Jy het dalk al van ’n sensus gehoor. Dit is wanneer beamptes inligting versamel oor hoeveel mense in Suid-Afrika woon, hoe naby hulle aan mekaar bly, hul ouderdom, geslag, verdienste en soort woonplek.

Dit gee nie net ’n volledige telling van Suid-Afrika se bevolking nie, maar help ook die regering behoorlik beplan sodat hulle byvoorbeeld kan uitwerk hoeveel skole in ’n sekere gebied gebou moet word.

Dit is ’n reusetaak om al die inligting van die miljoene mense in Suid-Afrika te versamel; daarom vind ’n amptelike sensus net elke 10 jaar in ons land plaas. Die vorige sensus was in 2011; dus sal die volgende sensus in 2021 plaasvind.

Intussen doen nasionale organisasies soos Statistieke Suid-Afrika kleiner studies om ons data so bygewerk moontlik te hou.

Kom ons kyk wat ons nou oor ons land en sy mense weet.

Suid-Afrika
  • Totale bevoling: 57,7 miljoen
  • 51% vroulik
  • 49% manlik
Foto: Huisgenoot Infografika.

1. Limpopo

Grootte: 125 755 km2

Bevolking: 5,8 miljoen

Hoofstad: Polokwane

Huistaal wat die meeste gepraat word: Pedi (56%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,6

Bekend vir: Sy ryk mineraalneerslae, onder meer yster, diamante en steenkool.

Het jy geweet?
Die naam is van die Sotho diphororo tša meetse afgelei, wat “sterk borrelende watervalle” beteken.

2. Gauteng

Grootte: 18 176 km2

Bevolking: 14,7 miljoen

Hoofstad: Johannesburg

Huistaal wat die meeste gepraat word: Zoeloe (23%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 2,7

Bekend vir: Die tuiste van SA se administratiewe hoofstad, Pretoria. Dit is die land se ekonomiese kern.

Het jy geweet?
Gauteng is SA se kleinste provinsie, maar meer as ’n kwart van die land se mense (25,4%) woon daar.

3. Mpumalanga

Grootte: 76 495 km2

Bevolking: 4,5 miljoen

Hoofstad: Mbombela

Huistaal wat die meeste gepraat word: Swati (29,1%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,5

Bekend vir: Amper 70% van dié provinsie se grond word vir die verbouing van mielies, koring, suikerriet en sitrusvrugte gebruik. Die Krugerwildtuin is ook hier.

Het jy geweet?
Mpumalanga beteken “die plek waar die son opkom” in Swazi, Xhosa, Ndebele en Zoeloe.

4. Noordwes

Grootte: 104 882 km2

Bevolking: 4 miljoen

Hoofstad: Mahikeng

Huistaal wat die meeste gepraat word: Tswana (71,5%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3

Bekend vir: Sy goud-, uraan-, platinum- en diamantmyne. Sy uitgestrekte grasvelde is ook ideaal vir bees- en skaapplase.

5. Vrystaat

Grootte: 129 825 km2

Bevolking: 3 miljoen

Hoofstad: Bloemfontein

Huistaal wat die meeste gepraat word: Sotho (71,9%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3

Bekend vir: Dit is die tuiste van die land se hoogste appélhof, en die hoofstad Bloemfontein is ook die regterlike hoofstad van Suid-Afrika.

6. KwaZulu Natal

Grootte: 94 361 km2

Bevolking: 11,4 miljoen

Hoofstad: Pietermaritzburg

Huistaal wat die meeste gepraat word: Zoeloe (82,5%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,8

Bekend vir: Sy strande en tropiese klimaat. KZN is die tuiste van twee Unesco-wêrelderfenisterreine: die iSimangaliso-vleilandpark en die uKhahlamba-Drakensbergpark.

Het jy geweet?
KwaZulu beteken “Plek van die Zoeloe” en Natal verwys na Kersfees, die dag in 1497 toe die Portugese reisigers die kus gesien het.

7. Noord-Kaap

Grootte: 372 889 km2

Bevolking: 1,2 miljoen

Hoofstad: Kimberley

Huistaal wat die meeste gepraat word: Afrikaans (56,8%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,4

Bekend vir: Die Kimberley-diamantmyne en Groot Gat, ’n reuse-oopgroef- en ondergrondse myn.

Het jy geweet?
Die Noord-Kaap is die grootste provinsie, maar het die kleinste bevolking.

8. Wes-Kaap

Grootte: 129 462 km2

Bevolking: 6,6 miljoen

Hoofstad: Kaapstad

Huistaal wat die meeste gepraat word: Afrikaans (46,6%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,2

Bekend vir: Kaapstad is een van die gewildste toeristetrekpleisters ter wêreld danksy sy pragtige strande, Tafelberg en Robbeneiland.

Het jy geweet?
Die gemiddelde getal mense in elke huishouding in ’n gebied word bereken deur die getal inwoners in huishoudings deur die getal huishoudings te deel.

9. Oos-Kaap

Grootte: 168 966 km2

Bevolking: 6,5 miljoen

Hoofstad: Bhisho

Huistaal wat die meeste gepraat word: Xhosa (82,7%)

Gemiddelde getal mense in elke huishouding: 3,9

Bekend vir: Sy landskap; dit is die tuiste van alles van strande tot bosveld en selfs woestyn.

Bronne: SA Toerisme, Statistieke SA gemeenskapspeiling 2016, Statistieke SA Middeljaar bevolkingsraming 2018.