Het jy al tradisioneel Suid-Afrikaanse geregte geëet wat sommige mense laat gril? Dink aan afval, skaapkop, beestong of hoenderpote.

Vandag kyk ons na ewe vreemde kossoorte. Van die geregte uit ander wêrelddele is soms gevaarlik of vir sekere mense sommer net grillerig. Watter van hierdie kosse sal jy beproef?

Witchettylarwes in Australië

Die oorspronklike inwoners van Australië beskou die witchettylarwe as ’n lekkerny.

’n Mens moet net ’n witchettyboom vind en in die stam of wortelstelsel vir dié motlarwe grawe. Hulle sê dit proe soos roereier, hoewel die larwe glibberig en koud is.

As jy dapper is, byt die onderste deel van die wurm af en gooi die kop weg. Dan kou jy dit tot net die vel oorbly. Spoeg dit daarna uit.

As jy nie dapper genoeg is nie, kan jy die larwes aan ’n kebabstokkie ryg en oor ’n vuur braai.

Mopaniewurms in Suider-Afrika

Kom ons kyk nou na iets waarvan jy dalk al gehoor het: mopaniewurms. Dié “lekkerny” is die larwe van ’n mot (Gonimbrasia belina) wat in sy ruspestadium eetbaar is. Mopaniewurms staan ook as madora, masonja, ohane en amacimbi bekend.

Dit word in Namibië, Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe geëet. Die mopanieruspe word veral op en naby die mopanieboom gevind.

Die binnegoed word verwyder en die res van die wurm gewas en in ’n brediepot gekook. Talle mense verkies die wurms as knarserige, songedroogde happies.

Dis ’n goeie bron van proteïen vir miljoene mense.

Doerian in Suidoos-Asië

Die doerianvrug van Indonesië en Maleisië

Die doerianvrug van Indonesië en Maleisië is nogal bisar. Dit is met stekels bedek en die vrug se binnegoed is soos ’n mengsel van vla, kaas en inseklarwes.

Die vrug stink so erg dat dit in talle hotelle, moltreine en selfs op straat verbied word.

Party mense hou van die reuk, terwyl ander dit met terpentyn, uie en rou riool vergelyk. Maar hulle sê dit proe lekker; dis nou as die reuk jou nie oorweldig nie.

Haggis in Skotland

Die Skotte se nasionale gereg is haggis, ’n mengsel van skaaphart, -lewer en -longe, asook uie, hawermout, speserye en aftreksel. Dit word in ’n skaapmaag gestop en sowat ’n uur gebak of ’n mens kan dit in ’n pot laat prut.

Die gereg word al langer as 600 jaar geëet en is die hoofgereg tydens ’n Burns-ete op Robert Burns-dag (25 Januarie). Die Skotte vereer hul groot 18de-eeuse digter deur aan haggis met koolraap en aartappels weg te lê.

Die Skotte sluk dit graag af met whisky. Deesdae kan ’n mens klaargemaakte haggis in sekere supermarkte koop.

Escamoles in Mexiko

Die Mexikane is mal oor ’n gereg wat met die eerste oogopslag dalk soos graanslaai lyk, maar dis eintlik mierlarwes.

Escamoles word ook goggakaviaar genoem en word al geëet sedert die dae van die Asteke, 700 jaar gelede.

Die larwes word uit die wortelstelsel gegrawe van plante soos die agawe (garingboom), waarvan tequila gemaak word, en het blykbaar ’n neuterige smaak.

Dit word in botter of warm olie gebraai en in taco’s, omelette of sommer net so geniet. Die voorstanders van escamoles beweer ook dit proe soos maaskaas.

Fugu in Japan

Die Japannese eet fugu, die giftige blaasoppie, nou al langer as 2 000 jaar.

In talle Oosterse lande word dit as ’n groot lekkerny beskou. Die sjefs wat dié duur fynkos maak, moet lank leer om dit reg te berei. Fugu kan in ’n bredie, gebraai of as soesji voorgesit word.

Sowat 50 Japannese kry elke jaar fuguvergifting en enkeles sterf. Die blaasoppie bevat tetrodotoksien, ’n gif wat die senustelsel aantas en tot verlamming lei. Party mense hou daarvan om te voel hoe hul tong ’n bietjie leweloos word.

Te veel fugu kan noodlottig wees.

Die Japannese het nou ’n niegiftige variëteit geteel.

Hákarl in Ysland

Een van Ysland se nasionale geregte is hákarl, oftewel vrot haaivleis.

Die Groenlandse haai se vleis is giftig omdat dit heelwat ammoniak bevat.

Die Yslanders begrawe die haaivleis vir ses weke tot drie maande sodat bakterieë die afvalstowwe kan afbreek. Daarna word die ryp vleis opgegrawe, in stukke gesny en opgehang om ’n paar maande lank droog te word.

Hákarl is ’n aangeleerde smaak. Die meeste mense wil-wil opgooi wanneer hulle dit vir die eerste keer probeer eet. As jy ooit in Ysland kom en oud genoeg is, kan jy dit saam met ’n groot sluk Brennivín, ’n plaaslike brandewyn, beproef.

Paddaboudjies in Frankryk

Dink jy nie ook die Franse kan enige gereg interessant laat klink nie? Neem byvoorbeeld cuisses de grenouilles. Dit is eintlik die gespierde beentjies van paddas.

Die Franse is dol daaroor. Hulle meen dit proe soos hoendervlerkies en geniet dit graag saam met ’n snytjie baguette, oftewel Franse brood.

Hoekom het die Franse dit begin eet?

Blykbaar was die owerheid van die Rooms-Katolieke Kerk op ’n tyd honderde jare gelede oortuig daarvan dat die monnikke te oorgewig raak. Die owerstes het hulle toe glo verbied om sekere tye van die jaar vleis te eet.

Omdat paddavleis nie as vleis beskou is nie, kon hulle dit wel in daardie tyd eet. Die plattelanders het die monnike se voorbeeld gevolg en vandag eet Franse tot 80 miljoen paddas per jaar.

Maar moenie glo dis net die Franse wat paddas eet nie. Paddaboudjies is ook in Chinese kookkuns gewild.

Bronne: READERSDIGEST.CA, THEGUARDIAN.COM, DISCOVERWALKS.COM, DISCOVERAFRICA.COM, BIZARREFOOD.COM, NIPPON.COM, REGIONS-OF-FRANCE.COM, WIKIPEDIA.ORG

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES