Wanneer jy ’n glas vashou, los jou vingerpunte met hul kenmerkende riffels merke op die glas. In die 19de eeu het wetenskaplikes agtergekom die patrone aan elke mens se vingers is uniek – niemand s’n is dieselfde nie.

Later het die polisie dié eienskap begin gebruik om skelms vas te trek deur hul vingerafdrukke van ’n misdaadtoneel te kry.

Vingerafdrukke
Deesdae kan ons vingerafdrukke met masjiene skandeer. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die vel

Jou vel bestaan uit ’n beskermende buitelaag (epidermis), ’n lewende binnelaag (dermis) en die onderhuid (hipodermis). Die epidermis se bolaag bestaan uit dooie selle.

Vingerafdrukke word in die diepste laag van die epidermis gevorm. Dit word die basale sellaag genoem. Hare groei oral aan die menslike vel. Dis soms ragfyn en op baie plekke feitlik onsigbaar.

Die vel by die riffels aan jou vingerpunte, wat ook as friksieriwwe bekendstaan, het egter nie hare nie. Daardie haarlose friksieriwwe kom ook aan jou handpalms, onder jou tone en aan jou voetsole voor. Die riffels bo-op die epidermis aan die vingers is baie duidelik omlyn en neem die vorm aan van boë, lusse of draaikolke – of vervormings daarvan.

  • Boë se vorm loop boontoe en dan af en lyk soos dun berge.
  • Lusse begin aan een kant van die vinger, loop in ’n kurwe en eindig aan dieselfde kant. Daar is twee soorte lusse: Radiale lusse hel oor na die duim se kant toe en ulnêre lusse hel oor na die pinkie.
  • Draaikolke vertoon ’n sirkelvormige of spiraalpatroon. Elke riffel bevat porieë wat aan sweetkliere onder die vel verbind is. Jy laat jou vingerafdrukke op byna alles waaraan jy raak as gevolg van dié sweet en die vel se olie-uitskeiding.
Vingerafdrukke
Boë.
Vingerafdrukke
Lusse.
Vingerafdrukke
Draaikolke.

Uniekheid

Jou vingerafdrukke is volkome enig in hul soort. Dit vorm reeds voor jou geboorte terwyl jy nog as fetus (ongebore baba) ontwikkel. Trouens, drie maande voor jou geboorte het jou friksieriwwe al volledig gevorm!

Wetenskaplikes stem saam dat vingerafdrukke al in ’n fetus se 10de week begin ontwikkel, maar niemand is presies seker watter proses daarvoor verantwoordelik is nie. Vingerafdrukke is selfs meer uniek as DNS, die genetiese materiaal in elke sel in jou liggaam.

Hoewel identiese tweelinge byvoorbeeld grootliks dieselfde DNS kan deel, sal hulle nooit dieselfde vingerafdrukke hê nie.

Vingerafdrukke
’n Vergrote beeld van die riffels aan ons vingerpunte. Elke duikie in die riffels is ’n klein sweetklier. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Permanensie

Sekere herhalende aktiwiteite soos messelwerk kan die riffels laat verweer, wat dit moeilik maak om iemand deur sy vingerafdrukke te identifiseer. Sommige boewe probeer ook die polisie ontduik deur hul riffels met suur of hitte “weg te brand”.

Jou riffels is egter in dieper lae van die vel gesetel en sal mettertyd weer uitgroei. En omdat vingerpatrone nie verander namate jy groei of oud word nie, sal jy altyd aan jou afdrukke herken kan word.

Vingerafdrukke
’n Forensiese deskundige gebruik poeier om vinger­afdrukke van ’n misdaadtoneel te kry. Foto: Gallo Images/Getty Images.

So word afdrukke bekom

Die afdrukke wat ’n mens se hande op ’n voorwerp laat, kan nie met die blote oog gesien word nie. Dit kan egter sigbaar gemaak word deur die oppervlak waaraan iemand geraak het met poeier af te stof of met spesiale chemikalieë te behandel.

Om ’n vingerafdruk vir amptelike dokumentasie te verkry, word spesiale ink aan die patroonkant van jou duim aangebring. Dan druk jy jou vinger op ’n dokument om ’n presiese afdruk van die kronkeltjies en plooitjies aan jou duim agter te laat.

Al kan ’n mens se handpalm en voetsool ook vir identifikasie gebruik word, werk vingerafdrukke beter omdat dit vinnig en sonder moeite geneem kan word. Dis ook makliker om die patrone van die vingerafdrukke in groepe te sorteer vir kategorisering.

Geskiedenis

Die ou Babiloniërs, Egiptenare en ander beskawings het vingerafdrukke in klei vir die ondertekening van saketransaksies gebruik. Tydens die Qindinastie (221 tot 206 v.C.) het die Chinese al vinger- en handafdrukke as bewysstukke gebruik in ondersoeke na inbraak.

Die hernude belangstelling en ontwikkeling van moderne metodes van vingerafdrukidentifikasie dateer egter uit 1880. Die Britte Henry Faulds en William James Herschel se briewe oor die uniekheid en permanente aard van vingerafdrukke is in daardie jaar in die vaktydskrif Nature gepubliseer.

Sir Francis Galton het hul bewerings met eksperimente bewys en ’n basiese stelsel vir die klassifisering van vingerafdrukke (volgens die boë , lusse en draaikolke) opgestel.

’n Moordsaak opgelos

Die Argentyn Juan Vucetich, wat in 1888 vir die polisie van die provinsie Buenos Aires gewerk het, het ook ’n stelsel gegrond op Galton se waarnemings ontwikkel. In 1892 het hy die eerste vingerafdrukburo tot stand gebring.

In daardie selfde jaar het die ondersoekbeampte Eduardo Álvarez, wat deur Vucetich opgelei is, die eerste misdadiger-identifikasie met behulp van vingerafdrukke gedoen. So kon hy Francisca Rojas as die skuldige in ’n misdaad identifiseer.

Sy was ’n ma wat haar twee seuns vermoor en haarself aan die keel gesny het in ’n poging om die buurman te blameer. Álvarez het haar bloederige vingerafdruk aan ’n deurkosyn gevind en haar daarmee as die moordenares geïdentifiseer.

Rojas het toe haar gruwelike misdaad bely en is in die hof skuldig bevind.

Vingerafdrukke
Dit was destyds baie tydrowend om vingerafdrukke van misdaadtonele te vergelyk met dié van die Mafiabaas Al Capone.

Brittanje en Amerika

Sir Edward R. Henry, wat later die Londense polisiehoof geword het, het ook op Galton se stelsel verbeter. In 1901 het Scotland Yard die Galton-Henry-stelsel vir sy misdaadrekords ingestel. Dit het gou na ander lande versprei.

Amerika het vingerafdruktegnieke toe verder ontwikkel en ’n enorme aantal afdrukke versamel. Die lêers van die Amerikaanse speurdiens (FBI) se identifiseringsafdeling bevat miljoene mense se vingerafdrukke.

Intussen is die lêers en soektegnieke boonop gerekenariseer sodat vergelykings en die identifisering van afdrukke nou supervinnig kan geskied. Die gebruik van vingerafdrukke in misdaadsake is eintlik ’n bietjie outyds, want die skurke weet daarvan en dra handskoene wanneer hulle verkeerde dinge doen.

Jy het seker al op TV gesien dat die polisie deesdae veral DNS (genetiese materiaal) gebruik om boewe vas te trek? Nogtans bly vingerafdrukke ’n ou staatmaker omdat slim dikwels sy baas vang!

Vingerafdrukke
Vingerafdrukke word op die AFIS-stelsel nagegaan.

Die AFIS- en NGI-stelsel

Die geoutomatiseerde vingerafdrukidentifikasiestelsel (AFIS) maak dit sedert die 1980’s vir wetstoepassers wêreldwyd moontlik om so te sê onmiddellik ’n vingerafdruk teen miljoene ander op rekord te kruiskontroleer.

AFIS versamel digitale vingerafdrukke met sensors, en rekenaarsagteware soek dan in die databasis na dieselfde patrone en fyn eienskappe om ’n afdruk te kry wat pas.

Die FBI se AFIS staan bekend as IAFIS (Integrated Automated Fingerprint Identification System). Dis in 1999 tot stand gebring en is intussen opgegradeer na die Next Generation Identification (NGI).

Teen 2018 het die NGI die vingerafdrukke van 135 miljoen misdadigers en burgerlikes op rekord gehad.