Die Middellandse See is met die Atlantiese Oseaan verbind. Die see skei drie vastelande, Europa, Asië en Afrika, van mekaar. Dit word hoofsaaklik deur lande omring en is dus ’n binnelandse see. Die see skep ’n kenmerkende klimaat vir die gebiede daarrondom.

Die klimaat word genoem die Mediterreense of Middellandse See-klimaat, wat warm en droë somers en winterreën voortbring. Die seelewe in die Middellandse See is nie so volop soos elders in die oseaan nie as gevolg van die betreklik hoë soutinhoud van die water. Ons leer jou oor vier lande in Suid-Europa: Elkeen het ’n ryke geskiedenis en interessante kultuur.

Spanje

Spanje lê in die suidweste van Europa en het byna 50 miljoen inwoners. Sy hoofstad, Madrid, het ’n bevolking van meer as 6 miljoen mense in sy metropolitaanse gebied. Spanje is veral bekend vir sy bulgevegte. Daar is elke jaar tussen 6 en 14 Julie tydens die San Fermín-fees ook bulrenne wat in die strate van die stad Pamplona plaasvind. Mense van oor die wêreld woon die bulrenne by waar ’n klomp bulle in die strate van Pamplona losgelaat word.

Van Spanje se dorpe en stede is die oudstes in Europa. Die hawestad Barcelona is bekend vir sy kuns en argitektuur. Met sy warm somers en strande is Spanje jaarliks ’n vakansieopsie vir baie besoekers. Byna alle Spanjaarde kan die amptelike taal, Kastiliaanse Spaans, as eerste of tweede taal praat. Byna ’n vyfde van die burgers praat ook Katalaans as eer- ste of tweede taal, meestal in die noordoostelike kusstreek.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Park Güell in Barcelona, Spanje, is deur die beroemde argitek Antoni Gaudí ontwerp. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is ook ander kleiner taalgroepe soos die Baske en Galisiërs met hul eie taal. Spanje het die derde meeste Unesco-wêrelderfenisgebiede (48). Net China (55) en Italië (55) het meer. Van die bekendstes sluit in die Altamira-grotte waar prehistoriese rotstekeninge gevind is en die Alhambra-vesting wat deur die More gebou is.

Griekeland

Griekeland is ’n bergagtige land met bergreekse wat in die Middellandse See uitloop in die vorm van eilande. Amper 11 miljoen mense woon in die geskiedkundige Griekeland. Die Grieke het belangrike bydraes op die terreine van die kunste, wiskunde, sterrekunde, medisyne en filosofie gelewer.

Ken jy die name Sokrates, Plato en Aristoteles? Hulle was belangrike mense in die tyd voor Christus en het tot vandag toe ’n groot invloed op die mens se denke asook op die letterkunde. Griekeland is ryk aan mites (oeroue volksverhale). Deur die vertel van volksverhale oor gode en helde het die Grieke duisende jare gelede probeer om sin te maak van daaglikse gebeure.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Griekse filosoof Sokrates het antieke en moderne filosofie ingrypend beïnvloed. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat ons vandag as seisoene, droogtes of vloede verstaan, was in daardie tyd nie duidelik nie en die Grieke het stories vertel om hierdie natuurlike verskynsels te probeer verstaan. ’n Bekende berg wat in verskeie volksverhale genoem word, is die berg Olimpus.

Die Grieke het geglo dit is die woonplek van hul baie gode. Die berg het 52 bergpieke. Die hoogste piek is Mýtikas, wat neus beteken. In Griekeland praat 99% van die inwoners Grieks as ’n eerste of tweede taal. Daar is ook groepe wat onder meer Turks, Albanies en Aramees praat. Dié land het 18 Unesco-wêrelderfenisgebiede, waaronder die Akropolis in Athene, die kloosters in Meteora en die tempel by Delfi.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Middellandse See word deur lande omring en is dus ’n binneland- se see. Foto: Gallo Images/Getty Images

Italië

Italië is ’n land wat soos ’n groot stewel lyk op ’n kaart. Dit is in die suide van Europa en die hoofstad is Rome. Die Italiaanse kultuur bestaan uit ’n verskeidenheid eiesoortige kuns-, musiek- en kossoorte. Kaas en pasta is veral ’n gunsteling onder die Italiaanse bevolking van sowat 60 miljoen mense. Wêreldbekende geboue kom in dié land voor en maak deel uit van Italië se 55 Unesco-wêrelderfenisgebiede.

Een van dié gebiede is Rome se geskiedkundige middestad, met geboue soos die Colosseum, ’n eeue oue amfiteater, asook die Sint Pieterskerk, wat tegnies gesproke voorkom in die onafhanklike kerklike staat bekend as die Vatikaanstad. Al gehoor van die Skewe Toring van Pisa? Dit is ’n hoë gebou in die stad Pisa wat teen sowat 4 grade na die een kant toe oorhel.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is veral Italië se kusgebiede wat reisigers lok. Veral die weskus en die eilande Sicilië en Sardinië. Italië het drie aktiewe vulkane. Vesu- vius is by die stad Napels aan die weskus, Stromboli is op ’n gelyknamige eiland, en die vulkaan Etna is Europa se grootste aktiewe vulkaan en hou ’n bedreiging vir dorpe in Sicilië in.

Onaktiewe vulkane sluit onder meer in Larderello, Pantelleria, Vulcano en Vulsini. Italiaans is die amptelike taal in Italië. Daar word ook in sekere grensgebiede onder meer Duits, Frans en Sloweens gepraat.

Turkye

Turkye is ’n land van verskeidenheid. ’n Klein stukkie van die land is in die suidooste van Europa, maar dit is grotendeels in die suidweste van Asië geleë. Dit is die tuiste van meer as 83 miljoen inwoners. Meer as een uit vyf van hierdie bevolking woon in Istanbul, wat dit die land se grootste stad maak, al is Ankara die hoofstad.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Hagia Sophia (uitgespreek “Aia Sofia“), eens ’n katedraal en later ’n moskee, is ’n museum in Istanbul. Dis in 537 gebou – toe die wêreld se grootste gebou. Foto: Gallo Images/Getty Images

Istanbul is ook die enigste stad ter wêreld wat op twee verskillende vastelande, Europa en Asië, gebou is. Soos Griekeland het Turkye 18 gebiede wat tot Unesco-wêrelderfenisgebiede verklaar is.

Een so ’n gebied is die terrein waar opgrawings gedoen is vir die bekende stad Troje, wat meer as 3 000 jaar gelede in die Trojaanse Oorlog verwoes is. Dié oorlog het byna 10 jaar geduur. Turkye is vanweë sy strategiese posisie op ou handelsroetes ’n land wat ryk is aan kultuur en tradisies.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Turkse lekkers word saam met sterk koffie voorgesit. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kos en maaltye is ’n belangrike deel van die Turkse samelewing. Ontbyt is die belangrikste ete van die dag en sluit gewoonlik komkommers, eiers, tamaties, olywe en brood in. Brood is ’n stapelvoedsel in die land, en sommige Turke sal selfs weier om by ’n tafel aan te sit wat nie brood het nie.

In Turkye is die amptelike taal Turks. ’n Groot aantal mense praat ook Koerdies, terwyl daar ook ’n aantal kleiner tale is wat in die land gebruik word.Het jy geweet? Wat is ’n Wêrelderfenisgebied van Unesco? Unesco is die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie.

Het jy geweet?

’n Wêrelderfenisgebied is ’n spesifieke plek soos ’n bergreeks, meer, woestyn, gebou of stad wat vir die Internasionale Wêrelderfenisprogram geïdentifiseer is en word deur Unesco bestuur.

Sulke plekke word deur Unesco ondersteun om dit te bewaar.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: cia.gov, livescience.com, donquijote.org, khanacademy.org, everyculture.com, turkeyhomes.com, britannica.com, wol.jw.org, nl.wikipedia.org, europeupclose.com, theculturetrip.com, whc.unesco.org