Die Westerse kuns is baie aan die antieke Grieke verskuldig. Die kunswerke en idees van die ou Grieke was van so ’n goeie gehalte dat dit tot vandag toe ’n invloed op die Westerse beskawing uitoefen.

Die Romeine het in die antieke tye so ’n groot bewondering vir die Griekse kuns gehad dat hulle dit nagemaak het. Die kuns van die Middeleeue het veral Bybelse temas bevat en was bedoel om vermanend te wees. Dit het die realisme van die Griekse kuns verloor.

Die Renaissance-kunstenaars het ná die Middeleeue begeester geraak deur die werke van die ou Grieke en vir ’n oplewing van die Westerse kuns gesorg.

Klassieke Oudheid

’n Toneel wat op ’n amfoor (’n antieke Griekse kru
’n Toneel wat op ’n amfoor (’n antieke Griekse kruik) geskilder en in Athene gevind is, dateer uit die sesde eeu. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die antieke Grieke is nou nog bekend vir die volmaaktheid wat hulle in hul kuns nagestreef het. Ongelukkig het baie van hul kuns verlore gegaan. Daar het nie baie skilderye oorgebly nie omdat daar op mure of hout geskilder is. Dié mure het verkrummel en die hout het vergaan.

Het jy geweet?
Baie standbeelde was in antieke tye helder geverf en die klip is aangevul met elemente wat onder meer van metaal en ivoor gemaak is.

Maar die ou Grieke het ook op pottebakkerswerk geskilder en meer daarvan het vir ons bewaar gebly. Dit behels veral vase met swart en later ook rooi figure daarop geskilder. Ander kunsuitdrukkings van die ou Grieke behels beeldhouwerk en argitektuur.

Antieke boukuns

In antieke Griekeland was kuns en argitektuur (boukuns) onskeibaar van mekaar. Die argitek en kunstenaar was dikwels dieselfde mens. Een manier om kunstigheid aan geboue ten toon te stel was deur gestileerde suile (pilare). Die drie hoofsoorte was die Doriese, Ioniese en Korintiese styl.

’n Doriese suil. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Doriese suil. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Ioniese suil. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Ioniese suil. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Korintiese suil. Foto: Gallo Images/Getty Image
’n Korintiese suil. Foto: Gallo Images/Getty Images

Eenvoudige Doriese suile het eerste ontwikkel, die Ioniese suile was die dunste van die drie, en die swierige Korintiese suile is vir die spoggerigste geboue gebruik.

Hierdie soort suile word al die afgelope 2 500 jaar in die Westerse boukuns gebruik.

Beeldhoukuns

’n Kouros (“jong man”; meervoud kouroi) met die ar
’n Kouros (“jong man”; meervoud kouroi) met die arms langs die sye en die kenmerkende “Argaïese glimlag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Grieke het die beeldhoukuns vervolmaak; hulle wou volmaaktheid in hul kuns uitbeeld. Hulle het lewensgetroue beelde van byna perfekte mense geskep. Anders as die Romeine het die Grieke gewoonlik geen onvolmaaktheid in hul beelde gewys nie.

Tydperke in Griekse kuns

In die lang geskiedenis van die antieke Griekse beskawing word drie kunstydperke onderskei.

Die Argaïese periode

In die Argaïese periode (agtste eeu voor Christus tot 480 v.C.) het die kunsuitdrukking meer naturalisties geword. Geometriese patrone op potte is deur menslike figure vervang.

Beelde is met die regte proporsies geskep. Beelde van mans is kouroi genoem en dié van vroue is korai. Die beelde het ’n soortgelyke voorkoms gehad van mense wat styf regop staan met hul arms teen hul sy.

Die klassieke tydperk

In die Klassieke tydperk (510 v.C. tot 323 v.C.) is die kuns verfyn en word beelde minder rigied gemaak – hulle beeld selfs aksietonele uit. Kunstenaars het die anatomie bestudeer om mense en diere meer realisties uit te beeld.

Onder die bekendste werke uit dié tyd is Fidias (Phidias) se Zeusstandbeeld van Olimpia en die Athena Parthenos.

Die Hellenistiese tydperk

Die Hellenistiese tydperk (323 v.C tot 31 v.C.) het begin ná die dood van Alexander die Grote, wat groot dele van Asië verower het. Die Grieke se kunswerke is beïnvloed deur die kulture wat deur hulle onderwerp is. In hierdie tydperk het meer vroue, kinders en gewone mense (eerder as konings en gode) in die Griekse kuns verskyn.

Bekende werke sluit Afrodite van Milos (bekend as Venus de Milo) en die Sterwende Galliër in. ’n Groot innovering van dié tydperk was om emosie deur die beeldhoukuns oor te dra.

Middeleeuse kuns

Die Middeleeue in Europa was ’n tydperk van sowat 1 000 jaar wat ná die Oudheid in die vyfde eeu aangebreek en tot die Renaissance of hergeboorte van klassieke kennis in die 15de eeu gestrek het. Kuns in die Middeleeue moes die mens aan die hiernamaals herinner. Die kultuur was teosentries. Dit beteken alles het om God en die kerk gewentel.

Die kerk het die antieke wêreld se tradisies en kennis verwerp. Middeleeuse kunstenaars het naamloos gebly. Die kloosters van die Middeleeue het nietemin die bewaarders van die kuns, kennis en kultuur van die Oudheid geword.

Die kuns van die Middeleeue is nie realisties nie. Dis star en styf en onkundig oor die anatomie. Gesigte lyk gewoonlik uitdrukkingloos en figure het donker omtreklyne. Bont kleure, dikwels met ’n simboliese betekenis, word gebruik. Ruimtelik is die skilderye eenvoudig. Daar is dikwels ’n vlak agtergrond, en skaduwees ontbreek. Eers aan die einde van die Middeleeue het kunstenaars weer na die werklikheid begin kyk om dit in hul kuns weer te gee.

Daar was drie belangrike kunsstyle in die Middeleeue: die Bisantynse, Romaanse en Gotiese kuns. Die soorte kuns wat beoefen is, sluit skilderye, beeldhouwerk, metaalwerk, graveerkuns, manuskripte en brandskilderglas in.

Die Bisantynse styl

Die Bisantynse styl verwys na die kuns van die Bisantynse Ryk (vandag Turkye) wat in die 15de eeu tot niet gegaan het. Die kuns is veral in kerke gebruik vir religieuse mosaïeke, fresko’s (muurskilderye) en ikone.

Dié voorbeeld van sesde-eeuse Bisantynse kuns wys
Dié voorbeeld van sesde-eeuse Bisantynse kuns wys meer abstrakte en simboliese eienskappe. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Romaanse tydperk

Die Romaanse tydperk het van sowat die jaar 1 000 tot die opkoms van die Gotiese styl in die 12de eeu geduur. Die term verwys veral na die argitektuur wat talle kenmerke van die Romeinse boukuns bevat het, waaronder ronde boë. Die kuns het ook uitgekerfde reliëfs, brandskilderglas, groot muurskilderye en gewelfde plafonne in die kerke ingesluit.

Die Gotiese kuns

Die Gotiese kuns het helderder kleure asook dimensies en perspektief ingespan. Dit het weer na realisme begin beweeg. Skaduwee en lig het belangrik geword en nuwe temas soos diere en mitologiese tonele het weer tot hul reg gekom.

Baie kunstenaars het bekend geword, soos Donatello, Giotto, Cimabue en Ambrogio Lorenzetti.

Renaissance 

Hierdie tydperk in die Europese kunsgeskiedenis het rondom 1300 begin en in die 1500’s geëindig met die aanbreek van die moderne era. Renaissance beteken “hergeboorte” in Frans en gaan gepaard met nuwe belangstelling in antieke Griekse en Romeinse skeppings. Die kunstenaars van die Renaissance het idees van die Oudheid gebruik en dit verder ontwikkel.

Die Kerk het sy mag begin inboet, terwyl individuele Europese state sterker geword het. Mense kon toe ook vryer begin dink, praat en skep.

Van die grootste Renaissance-kunstenaars het in Florence en ander Italiaanse stede gewerk. Die Medici-familie, wat in Florence aan die bewind was, het deur die eeue as opdraggewers aan kunstenaars ’n fortuin bestee om geboue te laat oprig en standbeelde en skilderye te skep.

Leonardo da Vinci (1452-1519) is een van die belangrikste kunstenaars en skeppers van die Renaissance. Hy het twee van die wêreld se belangrikste kunswerke geskilder – die Mona Lisa en Die laaste avondmaal. Hy het onder meer ook standbeelde geskep en wapens ontwerp. Hy het selfs planne vir ’n soort helikopter geteken.

Die Mona Lisa is ’n meesterstuk deur die Renaissan
Die Mona Lisa is ’n meesterstuk deur die Renaissance-kunstenaar Leonardo da Vinci. Foto: Gallo Images/Getty Images

Michelangelo (1474-1564) en Raphael (1483-1520) was ook belangrike kunstenaars van hierdie tydperk. Hulle is daarvoor bekend dat hulle godsdienstige figure geskilder het, maar realistiese, menslike eienskappe daaraan gegee het. 

Teks: Cum Laude Media; Bronne: khanacademy.org, avvyleo.com, britannica.com, hlz.nl, theartstory.org, wikipedia.org

Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by klaskamer.huisgenoot.com aflaai.