Geld kan sigbare, tasbare kontant wees – die note en munte wat jy vir sakgeld kry – of dit kan elektronies voorkom. Elektroniese geld is die geld wat die bank se rekenaarstelsel wys jy in jou rekening het. Jy kan nie daardie geld sien of daaraan vat nie, behalwe natuurlik as jy daarvan by die OTM gaan onttrek.

Ons leer jou waar daardie papier- geld en munte in jou beursie vandaan kom.

Wie maak ons geld?

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank, ons land se sentrale bank, is verantwoordelik vir die druk van banknote en die slaan van munte. Ons papiergeld word by die Suid-Afrikaanse Banknootmaatskappy in Pretoria gedruk en ons munte word by die Suid-Afrikaanse Munt in Centurion gemaak.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
“Oom Paul se muntpers”, een van die oudste muntperse in die wêreld, is geleë by Coin World, die winkel en museum by die Suid-Afrikaanse Munt. Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se geskiedenis strek terug tot 1890 toe die regering van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), oftewel die Transvaal, sy eie munt in Pretoria gevestig en in 1892 plaaslike munte begin maak het.

Die Suid-Afrikaanse Munt het in 1923 tot stand gekom as ’n onderafdeling van die sentrale regering. Dis egter in 1988 aan die SA Reserwebank verkoop. Benewens SA munte vervaardig dit ook vir ander lande munte. Dit maak ook die bekende Krugerrand, asook die Natura- en Proteamunte.

Die Suid-Afrikaanse Banknootmaatskappy (SABN) het sowat 60 jaar gelede tot stand gekom toe die regering besluit het om SA banknote plaaslik te druk en nie meer oorsee nie. Die plaaslike produksie van banknote het in 1961 begin toe SA ’n desimale geldeenheid gekry het.

Die Banknootmaatskappy druk nie net al ons land se banknote nie; dit druk ook die note van talle buurlande.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
’n Mens kan geld trek by ’n outomatiese tellermasjien (OTM). Absa is een van die grootste handelsbanke in Suid-Afrika wat sy reserwes by die Reserwebank moet hou. Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Die SABN is baie ernstig oor sekuriteit om die diefstal en vervalsing van geld te verhoed. Die werknemers word dopgehou en hou mekaar dop. Daar word baie noukeurig getel hoeveel papier en note daar is. As iets nie klop nie, moet die fout eers opgespoor word voor enigiemand verder kan gaan met wat hulle doen.

Die maatskappy moet sertifikate uitreik om te wys watter papier waar gebruik is en wat van die papier oorgebly het. Die maatskappy laat sy werkers wel toe om hul eie geld in hul beursies by hulle te hê, want hy kan van die nommers op die banknote aflei of dit geld is wat reeds in sirkulasie is en of dit nog in sy reusekluis gebêre moet wees.

Die note wat die SABN druk, moet nogal taai wees om in ’n klomp toestande te oorleef terwyl hulle in omloop is. ’n R200-noot kan jare hou, terwyl ’n R10-noot so baie gebruik word dat dit dikwels nie eens drie maande hou nie.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Dit is nogal ’n uitgerekte proses om ’n nuwe reeks banknote te ontwerp en ontwikkel. Dit het drie jaar geneem om Suid-Afrika se Groot Vyf-reeks uit te reik.

Een aspek van die note kan darem gou-gou verander word. As die president van die Reserwebank skielik verander, kan die ou president se handtekening op die note binne ure met die nuwe een se handtekening vervang word.

Nou weet jy waar Suid-Afrika se geld vandaan kom. Maar wat gebeur met ou geld wat beskadig en aan flarde is? Wel, daai note bly ’n wettige betaalmiddel tot hulle versnipper word en as vullingsafval gebruik word.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Vervalste geld

As jy ’n vervalste banknoot in jou beursie ontdek, sal jy ongelukkig nie vergoed word as jy dit by die polisie of die bank inlewer nie. Die rede hiervoor is dat die owerhede skelms nie op daardie manier wil aanmoedig om note te vervals sodat hulle tog geld daarvoor sal kry as dit ingegee word nie.

Hierdie benadering het egter ook ’n nadeel. Dit veroorsaak dat mense onwillig is om vervalste geld te rapporteer omdat hulle dan ’n verlies sal ly. Hulle sal dikwels eerder probeer om die vervalste noot so gou moontlik verder uit te gee aan die volgende niksvermoedende landsburger.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Sekerheidseienskappe

Ons banknote het ingeboude kenmerke om dit vir vervalsers moeilik te maak om die geld na te maak. As jy hiervoor uitkyk, sal jy nie geflous word om ’n nikswerd noot te aanvaar nie. Wees op die uitkyk vir die watermerk in die papier.

Dit sal sigbaar wees as jy die noot teen die lig hou. Kopieermasjiene kan dit nie namaak nie. ’n Sekerheidstrokie wat in die noot se papier verweef is, is ook sigbaar en vertoon die letters SARB in direkte lig. Die regte note is van gehaltepapier gemaak.

Jy sal aan die tekstuur van die papier kan voel as iets nie pluis is nie. Die fyn drukgehalte is ook moeilik om goedkoop na te maak, ongeag hoe goed die boewe se skandeermasjien is. Regte banknote se dik ink staan uit op die drukoppervlak.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Die Reserwebankgebou in Pretoria se middestad: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Rol van die reserwebank

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) is ons land se sentrale bank wat die land se monetêre (geldelike) beleid moet opstel en in werking stel sodat die land se finansiële stelsel doeltreffend kan wees. Hy reguleer banke om kliënte se geld en die land se ekonomie te beskerm.

Lesetja Kganyago is sedert Oktober 2014 die president van die Reserwebank.

Omdat sentrale banke soos die SARB banknote en munte mag maak, uitreik en vernietig, het hulle die bewaarders van handelsbanke se kontantreserwes geword. Banke kan hierdie reserwes gebruik om note by die SARB te koop.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank. Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Die SARB het sewe takkantore in Bloemfontein, Kaapstad, Durban, Oos-Londen, Johannesburg, Port Elizabeth en Pretoria-Noord. Hierdie takke moet sorg dat daar genoeg note van goeie gehalte is om aan die publiek se vraag te voldoen.

Hulle moet ook beskadigde note vervang.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Al
Die kante van ’n Krugerrand. Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Alamy

Die SARB, wat die bankier van die regering is, kan regeringseffekte teen banke se reserwes koop. Nog ’n belangrike rol van die SARB is om die stabiliteit van die rand te handhaaf deur die inflasiekoers (die korers waarteen pryse oor tyd styg, wat die waarde van die rand verander) te beheer.

  • Het jy geweet? Die woord “geld” is verwant aan die woord “goud”. Dink maar aan die Engelse woord “gold” of die ou Nederlandse geldeenheid “gulden”.
Teks: Cum Laude Media; Bronne: mg.co.za, resbank.co.za, wikikids.nl, wikipedia.org, investopedia.com