Jy het al van die aalwyn geleer en die voordele wat dit vir ons vel en gesondheid inhou, maar dié plant is glad nie die enigste een met medisinale eienskappe nie.

Suid-Afrika het meer as 100 verskillende medisinale plante wat vir alles van koors en hoofpyn tot wonde en selfs gewigsverlies help. Ons kyk na van ons land se helende flora.

Onthou!

Terwyl baie van dié plante helende eienskappe het, is dit altyd die beste om jou dokter te besoek wanneer jy siek is en die medisyne te drink wat hulle vir jou voorskryf.

Moenie enige van dié plantmiddels gebruik sonder om eers met ’n dokter te praat nie.

Boegoe (Agathosma betulina)

Boegoe. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waar groei dit? Boegoe kom in verskeie dele van die Wes-Kaap voor.

Watter deel word gebruik? Die blare word gewoonlik as ’n tee gekook, maar kan ook in asyn geweek word om aan wonde te gebruik.

Wat behandel dit? Dit behandel wonde, verminder inflammasie, behandel nier- en urienweginfeksies en kan as ’n maagtonikum gebruik word.

Boegoe kom in verskeie dele van die Wes-Kaap voor.
Het jy geweet?
Boegoe is in die 1700’s die eerste keer in Europa gedrink en het daar as die “adel se tee” bekend geraak, want net die skatrykes kon dit bekostig.


Wildeals (Artemisia afra)

Wildeals. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waar groei dit? Dit kom oral in Suid-Afrika buiten die Noord-Kaap en Gauteng voor.

Watter deel word gebruik? Die steel, blare en blomme.

Wat behandel dit? Dit word gebruik vir ’n groot verskeidenheid kwale soos verkoue, koors, asma, oorpyn, slegte spysvertering, maagontsteking, jig en selfs masels.

Dit kom oral in Suid-Afrika buiten die Noord-Kaap en Gauteng voor.
Het jy geweet?
Wanneer dit met appelsiderasyn gemeng word, is dié plant ’n insekdoder.


Wildeknoffel (Allium ursinum)

Wildeknoffel. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waar groei dit? Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo.

Watter deel word gebruik? Die blare en knolle kan rou of gaar geëet word of in kookwater fyngedruk word.

Wat behandel dit? Dit kan bloeddruk en cholesterol verlaag en spysvertering aanhelp. Dit word ook gebruik om diarree, asma, bronchitis, artritis en infeksies te behandel.

Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo.
Het jy geweet?
Wildeknoffel kan gebruik word om katte te verdryf – mits jy nie omgee dat jou huis sleg ruik nie.


Kooigoed (Helichrysum petiolare)

Waar groei dit? Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Vrystaat en Oos-Kaap.

Watter deel word gebruik? Takkies en blare word gebrand sodat die walms ingeasem kan word.

Wat behandel dit? Dit kan vir hoes, verkoue, asma en bloeddrukprobleme gebruik word. Dit kan ook aan wonde gebruik en ingeasem word om pyn te verlig.

Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Vrystaat en Oos-Kaap.
Het jy geweet?
As gevolg van sy sterk geur verdryf kooigoed wildsbokke en ander weidiere.


Moringaboom (Moringa oleifera)

Moringaboom. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waar groei dit? Limpopo, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Watter deel word gebruik? Die blare word uitgedroog en tot poeier gemaal wat saam met water gedrink word.

Wat behandel dit? Hoofpyn, wonde, insekbyte, swere, diarree, gewrigspyn, lewer- en miltprobleme, skilfers en vratte.

Limpopo, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Gauteng.
Het jy geweet?
Die plant staan in Engels as ’n “drumstick tree” bekend as gevolg van die vorm van sy vrug. Die saadpeule lyk baie soos die stokke wat tromspelers op hul instrumente gebruik.


Ghaap (Hoodia gordonii)

Ghaap. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Waar groei dit? Namibië, Noord- en Wes-Kaap.

Watter deel word gebruik? Die Sanmense het aan ’n stuk van die blare of steel gekou, maar deesdae word die plant afgebreek om as ’n bestanddeel in allerhande soorte aanvullings gebruik te word.

Wat behandel dit? Dit word as ’n hulpmiddel tot gewigsverlies en opbeurmiddel gebruik.

Namibië, Noord- en Wes-Kaap.
Het jy geweet?
Die plant kan jou eetlus help onderdruk, ’n truuk wat die Sanmense al duisende jare lank gebruik om op hul lang reise die hongerpyne te bestry. 

Bronne: Brandsouthafrica.com, Takingcharge.csh.umn.edu, Webmd.com, Pza.sanbi.org, Africanaromatics.com, Drugs.com, Kumbulanursery.co.za, Daff.gov.za