As jy ons reeks oor die verskillende plantegroeistreke en habitatte gevolg het, sal jy weet dat verskillende gebiede in Suid-Afrika se klimate verskil.

Klimaat is die gewone weersomstandighede, temperatuur en reënval van ’n gebied wat oor ’n lang tydperk bestudeer word. Dié gebiede word die verskillende klimaatstreke genoem.

Die klimaat beïnvloed die soort plante wat in ’n spesifieke gebied kan groei. Sommige plante benodig baie son en water, terwyl ander weer in ’n baie koue of warm klimaat groei.

Natuurlike plantegroei is die plante wat natuurlik in ’n gebied voorkom en nie deur mense daar geplant is nie.

Suid-Afrika se gebiede van natuurlike plantegroei is byna presies dieselfde as die klimaatsgebiede. Die natuurlike plantegroei van ’n gebied bepaal watter diere natuurlik in daardie gebied voorkom aangesien diere plante eet.

Gebiede met ooreenstemmende fauna (diere) en flora (plante) word biome genoem. Ons kyk na die twee grootste biome in Suid-Afrika, grasvelde en savanna.

Grasvelde

Grasvelde word hoofsaaklik op die hoë sentrale plato van Suid-Afrika en in die binnelandse gebied van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangetref.

Hier is die somers warm en die winters koud. Die reënvalseisoen is meestal in die lente en somer en gaan dikwels met donderstorms gepaard.

biome
Cheetahs gebruik termietneste as uitkykpunte wanneer hulle op soek is na prooi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die wintermaande word deur ryp en soms ook sneeu gekenmerk. Die landskap van grasvlaktes word deur plat gebiede gekenmerk wat bedek is met ’n enkele laag gras. Bolplante word ook volop aangetref.

Enkele droogtebestande bome en struike kom plek-plek voor. Die grasdigtheid word hoofsaaklik deur die hoeveelheid reën bepaal. Die grasse gaan in die droë, koue maande dood.

Hul wortelstelsel bestaan uit ondergrondse risome – uitloopsels vir nuwe groei wat die hele winter rustend onder die sneeu en ryp in die grond lê.

Ná die eerste lentereëns begin dit groei en word die vlaktes weer met lowergroen gras oortrek. Die instandhouding en vergroting van die grasvelde word deur ryp, weiding en brande beheer.

biome
Sebras en wildebeeste vreet net gras. Kameelperde vreet die blaartjies bo in bome, en die klein dik-dik knibbel aan die bossies op die grond. Op hierdie manier het almal iets om te eet. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens die droë seisoen kom daar dikwels natuurlike veldbrande asook brandstigting deur mense voor.

Dit is weer die grasse se wortelstelsel wat die verwoestende hitte van die vlamme diep onder die grond kan oorleef om weer ná die reën uit te loop.

Groot gedeeltes van die grasvlaktes word ook as weiveld vir beeste en skape gebruik. Die meeste van Suid-Afrika se suiwel-, bees- en wolboerdery word in die grasveldgebiede aangetref.

biome
Olifante is belangrik in die savannabioom, want hulle trap ruigtes oop en hou die balans tussen gras en houtagtige bosse. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Groot gedeelte van die natuurlike habitat moes ook plek maak vir grootskaalse mielieboerdery asook landerye vir sorghum, graan en sonneblom.

Savanna

Die savanna is die grootste plantegroeigebied in Suider-Afrika en bedek meer as 46% van dié wêrelddeel se oppervlak, terwyl dit sowat ’n derde van Suid-Afrika beslaan.

In Suid-Afrika strek dit van die noordelike gedeeltes van die Laeveld en Kalahari tot diep in die naburige lande Botswana, Zimbabwe en Namibië. Hierdie gebiede het ’n warmer klimaat, strek van seevlak tot 2 000 m bo seevlak en is ook naby die trope geleë.

Die natuurlike plantegroei wissel van bosveld, klein bome en struike tot uitgestrekte grasvelde. Die gemiddelde reënval wissel van ongeveer 230 tot 1 000 mm per jaar.

Die plantegroei in hierdie streek bestaan uit verskeie boomsoorte soos die akasia, kremetart en maroela, asook aalwyne en grasse.

biome
Die kremetartboom is volop in hierdie gebiede. Foto: Gallo Images/Getty Images

Een van die bekendste voorbeelde van hierdie bome is die kremetart,wat water in sy dik stam berg. Limpopo en die noorde van Bo- tswana en Namibië word ook deur die mopanie gekenmerk, wat die suur grond van die droër en warmer binneland verkies.

Die gebiede wat minder as 100 mm reën per jaar ontvang, staan as die doringveld bekend. Dit word gekenmerk deur yl gras en verspreide doringbome soos die kameeldoring.

Die savannagebiede is bekend vir hul magdom wilde diere. Die meeste van Suid-Afrika se natuurreservate, soos die bekende Krugerwildtuin, is immers in die savanna geleë.

biome
Die kameelperd se lang tong (tot 45 cm lank) beteken hy kan die sappige blare bykom terwyl hy die skerp dorings vermy. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié ryk bron van natuurlike weivelde en bome bied ’n tuiste aan ’n magdom groot troppe herbivore (planteters). Sebras, wildebeeste, olifante, kameelperde, bokke, buffels en volstruise word volop hier aangetref.

Groot getalle herbivore beteken natuurlik ook baie karnivore. Leeus, hiënas, jagluiperds, wildehonde, luiperds en swartmambas het beslis nie ’n tekort aan vleis nie! Verskeie planteters is goed aangepas om hul vyande te kan uitoorlê.

Die gemsbok en volstruis se spoed help hulle om van hul vyand weg te hardloop. Die kameelperd kan sy lengte gebruik om vyande van ver af te gewaar, en olifante gebruik hul groot lywe en krag om vyande mee af te skrik.

Net so het roofdiere hul eie vaardighede ontwikkel om hul prooi te vang. Die jagluiperd is die vinnigste landdier, en leeus en hiënas jag in troppe om ’n swakkeling af te sonder.

Met soveel plantvreters in een gebied, hoe is dit moontlik dat die graslande nie oorbewei word en die gras uitsterf nie? Verskillende spesies vreet verskillende dele van die plant en in verskillende groeitye van die jaar.

Sebras eet die hoër gedeelte van die grasse, gevolg deur die wildebeeste wat verder eet, en die kleiner boksoorte knibbel aan die onderste gedeeltes.

Vlakvarke geniet dit weer om die wortels op te grawe. Daar vind ook jaarliks seisoenale migrasie van groot troppe sebras, wildebeeste en gemsbokke in dele van die savanna plaas.

Hulle trek na gedeeltes waar weiding volop is. In Suid-Afrika bemoeilik heinings dié drang, maar in Oos-Afrika migreer miljoene diere elke jaar tussen Kenia en Tanzanië.

Aan die einde van die seisoen keer hulle terug wanneer die nuwe weivelde danksy die lentereën uitgegroei het.

Hierdie natuurlike simbiose het tot gevolg dat baie spesies in vrede kan saamleef. 

Die arme ietermagog

biome
Die Suider-Afrikaanse ietermagog. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Suid-Afrika het ons slegs een ietermagogspesie, die Suider-Afrikaanse ietermogog (Smutsia temminckii).

Hulle kom in die bosveldgebied voor, asook in die doringbos-savanna van Namibië. Hulle woon in gate wat deur springhase of vlakvarke gegrawe word.

Hul liggaam is oortrek met harde skubbe en hulle rol hulself in ’n stywe bolletjie op wanneer hulle bedreig voel. Die ietermagog is ongelukkig ’n bedreigde spesie.

biome
Onlangs is op 2 340 kg ietermagogskubbe ter waarde van R204 miljoen beslag gelê toe daar probeer is om dit in Hong­kong in te smokkel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit word toegeskryf aan habitatvernietiging, grootskaalse stropery en die feit dat hulle baie stadig aanteel. Baie van die diere word ook doodgeskok deur die elektriese heinings wat boere op hul plase aanbring.

In Asië word handel gedryf in dele van dié dier weens die wanbegrip dat hul skubbe towerkrag besit en die besonderse smaak van hul vleis.

Besoek

Hulp met skooltake Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk.

Leer nog oor die diere wat in die grasvelde en savanna voorkom deur dié video te kyk: 

Teks: Cum Laude Media; Bronne: siyavula.com, ducksters.com, hydrodictyon.eeb.uconn.edu, mieliestronk.com, netwerk24.com, nationalgeographic.com, worldwildlife.org, af.wikipedia.org