Voëls is tweevoetige, warmbloedige gewerweldes. Dit beteken hulle is diere met ’n ruggrate.

Hulle is ook die enigste diere wat vere het.

Hoewel alle voëls vlerke het, is daar ’n paar spesies, soos die volstruis, wat glad nie kan vlieg nie.

Een ding wat voëls baie cool maak, is die feit dat hulle van dinosourusse afstam!

Serikornis sungei is ’n dinosourus en voorganger van ons moderne voëls.

Ons leer jou meer oor voëls, en dan kyk ons veral na die uil, wat sy eie interessante kenmerke het.

Uit die oertyd

Voëls behoort tot die biologiese klas Aves en kom feitlik oral op aarde voor.

Hulle het in die Jura (’n tydperk 210 tot 140 miljoen jaar gelede) ontwikkel uit dinosourusse, wat tot die groep Theropoda (“diervoete”) en meer spesifiek Maniraptora (“handgrypers”) behoort het.

Flamink.

Dié oervoëls het kenmerke van reptiele en voëls gehad, byvoorbeeld tande om vleis mee te vreet, kloue en vlerke.

Vandag het voëls nie tande nie. Hulle het wel ’n tong, maar anders as die mens s’n bevat dit ’n been.

Wielewaal.

Nog ’n eienskap wat voëls met dinosourusse deel, is die feit dat hulle eiers lê.

Eetgewoontes

Voëls is gedurig op soek na kos. Daar is steeds voëlspesies wat nes hul dinosourusvoorouers vleisvreters is. Dink maar aan die arend en uil.

Arend.

Die bloureier hou van vis. Sommige voëls is plantvreters wat van vrugte hou, soos die wielewaal en toekan, of van graan, soos die vink.

Reier.

Die kolibri is ook ’n plantvreter, maar verkies nektar. Ander voëls is omnivore (plant- en vleisvreters), soos die Indiese spreeu.

Kolibri.

Maar die meeste voëls is insekvreters. Voëls sien kos met behulp van hul skerp sig raak, en hul snawel en kloue is aangepas om hulle te help om kos op te spoor.

Indiese spreeu.

Ons vind baat by voëls se eetgewoontes omdat hulle onder meer insekplae beheer en help om blomme te bestuif.

Gebou om te vlieg

Voëls se ligte geraamte en kragtige spiere maak dit vir hulle moontlik om te vlieg. Hul eetgewoontes, bloedsomloop en asemhalingstelsel is ook aangepas om baie energie en genoeg suurstof te verskaf.

Nes vliegtuie moet voëls vier kragte trotseer om in die lug te bly: lugweerstand, stukrag, hefkrag en swaartekrag. Benewens hul vlerke se vorm, wat hefkrag verskaf, het voëls ook ander kenmerke wat vlug moontlik maak.

Hul vaartbelynde lyf en gladde vere verminder die lugweerstand.

Volstruis.

Hul snawel (pleks van swaar kake met tande), die vere se ligtheid en hul sterk, hol gebeente is die antwoord op die eise van swaartekrag.

Die ferm skelet en vergrote borsbeen het hegplek vir sterk vlerkspiere om stu-krag te verskaf wanneer die vlerke geklap word.

Loopvoëls soos pikkewyne, kiwi’s en volstruise het die vermoë verloor om te vlieg omdat hulle nie meer al vier vlugkragte kon oorkom nie.

Pikkewyn.

Kiwi’s het op eilande gebly waar hulle geen natuurlike vyande gehad het nie; daarom was dit nie nodig om te vlieg nie.

Daarenteen kan trekvoëls soos die swaeltjie baie lank in die lug bly en duisende kilometers ver vlieg. Hulle gebruik die aarde se magneetveld om hul roete te vind. 

UILE

Uile is roofvoëls wat tuis is op elke vasteland behalwe die yskoue Antarktika. Hulle is aktief in die nag. Dis hoekom ons iemand wat saans laat wakker bly grappenderwys ’n naguil noem.

’n Uil se kop en oë is baie groot vergeleke met sy lyf. Uiloë sit in ’n plat gesig en kan nie soos joune in hul kasse rondbeweeg nie. Daarom draai uile hul kop ’n ongelooflike 270 ° om rondom hulle te kyk. Dit is moontlik omdat die are en nekwerwels aangepas is vir so ’n wilde nek­beweging. Die meeste mense kan hul kop net 60 tot 80º draai.

Dié voëls se groot oë kan snags uiters goed sien wanneer hulle diertjies jag om te vreet. Uile kan ook fyn luister. Hulle vlieg amper geruisloos op hul niksvermoedende prooi af.

Wat eet hulle?

Uile hou daarvan om lewende prooi te eet en sal nie hul snawel aan aas (dooie diere) waag nie.

Hoewel hul dieet na gelang van die spesie verskil, hou die meeste uile van insekte, klein soogdiere (soos hase, muise en rotte) of kleiner voëlsoorte.

Uile kan glo soms selfs ’n kat vang, maar moenie jou oor jou kietsie bekommer nie; dit gebeur selde.

’n Uil gebruik sy kragtige kloue om sy prooi mee te vang. Daar is ook uile wat vis vang om te eet, soos die visuil (Scotopelia peli).

Vind nog uit

Dié video sal jou ekstra inligting oor uile gee: bit.ly/naguil.

Die onverteerbare dele van die uil se prooi word opgebring. Ons noem dit ’n braakbal. Dis interessant om te weet dat uile byna nooit water drink nie, selfs al sal hulle in water bad.

Hulle kry genoeg vog uit die prooi wat hulle verorber.

Uilfamilies

Daar is moontlik tot 200 uilspesies op aarde – na gelang van hoe hulle geklassifiseer word.

Die uilorde word in twee families verdeel. Die grootste uilfamilie is die tipiese uile (Strigidae).

Vra jou ouers om ’n uilboks in jul tuin te sit.

Die kleiner familie is die kerkuile (Tytonidae). Jy sal kerkuile aan hul hartvormige gesig kan uitken.

Grasuil.

Bedreiging

Baie mense is bygelowig oor uile. Hulle glo hulle bring onheil of die dood.

Baie uile broei in boomholtes.

Sulke mense maak soms die uile dood. Die voëls vrek ook wanneer mense gif onoordeelkundig gebruik om rotte en muise uit te wis.

Dis ’n jammerte wanneer die uile dan vrek, want een paar nonnetjiesuile kan sowat 3 000 muise per jaar verorber! Ons moet dié diere bewaar omdat hulle nuttige voëls is.

Vind nog uit
Kyk gerus hierdie video as jy meer oor ons geveerde vriende wil leer: bit.ly/geveerdes.

Dit sal help as ’n mens vir hulle broeiplek kan verskaf omdat uile nie self neste bou nie. Hulle gebruik gewoonlik sommer ’n boomholte of ’n ander voël se nes.

'n Mamma-uil voer ’n muis aan haar baba.

Ons kan uilbokse in groot bome in die tuin of op ’n geskikte plek teen ’n muur aanbring om ’n lekker broeiplek te bied.

Die grasuil is in die suidweste van Suid-Afrika en in Lesotho uitgewis weens brande, bosbou en motors wat hulle doodry.

Hulp met skooltake
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk.
Bronne: coolkidfacts.com, sciencelearn.org.nz, natuurinformatie.nl, world-birds.com, sciencekids.co.nz, enchantedlearning.com, thespruce.com, wikipedia.org, livestrong.com, biodiversityexplorer.org. Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features
Blaai na bl. 78 vir ’n inligtingsgrafika oor Suid-Afrika se uilspesies.