Vandag kan ’n mens bloot op die horlosie aan jou pols of op jou selfoon loer om te kyk hoe laat dit is, maar dit het baie tyd gekos om dié toestelle te ontwikkel.

Die antieke Egiptenare was die eerstes wat draagbare toestelle ­ontwerp het om tyd te hou – omstreeks 1500 v.C. het hulle sonwysers gehad wat hulle saam met hulle kon dra om te kyk hoe laat dit is.

Maar eers ná die ontwikkeling van die meganiese klok in Middeleeuse Europa het draagbare toestelle – of horlosies – al­gemeen geraak (sien kassie links).

Die ontstaan van die polshorlosie

horlosie,jongspan,laerskool
In die Eerste Wêreldoorlog het die polshorlosie ál gewilder geraak toe Britse soldate en offisiere dit as ’n praktiese en noodsaaklike deel van hul uniform beskou het. Hierdie Britse loopgraafhorlosie het in 1916 uitgekom. Foto: Gallo Images/ Alamy

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die Engelse magte gesukkel om die Boere, wat die terrein goed geken het, te uitoorlê. Hulle moes hul aanvalle beter sinchroniseer en daarvoor moes hulle hul tyd beter bestuur.

Dit was die gebruik om sakhorlosies te dra, maar in ’n oorlog te perd of in ’n loopgraaf is dit nie prakties om telkens die sakhorlosie uit te haal nie.

Die oplossing: Maak die sakhorlosie aan die soldaat se pols vas! In die 18de eeu is polshorlosies as vroulike juweliersware beskou, maar ná die Anglo-Boereoorlog het die Britse soldate sakhorlosies in ’n groot leer­omhulsel om hul arm begin dra.

Dit was die voor­loper van die polshorlosie soos dit vandag lyk. Ook tydens die Eerste Wêreldoorlog was toegang tot die tyd met behulp van polshorlosies noodsaaklik vir soldate in loopgrawe, pantserpersoneel in hul tenks en vegvlieëniers. 

Op dié manier het mense polshorlosies met manlikheid en heldhaftigheid begin verbind, en dit het horlosies ook by gewone burgers gewild gemaak. 

In die 1960’s het die Japannese en Switserse horlosievervaardigers elektroniese horlosies begin ontwikkel wat die vibrasies van ’n kwartskristal gebruik om tyd te hou. Kort daarna het die Japannese met die massavervaardiging van akkurate en goedkoop horlosies begin.

In die 1980’s het die Switserse horlosie­bedryf begin swaarkry en het dit gelyk of die einde in sig is vir meganiese horlosies. Pols­horlosies het egter weer mode geword toe ryk sakemanne duur horlosies as ’n statussimbool begin koop en dra het. Dit het die mark weer ’n inspuiting gegee. 

Hedendaagse horlosies

horlosie,tegnologie
Die bekendstelling van die slimhorlosie was ’n belangrike gebeurtenis. Foto: Gallo images/ Getty Images

Deesdae is Switserland die bekendste vervaardiger van duur horlosies van gehalte, maar met die era van slimfone het die behoefte aan horlosies afgeneem. 

Hoewel duur horlosies steeds baie goed verkoop, maak veral jong mense nie meer van ’n polshorlosie gebruik om te kyk hoe laat dit is nie, maar van hul selfoon se horlosie. 

Iets wat wel baie gewild is, is slimpolshorlosies soos dié van Apple en Sam­sung. Gesinchroniseerde elektronika speel die hoofrol in die maak daarvan. En dit doen soveel meer as net om te wys hoe laat dit is – dis behoorlik ’n rekenaar aan jou pols! 

Sentralisering

tydsonegrense
Tydsonegrense is om politieke redes en vir gerief nie reg­uit vertikale lyne nie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit is noodsaaklik dat die wêreld ’n standaardtydmeting volg. Met inter­nasionale vlugte en internasionale maat­skappye wat 24 uur per dag sake doen, sport­vertonings wat wêreldwyd uitgesaai word en reuseborgskappe wat daaraan gekoppel is, moet ’n vorm van orde gehandhaaf word. 

Op 1 Oktober 1884 het die Amerikaanse kongres ’n vergadering in Washington belê met rolspelers uit alle lande. Brittanje was in daardie stadium die toonaangewende vlootmoondheid met verskeie skepe wat sy vlootsterrewag by Greenwich in Engeland vir navigasie gebruik het. 

Gevolglik is ooreengekom dat hierdie punt op die aardbol as standaardverwysing gebruik sou word. 

Die denkbeeldige lyn wat hierdeur gaan, staan bekend as die nulmeridiaan en verdeel die aarde in tyd­sones na wes en oos. Ná elke 15 grade word een uur bygetel. 

Die standaardtyd staan bekend as Greenwichtyd oftewel Greenwich Mean Time (GMT) en in Suid-Afrika word twee uur by GMT getel om ons plaaslike tyd te kry. 

Horlosietydlyn
  • Die eerste klokmakers in Europa was monnike wat met water­klokke by hul skedules gehou het. Volgens oorlewering het pous Sylvester II in die 11de eeu die eerste klok gebou. 
  • In die 14de eeu het die gebruik van klok­horlosies gewild geraak, veral in die torings van kerke en katedrale. Hulle het met gewigte en ’n ratstelsel gewerk. In 1370 het die Franse koning Karel V ene Henri de Vic van Lotaringe na Parys ontbied om vir hom ’n toringhorlosie te maak. Die horlosie het net een wyser gehad en met vallende gewigte gewerk. 
  • Peter Henlein (1485–1542) van Neurenberg, Duitsland, word beskou as die mens wat die eerste horlosies met veermeganismes gemaak het. Dit het dit moontlik gemaak vir die horlosies om 40 uur lank te loop voor hulle weer opgewen moes word.
  • In 1675 het die Engelsman Robert Hooke en die Nederlander Christiaan Huygens afsonderlik dieselfde ding uitgevind:  die pendule of slingerklok. Dit was baie akkurater as enige vorige klok. Die minuutwyser is toe ná 1680 bygevoeg. Dié horlosies is aan klere vasgemaak, aan kettings om die nek gedra en later in ’n jas se sak.
  • Party glo die Fransman Abraham-Louis Breguet het in 1810 die eerste polshorlosie 
    vir die koningin van Napels gemaak. Dis ook aangeteken dat Brittanje se koningin Elizabeth I ’n “armhorlosie” by Robert Dudley gekry het. Rolex, die bekende horlosievervaardiger, gee 1945 aan as die jaar waarin die eerste datum­aanduiding wat outo­maties verander op die wyserplaat gebruik is.
    Die eerste batteryaangedrewe polshorlosie is in 1957 deur die Hamilton Watch Company gemaak, en in 1960 is die eerste elektroniese horlosie deur Bulova bekend­gestel.
  • In 1972 het die Hamilton Watch Company die eerste ten volle elektroniese polshorlosie met ’n digitale gesig bekendgestel.
  • Rondom die jaar 2000 was die bekendstelling van die slimhorlosie ’n belangrike gebeurtenis. Met dié gerekenariseerde polshorlosie kan jy ook e-posse en teksboodskappe stuur.
In die 14de eeu het die gebruik van klok­horlosies gewild geraak, veral in die torings van kerke en katedrale. Foto: Gallo Images/ Alamy
In 1675 het die Engelsman Robert Hooke en die Nederlander Christiaan Huygens afsonderlik dieselfde ding uitgevind: die pendule of slingerklok. Foto: Gallo Images. Alamy
Party glo die Fransman Abraham-Louis Breguet het in 1810 die eerste polshorlosie vir die koningin van Napels gemaak. Foto: Gallo Images/ Alamy
Volgens Rolex is 1945 die jaar waarin die eerste datum­aanduiding wat outo­maties verander op die wyserplaat gebruik is. Foto: Gallo Images/ Alamy
Die eerste batteryaangedrewe polshorlosie is in 1957 deur die Hamilton Watch Company gemaak. Foto: Gallo Images/ Alamy
horlosie,tyd
In 1972 het die Hamilton Watch Company die eerste ten volle elektroniese polshorlosie met ’n digitale gesig bekendgestel. Foto: Gallo Images/ Alamy
Bronne: nytimes.com, af.wikipedia.org, wol.jw.org, work.chron.com, thetrendspotter.net, theatlantic.com, mieliestronk.com, press.uchicago.edu, anordain.com, britannica.com, breguet.com, watchtime.com, thoughtco.com, historyofwatch.com, timeanddate.com, rmg.co.uk, explainthatstuff.com, forbes.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!