’n Pelgrimstog is ’n spesiale reis na ’n heilige plek. Die pelgrims spits hulle daardeur toe op godsdienstige besinning en toewyding aan hul opperwese.

Baie gelowiges onderneem ’n pelgrimstog omdat hulle by ’n kruispad in hul lewe of verhoudings is; ander wil hul geestelike lewe verdiep. So nie soek hulle leiding, genesing of vergifnis.

Die pelgrimstog kan ook ’n geloofsvereiste wees. Vir baie pelgrims is dit ’n gesellige ervaring wanneer hulle medepelgrims op hul pad teëkom of die natuurskoon beleef.

Of dit nou die Jakobusweg in Spanje, ’n besoek aan die Heilige Land of die hadj na Mekka is, pelgrims voel almal versterk in hul geloof nadat hulle so ’n bedevaart onderneem het. Wat behels dié drie bekendste pelgrimsreise als?

Mekka (Saoedi-Arabië)

Die pelgrimstog (hadj) na Mekka, die profeet Mohammed se geboorteplek, is een van die vyf pilare (godsdienstige verpligtings) van die Islamitiese geloof.

Volwasse Moslems wat gesond is, dit kan bekostig en wie se familie versorg sal word tydens hul afwesigheid, moet minstens een keer in hul leeftyd na Mekka reis vir die grootste jaarlikse samekoms van mense ter wêreld.

Omdat Mekka hul heiligste plek is, word nie-Moslems nie toegelaat nie. Die hadj vind op ’n sekere tyd van die jaar plaas, naamlik van die 8ste tot 12de dag van Dhu al-Hijjah, die 12de maand van die Islamitiese kalender.

Omdat dit ’n maankalender is, verskil die datum jaarliks van die Gregoriaanse kalender; vanjaar val dié bedetog aan die einde van Augustus.

Die hadji’s of pelgrims dra eenvoudige wit klere en voer verskeie aanbiddingsdade op hul bedevaart uit. Dit leer hulle dat almal gelyk is.

Hulle aanbid in die Arafatvallei, stenig die duiwel simbolies deur klippe na ’n muur te gooi en slag ’n lammetjie of skaap.

Mans skeer hul hare af en vroue knip ’n stuk van hulle s’n af. Die tawaf is die ritueel waar die hadji’s sewe keer om die sentrale heiligdom van alle Moslems, die Kaäba, stap.

Dit is ’n byna kubusvormige gebou (10 x 12 m en 15 m hoog) wat versier is met ’n swart fluweeldoek wat met gouddraad versier is.

Diegene wat die Hadj aflê, verwerf die eretitel hadji (vir mans) en hadja (vir vroue).

Die Kaäba in Mekka omring deur duisende pelgrims. Foto: Gallo Images/Getty Images

Het jy geweet?

Baie ander godsdienste het pelgrimstogte. Boeddhiste onderneem onder meer reistogte na die geboorteplek van Boeddha in Lumbini, Nepal.

Hindoes het talle pelgrimstogte, waaronder Kumbh Mela, waartydens miljoene mense hulle in die heilige Gangesrivier was.

Die heilige Gangesrivier. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Heilige Land (ISRAEL)

Israel is ’n belangrike bestemming vir Moslem-, Christen- en Joodse pelgrims. Weet jy hoekom hierdie land vir hulle so belangrik is?

Dit is omdat hul heilige geskrifte – die Koran, Bybel en Torah – grotendeels in en om hierdie Midde-Oosterse land afspeel.

Moslems beskou die Al-Aqsa-moskee op die Tempelberg in Jerusalem as die derde heiligste plek in Islam naas die Kaäba in Mekka en die Al-Masjid an-Nabawi (die Profeet Se Moskee) in Medina.

Moslems glo die profeet Mohammed is tydens sy sogenaamde Nagreis vanaf die Heilige Moskee in Mekka hierheen gebring.

Die nabygeleë Rotskoepel-heiligdom word ook as heilig beskou aangesien geglo word die rots in die middel van die gebou was die profeet se bestemming tydens sy Nagreis en dat hy ook van hier hemel toe gevaar het.

Christenpelgrims dra 'n kruis op die Lydensweg in die ou stad Jerusalem om Jesus Christus se lyding en dood te herdenk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jode beskou die Tempelberg as die allerheilige plek in hul godsdiens aangesien die rots in die Rotskoepel as die Hoeksteen gesien word waar hulle glo die Here die eerste mens, Adam, geskep het.

Hul godsdienstige wette verbied Jode om op die Tempelberg te bid; daarom besoek hulle die Westelike Muur, die enigste oorblyfsel van die Tweede Tempel, wat die Romeine in 70 n.C. in puin gelê het.

Hierdie muur van sowat 50 m lank en 20 m hoog staan as die Klaagmuur bekend omdat Joodse pelgrims met die eeue hier geween het oor die verwoesting van die Tempel en steeds bid dat dit herbou sal word.

Mans en vroue aanbid afsonderlik by die Klaagmuur. Foto: Gallo Images/Getty Images

Pelgrims en besoekers aan die Klaagmuur het ’n gewoonte om stukkies papier met gebede of versoeke aan die Here in die gleuwe tussen die muur se stene in te druk. Vir Christene is Jerusalem die plek wat Jesus oor die Paasfees besoek en waar Hy die week voor sy dood deurgebring het.

Christenpelgrims herdenk al die belangrikste gebeure in daardie Heilige Week.

Hulle hoop om so nader aan Christus te voel. Die plekke wat hulle besoek, is onder meer:

  • Die Tuin van Getsemane, waar Jesus gebid het voor die Romeinse soldate Hom in hegtenis geneem het.
  • Die Heilige Grafkerk, wat glo op die plek gebou is waar Jesus gekruisig en begrawe is. Ander glo die Tuingraf net buite die stadsmure is waar Hy opgestaan het.
  • Die Via Dolorosa (Lydensweg) is ’n spesiale roete van buite Jerusalem tot by die Grafkerk waarlangs pelgrims loop – veral op Goeie Vrydag – omdat hulle glo Jesus het sy kruis daarlangs gedra voor Hy gekruisig is.
Die ou stad Jerusalem Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Jakobusweg (Spanje)

Hierdie pelgrimstog word al langer as duisend jaar gestap en staan in Spaans as El Camino de Santiago bekend.

Dit is ’n groot netwerk van baie ou pelgrimsroetes wat dwarsoor Europa strek en in die noordweste van Spanje by die katedraal in Santiago de Compostela eindig.

Dit dui glo die plek aan waar Jesus se apostel Jakobus begrawe is. Die gewildste roete is die Camino Francés, wat 780 km lank is en by Saint-Jean-Pied-du-Port naby Biarritz in Frankryk begin.

Die katedraal in Santiago de Comopostela, Spanje. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié roete tot by Santiago de Compostela wemel in die somer van die pelgrims.

’n Paal met die simboliese mantelskulp dui die roete van die Jakobusweg aan. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle kan kies waar hulle wil begin. Nog ’n korter roete is van Pamplona af.

Dink jy dit sal vir jou moontlik wees om soos hierdie pelgrims 10, 20 of 30 dae te voet honderde kilometers af te lê? Party pelgrims ry darem ook fiets of op ’n donkie of perd se rug.

Bronne: Sentrum vir hedendaagse Islam, UK, BBC.com, Al-Islam.org, Wiki.kidzsearch.com, BBC.co.uk, NationalGeographic.com, Brittanica.com, PilgrimswayCanterbury.org