Julle het seker al met vakansie iewers heen gereis en nuwe plekke ontdek. Dis lekker om ’n toeris te wees, maar toerisme is ook nuttig vir die land of streek wat besoek word. Alle toeriste is altyd welkom omdat hulle die ekonomie ’n hupstoot gee met die geld wat hulle tydens hul verblyf uitgee.

Toerisme skep werk

Volgens ’n jaarlikse oorsig van die World Travel & Tourism Council (WTTC) het reisigers en toeriste in 2018 gehelp om vir 1,5 miljoen mense in Suid-Afrika werk te skep.

Hierdie toerisme het ook R425,8 miljard bygedra tot die ekonomie. Die WTTC sê sowat 44% van die geld wat uitgegee is, kom van internasionale besoekers en 56% van plaaslike reisigers.

Dit is dus goed dat Suid-Afrikaners in hul eie land reis en in ander gebiede oorbly.

In die vorige artikel het ons na ’n paar interessante besienswaardighede in die provinsies van die Noord-Kaap, Limpopo, Gauteng en die Oos-Kaap gekyk.

Kom ons vind uit wat die res van die land se provinsies ons bied.

KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal (KZN) is die sewende grootste provinsie met die tweede grootste be­volking.

Die hoofstad is Pietermaritzburg, maar die grootste stad is Durban, wat spog met goue strande en ’n besige promenade. uShaka Marine World, wat die vyfde grootste akwarium ter wêreld insluit, en die Mini Town – ’n klein weergawe van Durban – is gewoonlik op besoekers se agenda.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

KZN se uKhahlamba-Drakensbergpark met sy ­hoë pieke en San-rotstekeninge is ’n Unesco-­wêrelderfenisterrein. By die Konin­klike Natalse Nasionale Park se Drakensberg-­amfiteater – kranswande wat vir 5 km strek – stort die wêreld se tweede langste waterval, die Tugelawaterval, na benede.

Dit is iets wat stappers se asem sal wegslaan. Jy kan die Groot Vyf ook in die Hluhluwe-­iMfo­lozi­park, Afrika se oudste geproklameer­de wildtuin (1895), sien. En aan die kus is daar die iSimanga­liso-­vleiland­park, ook ’n Unesco-­wêrelderfenisgebied, asook die koraal­­riwwe van Sodwana.

Vrystaat

Die Vrystaat is Suid-Afrika se derde grootste provinsie en Bloemfontein is die hoofstad. Daar is talle museums in die Rosestad (soos Bloemfontein ook bekend staan), wat die Nasionale Museum en die Oorlogmuseum van die Boererepublieke insluit.

Naval Hill met sy panoramiese uitsig is in die hartjie van die stad in die Franklin-­natuurreservaat geleë.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Aan die buitewyke van die stad is die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin met meer as 400 plantspesies. In die noordooste van die provinsie is die Golden Gate-Hoogland Nasionale Park, wat ook ’n verskeidenheid soogdiere en voëls bevat.

Die park kry sy naam van die merkwaardige goudkleurige sandsteenkranse.Die Vredefortkoepel, ’n Unesco-wêrelderfenisterrein, is na die gelyknamige dorp genoem. Dis die oudste en grootste meteorietkrater op Aarde.

Dis van geologiese belang. Die grootste toeristedorp naby die sentrum van die koepel is Parys.Die Gariepdam in die Oranjerivier in die suide van die provinsie is die grootste studam in die land.

Dit is ’n gewilde toeristebestemming vir diegene wat langs die water wil kampeer of in chalets bly, en watersport of hengel wil beoefen.

Noordwes

Die sesde grootste provinsie, Noordwes, is ’n sonnige plek met talle wildlewe- en kulturele bestemmings. Die provinsiale hoofstad, Mahikeng, het ’n groot rol gespeel in die Anglo-Boereoorlog toe die Boere die Britte vir 217 dae beleër het.

Die Sun City-ontspanningsoord is een van die bekendste bestemmings vir besoekers in Noordwes. Dit sluit aktiwiteite soos dobbel, gholf, groot optredes en ’n kunsmatige strand, die Valley of Waves, in.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

By die nabygeleë Pilanesberg Nasionale Park kan ’n mens die Groot Vyf gaan soek – die leeu, olifant, luiperd, buffel en renoster. 

Die Hartbeespoortdam oftewel Harties is veral oor naweke gewild onder besoekers van Gauteng. Ritte om die dam, watersport, staproetes, uiteet en selfs warmlugballonritte is van die lekker dinge wat jy daar kan doen.

Die pragtige Magaliesberg-streek is ook gewild.

Mpumalanga

Hierdie provinsie in die ooste van die land is die agtste grootste van die nege provinsies. Mpumalanga beteken “plek waar die son opkom”. Die provinsiale hoofstad, Mbombela, is ’n deur­­gangpunt vir besoekers aan die Krugerwildtuin, eSwatini (die nuwe naam vir Swaziland) en Mosambiek.Die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin is net buite hierdie subtropiese stad geleë.

Daar is genoeg water sodat die tuin met meer as 2 000 plantspesies regdeur die jaar groen bly. Die Sudwalagrotte, sowat 35 km buite Mbombela, is die oudste in die wêreld en het sowat 240 miljoen jaar gelede ontstaan.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

 Dullstroom is een van die koudste dorpe in die land. Danksy die forel in die helder strome is dit ook ’n geliefde bestemming van kunsvlieghengelaars. Staproetes, voëlkyk en perdry is ander aktiwitei­te wat jy hier kan beoefen.

In Mpumalanga is daar iets byna soos die Tuinroete – dit word die Panoramaroete genoem.

Dis ’n rit deur skilderagtige tonele wat die Blyderiviercanyon, watervalle, berge en ou dorpe soos Ly­den­burg, Ohrigstad, Hazyview en die mu­seumdorp Pelgrimsrus insluit.

By God’s Window kan ’n mens op ’n mooi dag tot in die Kruger­wildtuin of selfs Mosambiek sien. 

Wes-Kaap

Die Wes-Kaap is die vierde grootste provinsie in Suid-Afrika en spog met pragtige ou dorpe, veral in die Boland. Die geboue in die Kaaps-Hollandse styl word vereenselwig met ynplase en wynroetes.

Die gebied in die Berg- en Breedriviervallei strek van Stellenbosch, Franschhoek en Worcester tot by Tulbagh en staan ook as die Kaapse Wynland bekend.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Die provinsie se hoofstad, Kaapstad, is gewild onder besoekers danksy Tafelberg met sy kabelkarretjie, Robbeneiland met sy belangrike geskiedenis, die pragtige stran­de, museums en al die lekker kuier- en eetplekke.

Die Tafelberg Nasionale Park en Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin is groot trekpleisters met hul enorme ver­skei­denheid plante, voëls en diere. 

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Daar is interessante dorpe aan die suidkus, soos Hermanus, waar jy walvisse naby die kus kan sien. Hermanus hou juis hieroor elke September ’n Walvisfees. Waar Hermanus met walvisse vereenselwig word, is Oudtshoorn in die Klein-Karoo weer die volstruisdorp.

Oudtshoorn spog ook met die Kangogrotte, waar jy ondergronds kan gaan rondloop.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

In die Groot-Karoo by Beaufort-Wes doen baie toeriste by die Karoo Nasionale Park aan. 

Die Tuinroete is ’n pragtige pad met asemrowende berge, valleie, mere en groen inheemse woude langs die Kaapse suidkus. Dit sluit plekke in soos  Mosselbaai, George, Knysna en Plettenbergbaai. Die roete eindig naby die Tsitsikamma Nasionale Park.

 Die Weskus hou sy eie bekoring in met vissersdorpies soos Paternoster en Langebaan met sy mooi strandmeer. Hier aan die Weskus en in die Cederbergstreek ontplof die landskap vanaf Julie tot September in plate veldblomme so ver as die oog kan sien. Baie toeriste kom in die lente om dit te aanskou.

Die Kaapse Floraryk is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied wat plantliefhebbers van heinde en verre lok. Op Tafelberg in Kaapstad alleen is daar meer plantsoorte as byvoorbeeld in die hele Brittanje!
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy
Bronne: Fin24.com, suninternational.com, places.co.za, travelstart.co.za, planetware.com, portfoliocollection.com/travel-blog, firstcarrental.co.za, wikipedia.org