Iemand het dalk al vir jou gesê as jy ’n verskietende ster sien, moet jy iets wens. Het jy miskien gewonder wat dit regtig is?

Dié helder strepe in die naglug het niks met sterre te doen nie, maar word in werklikheid veroorsaak deur rotse wat uitbrand wanneer dit die aarde se atmosfeer uit die ruimte binnedring.

En wat van die reuse-asteroïede wat op ’n botsing met ons planeet afstuur wat jy dikwels in rolprente sien? Is dit dieselfde ding?

Ons leer meer oor die verskeie soorte rotse wat ’n mens in die buitenste ruimte kry.

1. Komeet

’n Reuse-bevrore bal van stof en gas wat om die son wentel. Die middelste deel van die komeet word die nukleus genoem.

Wanneer die komeet naby die hitte van die son kom, begin dit gas vrystel, wat ’n wasige wolk om die nukleus vorm. Die wolk word ’n koma genoem, en namate dit in die ruimte van die komeet begin wegvloei, vorm dit ’n stert.

2. Meteoorreën

Dit kom voor wanneer baie meteoroïede terselfdertyd deur die aarde se atmosfeer beweeg en ’n aantal flitse in die naglug veroorsaak wat meteore genoem word.

3. Bolied

’n Vuurbal wat in die aarde se atmosfeer ontplof.

4. Kruipergordel

Dis ’n ring van ysige voorwerpe net buite die wentelbaan van Neptunus, die agtste planeet en die een die verste van die son in ons sonnestelsel.

Die gordel is na die Nederlandse wetenskaplike Gerard Kuiper genoem wat in 1951 die idee gehad het dat daar ’n gordel van ysige voorwerpe anderkant Neptunus moes wees toe die sonnestelsel gevorm is.

Jare later is met sterk teleskope bewys daar is steeds so ’n gordel. Die beroemdste voorwerp daar is die dwergplaneet Pluto. Dis in 1930 ontdek en toe as die negende planeet in ons sonnestelsel beskou, maar is afgegradeer nadat ander, ewe groot voorwerpe ontdek is.

Daar is nog twee dwergplanete in die Kuipergordel, Makemake en Haumea, en een net buite die gordel, Eris. In die asteroïedgordel is ook ’n dwergplaneet, Ceres.

5. Wat is die asteroïedgordel?

Dis ’n plat ring van asteroïede wat tussen die planete Mars en Jupiter om die son wentel. ’n Asteroïed kan drie tot ses jaar neem om om die son te wentel.

Daar is na raming meer as ’n miljoen asteroïede breër as 1 km in die asteroïedgordel.

As ’n asteroïed naby die aantrekkingskrag van ’n planeet kom, kan dit uit die asteroïedgordel getrek word en om die planeet begin wentel. Dit word dan ’n satelliet genoem.

Soms sal ’n komeet of ander hemelliggaam tot in ons sonnestelsel beweeg en een van die ruimterotse in die rigting van die aarde stamp.

6. Meteoroïed

’n Klein stuk rots in die buitenste ruim.

7. Vuurbal

’n Meteoor wat omtrent so helder is as wat die planeet Venus in die oggend of aand lyk.

8. Meteoor

Meteore, algemeen as verskietende sterre bekend, is die flitse lig wat ons in die naglug sien wanneer ’n stuk rots van die buitenste ruimte uitbrand terwyl dit deur die aarde se atmosfeer beweeg.

9. Meteoriet

Dis ’n meteoroïed wat nie in die aarde se atmosfeer uitgebrand het nie en die planeet se oppervlak tref.

10. Skokgolf

’n Skudding of vibrasie wat deur ’n onverwagte gebeurtenis veroorsaak word.

11. Asteroiëd

Dis ’n groot meteoroïed wat 10 m tot honderde kilometers breed is. Wetenskaplikes meen dit is afval wat oorgebly het uit die tyd toe die sonnestelsel gevorm is.

12. Afval

Dit word ook ruimterommel genoem en is die verstrooide oorblyfsels van natuurlike en mensgemaakte voorwerpe wat in die sonnestelsel wentel.

’n Voorbeeld van natuurlike afval kan ’n meteoroïed wees, en ’n voorbeeld van mensgemaakte ruimterommel die oorblyfsels van ’n ruimtetuig wat in die sonnestelsel opgebreek het. Meer as 20 000 stukke afval wentel om die aarde.

So word ’n slagkrater gevorm

Wanneer ’n meteoroïed of asteroïed deur ’n planeet se atmosfeer dring sonder om uit te brand, bots dit teen die planeet se oppervlak. Dit vorm ’n ronde, hol area in die grond.

Die grootste krater ter wêreld is die Vredefortkrater in Suid-Afrika. Dit is meer as 300 km breed en is sowat 2 miljard jaar gelede gevorm. toe ’n asteroïed die aarde getref het.  

Die energie van ’n vinnig bewegende liggaam word in hitte en skokgolwe omgesit wat aardbewings kan veroorsaak. 

Die terugslag van oorsaamgeperste  rots veroorsaak dat afval uit die krater gewerp word. 

Verhitting smelt sommige mate­riaal wat as glaskorrels uit die krater gewerp kan word.

Die rand bestaan uit ver­gruisde, gesmelte rots en stof. Onder die krater is baie breuke in die rots. 

’n Teorie oor wat tot die dinosourusse se dood gelei het

So 66 miljoen jaar gelede tref ’n asteroïed met ’n deursnee van sowat 10 km die aarde aan die kus van wat nou Mexiko se Yucatàn-skiereiland is teen sowat 64 000 km per uur.

’n Paar vlietende oomblikke lank trek ’n vuurbal wat veel groter en helderder as die son lyk deur die lug en tref die aarde toe met ’n plof-energie van meer as 100 triljoen ton TNT.

Die slag dring die aarde se kors binne, ruk ’n krater met ’n deursnee van meer as 185 km oop en verstuif duisende ton kubieke kilometers rots.

Die gebeurtenis sit ’n rits wêreldkatastrofes aan die gang wat 80% van die lewe op aarde uitwis – onder meer alle landdinosourusse. 

Die slag

  • Dit sou ’n ontploffing gelyk aan 100 miljoen megaton TNT veroorsaak, wat meer as ’n biljoen keer die energie was van die atoombomme wat op Hirosjima en Nagasaki laat val is.
  • Die slag sou sowat 200 000 kubieke kilometer sediment en grond verplaas.

Bronne: dkfindout.com, scienceforkidsclub.com, nasa.gov, coolcosmos.ipac.caltech.edu, qrg.northwestern.edu, space.com, astronomy.swin.edu.au, news.nationalgeographic.com, mirror.co.uk, amsmeteors.org, spaceplace.nasa.gov, coolcosmos.ipac.caltech.edu, space.com, scienceforkidsclub.com