Die fyn insek wat net ’n breukdeel van ’n gram weeg, ken ons uit aan die aanhoudende zoemgeluid wat jou gou-gou kan laat jeuk en krap. Die wêreld se meer as 3 000 muskietspesies kan talle siektes aan mens en dier oordra.

Boonop is dié klein insek jaarliks vir miljoene sterftes verantwoordelik. Hoewel die muskiet na ’n regte booswig klink, speel dié insek tog ’n belangrike rol in die ekostelsel.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Muskiete wat malaria dra, word aangetref in die gebiede wat in rooi op die kaart hier onder gemerk is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Waar kom muskiete oral voor?

Muskiete word oral in die wêreld aangetref behalwe in Antarktika. Hulle benodig hoofsaaklik water om te kan voortbestaan. Die soort water wissel van stilstaande waterpoele en vars vloedwater tot moerasse en riviere.

Maar al die muskietspesies kom nie in een gebied voor nie. Lande, provinsies en streke beskik oor verskillende muskietsoorte wat in grootte verskil en ook verskillende siektes en parasiete met hulle saamdra.

Muskietsoorte

Muskiete behoort tot die familie Culicidae en word in drie groepe verdeel: die Anophelinae, Culicinae en Toxorhynchitinae. Elke soort wissel in grootte van 3 tot 19 mm.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die gewone huismuskiet, Culex, dra die Wesnylvirus en voëlmalaria oor. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Aedes-soort dra die geelkoors-, slenkdalkoors- en Zikavirus oor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Van die sowat 3 500 muskietspesies oor die wêreld word nagenoeg 800 in Afrika en 100 in Suid-Afrika aangetref, waarvan drie soorte hoofsaaklik vir die verspreiding van menslike siektes verantwoordelik is.

Dit is die Anopheles-, Aedes- en Culex-soort. Die Anopheles-soort is die draer van malaria, terwyl die Aedes-soort onder meer geelkoors aan mens en dier oordra. Die Culex-soort is die gewone huismuskiet en die draer van die Wesnylvirus en voëlmalaria.

Lewensiklus

Die lewensiklus van alle muskiete bestaan uit vier fases: die eier-, larwe-, papie- en volwasse fase. ’n Muskietwyfie lê gewoonlik sowat 100 eiers op ’n keer op oop water, maar kan tot 500 eiers lê. Die wyfies van sommige spesies lê net een keer eiers, terwyl ander verskeie kere in hul lewensduur eiers lê.

Eiers word een-een gelê soos in die geval van Anopheles en Aedes, terwyl die huismuskiet (Culex) se eiers saam eiervlotte vorm. By party spesies, soos Culex tarsalis, neem die volledige lewensiklus van die eier- tot die volwasse stadium 10 tot 14 dae.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Party voltooi dit binne vier dae, terwyl die volwasse muskietwyfies van ander spesies dwarsdeur die winter kan oorleef om hul eiers in die lente te lê.

Hiervan neem dit ’n muskietpapie twee tot drie dae om tot ’n volwasse muskiet te ontwikkel. Die lewensduur van ’n muskietwyfie strek van twee weke tot ses maande. Mannetjies leef gewoonlik nie langer as ’n week nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Die muskietwyfie lê haar eiers in of naby stilstaande of stadig vloeiende water soos moerasse en riviere. In stedelike gebiede is motorbande wat met reënwater gevul is die ideale uitbroeiplek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dieet

Die dieet van ’n muskietmannetjie verskil van dié van ’n wyfie. ’n Muskietmannetjie s’n bestaan uit nektar, vrugtesap en ander suikerbronne. Dit is die muskietwyfie waarvoor ons gereeld koes.

Sy is afhanklik van die proteïen wat in bloed voorkom sodat sy haar eiers kan lê; daarom is sy aldag op soek na bloed. Dit is gelukkig nie net mensebloed wat sy nodig het nie; sy sal ook ander soogdiere, reptiele, paddas en voëls byt.

Party muskiete leef selfs net van die bloed van ander insekte soos bidsprinkane en miere. Muskiete het slurpbuise waarmee die vrugtesappe of bloed opgesuig word.

Ons sê gewoonlik ’n muskiet být jou, maar eintlik is dit daai buisie of lang snoet wat deur jou vel steek. Wanneer ’n muskietwyfie jou steek, spuit sy ook speeksel op die plek, wat dan eindelik die gejeuk veroorsaak.

’n Muskietwyfie weeg amper drie keer haar gewig nadat sy geëet het.

Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Naaldekoker vreet die muskiet wat hy gevang het. Naalde- kokernimfe, wat onderwater leef, smul ook alte graag aan muskietlarwes. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Rol in die ekostelsel

Elke fase van die muskiet – van ’n larwe tot sy volwasse stadium – speel ’n rol in die ekostelsel. Glo dit of nie, selfs die mens kan baat vind by die muskietlarwes wat in water voorkom.

Muskietlarwes het aan weerskante van hul mond twee haarborsels wat alge, mikroörganismes en stukkies organiese afval uit water versamel.

Dit maak muskietlarwes doeltreffende watersuiweraars. Muskiete dien as ’n waardevolle voedingstof vir ’n groot verskeidenheid diere. Dit sluit onder meer voëls, vlermuise, naaldekokers en paddas in.

Muskietlarwes is ook weens hul hoë voedingswaarde ’n gesogte kossoort vir visse. Hoewel muskiete as ’n voedingstof vir diere dien, is hulle lewensgevaarlik in dele van die wêreld, veral Afrika, en is muskietbeheer noodsaaklik.

Dit word toegepas deur plaagdoders te gebruik of onnodige stilstaande waterbronne te verwyder. 

Siektes

Hoewel malaria die bekendste muskietverwante siekte is, word ook ander siektes deur muskiete versprei en oorgedra.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Die Anopheles-soort versprei malaria, terwyl slenkdalkoors, Wesselsbronsiekte, geelkoorsvirus, breinvliesontsteking en nog talle ander virussiektes deur ander muskietspesies oorgedra word.

In die geval van malaria, wat vir byna ’n halfmiljoen sterftes per jaar verantwoordelik is, word die meeste sterfgevalle in ontwikkelende lande opgeteken.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Plaagdoders word gebruik om muskiet­bevolkings te beheer in die lande waar die Zikavirus aangetref word. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Muskietnette en insekweerders bied goeie beskerming teen muskiete. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan kennis, medisyne of muskietnette binne gebiede waar die malariamuskiet (Anopheles) voorkom.

In die laaste jare het die voorkoms van die Zikavirus veral toegeneem. Dié siekte word deur die Aedes-muskiet versprei en is veral gevaarlik vir ongebore babas.

As dit aan ’n swanger vrou oorgedra word, kan haar ongebore kind met verskeie ontwikkelingsprobleme sukkel soos mikrosefalie (kleinskedeligheid).

’n Kunsmatige muskiet?

Klink ’n geneties aangepaste muskiet te dik vir ’n daalder? Die Ugandese regering beplan om so ’n muskiet te teel in ’n poging om malaria in Afrika te beveg.

Die plan is dat ’n genetiese mutasie wat dodelik is vir malariamuskiete deur middel van hierdie geneties aangepaste muskiet versprei gaan word. Sodoende kan die bevolking van gevaarlike malariamuskiete verminder word.

OPPAS

Moenie ’n muskiet onderskat nie. Vergewis jou van jou omgewing en watter muskietsoorte daar aangetref word en sorg dat jy teen- middels vir moontlike virussiektes gebruik. 

Kopie: Cum Laude Media; Bronne: CDC.GOV, MIELIESTRONK.COM, HULP.LANDBOU.COM, NATIONALGEOGRAPHIC.COM, HARDYDIAGNOSTICS.COM, MAROELAMEDIA.CO.ZA, MOSQUITOWORLD.NET, WHO.INT, VDCI.NET, WEBMD.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.