Het jy al gewonder waar jou liggaam sy energie vandaan kry of waarheen daardie happie brood gaan nadat jy dit geëet het?

Die energie wat jou liggaam nodig het vir huiswerk doen, speel en sport word verkry uit die voedsel wat jy eet. Jou liggaam gebruik die kos wat nodig en bruikbaar is en raak ontslae van dit wat hy nie gebruik nie. Hierdie proses noem ons spysvertering.

Die slukderm, wat kos na jou maag vervoer, staan bekend as die esofagus.

Dit is ’n ingewikkelde maar interessante proses, want dit vind plaas sonder dat jy weet of besluit dat dit moet gebeur.

Wat is die spys­verteringstelsel?

Die spysverteringstelsel se prosesse gebeur in die spysverteringskanaal. Binne dié kanaal is verteringsorgane wat almal saamwerk om die kos wat jy inneem af te breek, oftewel te verteer. Hierdie verteringsproses se doel is om uit die kos wat jy eet gesonde en nodige voedingstowwe te absorbeer om jou in staat te stel om te groei en energie te kan hê.

Jou spysverteringstelsel onderskei tussen bruikbare en onbruikbare voedingstowwe. Bruikbare voedingstowwe word deur die liggaam opgeneem, terwyl onbruikbare voedingstowwe deur jou liggaam uitgeskei word.

Verskillende funksies binne jou liggaam help om hierdie verteringsproses moontlik te maak.

Waaruit bestaan die spysverteringskanaal?

Die spysverteringskanaal sluit jou mond, slukderm, maag, dun- en dikderm en anus in. Hierdie dele vorm saam die spysverteringstelsel en het elk sy eie unieke doel binne die verteringsproses.

Vandat jy dus jou broodjie eet tot die broodjie se bruikbare voedingstowwe deur jou liggaam opgeneem is of onbruikbare voedingstowwe uitgeskei is, het elke orgaan binne die spysverteringstelsel ’n taak om te verrig.

Amper soos helpers is daar organe wat die spysverteringstelsel met die verteringsproses bystaan. Dié organe is buite die spys­verteringskanaal en word ondersteunende organe genoem. Dit sluit die lewer, pankreas en galblaas in.

Voor ons op vier belangrike aktiwiteite binne die spysverteringstelsel fokus, kyk ons eers na twee maniere hoe vertering binne die liggaam plaasvind.

Hoe vind vertering plaas?

Vertering vind op twee maniere plaas: meganies en chemies.

Dit kan twee tot vyf dae duur vandat kos in jou mond opgeneem word tot dit deur die liggaam uitgeskei word. Elke mens se lyf doen dit teen sy eie spoed.

Jou liggaam gebruik hierdie twee metodes om kos binne jou liggaam af te breek.

  • Meganiese vertering is die fisieke beweging van ons mond en die beweging in ons maag wat stukkies kos kleiner maak. Dink byvoorbeeld aan wanneer jy kos kou – jy maak dit fyner om dit te kan sluk.
  • Chemiese vertering gebruik ensieme en sure om die deeltjies wat kos bymekaarhou in so ’n mate af te breek dat die kos binne die bloedstroom opgeneem kan word. Dink byvoorbeeld aan jou speeksel wanneer jy kos kou.

Aktiwiteite binne die stelsel

Belangrike aktiwiteite vind binne die spysverteringstelsel plaas. Dit kan in vier groepe ingedeel word, naamlik ingestie (inname), di­gestie (vertering), absorpsie (opname) en egestie (uitskeiding).

  • Ingestie is die inname van voedingstowwe, met ander woorde die oomblik wanneer jy jou broodjie begin eet, neem jou liggaam kos in.
  • Tydens digestie vind die vertering of die afbreek van die broodjie plaas.
  • Danksy jou spysverteringstelsel word absorpsie moontlik gemaak wanneer noodsaaklike voedseldeeltjies in die bloedstroom opgeneem word.
  • Voedseldeeltjies wat dieliggaam nie nodig het nie, word uitgeskei – dié aktiwiteit noem ons egestie.
’n Gesonde spys­verteringstelsel
Ons kan ons spysverteringstelsel skoon en gesond h
Ons kan ons spysverteringstelsel skoon en gesond hou deur vrugte, groente en grane te eet en genoeg water te drink. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jou spysverteringstelsel is ’n noodsaaklike deel van jou liggaam. Daarsonder sal jy nie die voedingstowwe kry om te kan groei en gesond te bly nie. Kan jy help dat jou spysverteringstelsel gesond bly? Ja, vir seker.

Ons kan ons spysverteringstelsel skoon en gesond hou deur vrugte, groente en grane te eet en genoeg water te drink.

Deur genoeg water te drink en gesonde eet­gewoontes te volg kan jy jou spysverteringstelsel help skoon en gesond hou. Kos wat ryk is aan vesel, soos vrugte, groente en graan, kan jou spysverteringstelsel help om vir jou die nodige energie en voedingstowwe te gee wat jy as ’n groeiende jong mens benodig.

Die spysverteringstelsel in geheel

Die spysver­teringstelsel begin by die mond en eindig by die anus. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die spysverteringstelsel neem kos binne jou liggaam op en breek dit af met die doel om dit te gebruik of uit te skei. Die proses begin by jou mond en eindig eindelik wanneer jy ongebruikte (onverteerbare) voedsel uitskei.

1. Binne jou mond gebruik jy jou tande om voedsel meganies fyn te kou. Hier begin die inname (ingestie) van kos. Die kos meng met jou speeksel, wat ensieme bevat, wat die proses van chemiese vertering (digestie) laat begin. Hierdie reeds fyner en afgebreekte voedsel word in ’n bolus (kosballetjie) gevorm en beweeg dan in jou keel af, deur jou slukderm, en beland eindelik in jou maag.

Het jy geweet? Gal van die lewer, ’n ondersteunende orgaan vir die spysverteringstelsel, help in die verteringsproses om vette in die bloedstroom te laat opneem. Hiermee saam stel die pankreas, ook ’n ondersteunende orgaan, sappe vry wat ensieme bevat en dit dra ook by tot die ver­teringsproses. Die galblaas bêre ekstra gal vir wanneer die liggaam dit later nodig kry.

2. In jou maag vind nog meganiese vertering plaas deurdat jou maagspiere die kos wat dit ontvang het nóg fyner meng en maal. Weer eens help die proses van chemiese vertering om voedseldeeltjies verder af te breek.

3. Vanaf jou maag beweeg die afgebreekte voedsel steeds in die verteringskanaal na die dunderm. Van die dunderm beweeg die verteerde voedsel na die dikderm. Voor verteerde voedseldeeltjies uitgeskei word, word belangrike verteerde deeltjies in die liggaam geabsorbeer.

4. Daarna word voedseldeeltjies wat die liggaam nie nodig het nie deur die anus en urienkanaal uitgeskei (egestie).

TEKS: Cum Laude Media; Bronne: innerbody.com, healthline.com, medicinenet.com, kidshealth.org, niddk.nih.gov, mieliestronk.com, cnx.org, opentextbc.ca, docscientia.co.za, bio.libretexts.org, health.harvard.edu, mayoclinic.org
Hulp nodig met skooltake?
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by Klaskamer.huisgenoot.com aflaai.