” kom van die Griekse woord “diatomos”, wat “in twee gesny” beteken.

Wat is fitoplankton?

Fitoplankton is piepklein drywende plantjies wat veral in die see lewe. Hulle vorm die eerste belangrike skakel in ’n voedselketting, want die plantjies is kos vir soöplankton en vir baie klein vissies.

Groter visse eet die soöplankton en kleiner visse, en eindelik vang mense die groter visse en eet hulle. Die plankton se energie word dan ons s’n.

’n Kleurgeskandeerde elektronmikrograaf van ’n enkele diatoom (Arachnoidiscus sp.). Foto: Getty Images/ Gallo Images

Hoe lyk diatome?

’n Diatoom is ’n soort geel alg met net een selletjie. Soos ander alge het diatome nie blare, ’n stam, wortels of blomme nie, maar die sel van elke diatoom bevat wel chlorofil.

Hulle kan dus suurstof en kos vervaardig. Die selletjie se wand bevat baie silika, ’n glasagtige stof wat soos ’n doppie beskerming bied. Die diatoom self pas binne-in hierdie selwand.

’n Olieplatform ontgin die oorblyfsels van diatome wat oor miljoene jare in olie verander het. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Die een helfte van die wand pas oor die ander helfte soos ’n dekseltjie – vandaar die Griekse beskrywing dat ’n diatoom in twee gesny is. Een van die helftes het ’n spleet waardeur die diatoom stowwe uit die omgewing opneem en afskei.

Daar is baie verskillende soorte diatome in allerhande vorms. Sommige is in die vorm van ’n pilboksie, ’n naald of ’n frisbee; ander is ovaal, reghoekig of ineengeskakel in kettings.

Diatome wissel in grootte van minder as 1 tot meer as 1 000 mikrometer, maar die meeste is so tussen 10 en 100 mikrometer groot. Een mikrometer (of mikron) is ’n miljoenste van ’n meter. ’n Mens kan jou skaars voorstel hoe klein dit werklik is. Iemand het egter al bereken dat sowat 25 miljoen diatome in ’n enkele teelepel sal kan pas.

Hulle is belangrik

Wetenskaplikes stel belang in alge, veral diatome, omdat hulle ons kan wys hoe gesond die toestande in ’n ekostelsel is. Die plante en diere wat op ’n sekere plek saamleef, vorm ’n ekostelsel.

Die wetenskaplikes bestudeer die soorte diatome wat op ’n plek is en dan kan hulle byvoorbeeld aflei of daar suurreën val, of daar swaar metale in die water is en of die water gesond en produktief is.

Danksy hul selwandjie van silika – soos die glas van ’n venster – kan dooie diatome duisende jare lank in lae op die bodem van ’n meer of in die see bewaar word. Wanneer ons dié lae bestudeer, kan dit ons baie wys van hoe die ekostelsel in die verre verlede was.

Wanneer mikroskopiese alge onnatuurlik vinnig groei, kom algebloei voor, wat skadelik is vir ’n eko­stelsel, soos dié rivier in China. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Hoe leef fitoplankton?

Hulle kom naby die seeoppervlak voor omdat hulle, nes alle groen plante, sonlig kort. Hulle het ook water en voedingstowwe nodig om van te leef. Fitoplankton gebruik water en koolsuurgas om te groei, maar ander vitamiene en minerale, soos yster, is ook belangrik vir hul gesondheid.

Wanneer die see se oppervlak koud is, styg hierdie voedingstowwe uit die dieptes op en die diatome en ander fitoplankton neem dit op. Wanneer die see se oppervlak egter warm is (soos onder El Niño-toestande), kan die see nie so baie van hierdie voedingstowwe uit die dieptes laat opstyg nie en die fitoplankton vrek dan.

Dit kan groot probleme veroorsaak, want die fitoplankton is die eerste skakel van die voedselketting. Wanneer daar minder daarvan is, benadeel dit die hele voedselketting, want daar is minder kos vir die visse wat dit eet.

Die wêreld se klimaat

Sowat 90% van alle plante in die see is fitoplankton. Plante, insluitend fitoplankton, gebruik onder meer koolsuurgas om van te leef. Hoe meer fitoplankton daar is, hoe meer koolsuurgas word uit die lug gehaal.

As daar minder koolsuurgas in die lug is, word die aarde se temperatuur laer. As daar kleiner hoeveelhede fitoplankton in die see is, word die planeet se gemiddelde temperatuur dus hoër. Dit kan baie nadelige gevolge hê. Dit kan byvoorbeeld veroorsaak dat die ys aan die aarde se pole vinniger smelt. Die seevlak kan dus styg en dit kan kusstede en eilande met oorstroming bedreig.

Lugbesoedeling beïnvloed ook die osoonlaag. Hierdie beskermende lagie gas hoog in die lug rondom die aarde keer die skadelike bestraling van die son af. Wetenskaplikes glo gate in die osoonlaag laat meer van hierdie skadelike strale by die Noord- en Suidpool deur en dit laat baie soorte plankton, insluitend fitoplankton, vrek. Hulle gaan dood omdat hulle baie sensitief is vir bestraling van die son af

Het jy geweet?

Miljoene jare gelede het dierlike en plantaardige oorblyfsels – veral van diatome – ontbind en in dik lae op die seebodem en in mere opgebou. Hierdie ontbinde stowwe word organiese materiaal genoem omdat dit eens op ’n tyd geleef het. Oor duisende jare het die sand en slik bo-oor die organiese materiaal in rots verander.

Vanweë die hitte en druk op die organiese materiaal het dit mettertyd in steenkool, olie (petroleum) en aardgas verander. Ons ontgin dié energiebronne om ons moderne samelewing aan te dryf.

Fitoplankton vorm die eerste skakel in die mariene voedselketting Die piepklein plantjies (fitoplankton) word geëet deur klein diertjies (soöplankton). Die diertjies is kos vir klein vissies en diere soos garnale, wat op hul beurt kos is vir die groter visse wat ons eet.

Soöplankton. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Fitoplankton. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Klein Vissies. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Groot Visse. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Bronne: kids.britannica.com, nps.gov, ei.lehigh.edu, childrenoftheearth.org, whoi.edu, mieliestronk.com, priweb.org, Biology: The Unity and Diversity of Life by Cecie Starr, Ralph Taggart, Christine Evers & Lisa Starr (Brooks/Cole Cengage Learning)