Lank gelede . . .

Die Ford Model T is die eerste motor wat vir die gewone publiek vervaardig is en het die motorbedryf gevestig. Foto: Magazine Features

In antieke tye was strydwaens baie gewild vir oorlog­voering en later vir wedrenne. Die stoomenjin is in die 17de eeu uitgevind, maar stoomkrag het eers teen die einde van die 18de eeu in Brittanje tot sy reg gekom.

Teen die 19de eeu het Franse en Duitse ingenieurs die eerste binne­brandenjins gebou. Aan die begin van die 20ste eeu het die Amerikaner Henry Ford eenvoudige en betroubare motors vervaardig (byvoorbeeld die Ford Model T) wat ­gewone mense kon bekostig. Dit het die motorbedryf tot stand gebring.

Sedertdien het motors baie ontwikkel, byvoorbeeld deur die byvoeging van elektriese aansitters en remme vir al vier wiele. 
Vandag is daar gevorderde motors.

Waar Karl Benz se eerste motor in 1886 ’n topsnelheid van 16 km/h kon behaal, kan die meeste moderne motors ’n spoed van meer as 200 km/h bereik.

Spoggerige motors bevat soms spesiale geriewe soos rekenaar­skerms, televisies en selfs yskaste. Ongeag hoe luuks of eenvoudig ­hulle is, motors is ’n belangrike padvervoermiddel.

Die Tesla Roadster is ’n elektriese motor wat met elektrisiteit “vol gemaak” word. Foto: Magazine Features

Brandstof 

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die binnebrandenjin is al langer as ’n eeu betroubaar, prakties en betreklik doeltreffend.

Dis makliker om te beheer as ’n stoomenjin, en jy kan baie verder met ’n tenk petrol kom as wat ’n elektriese motor kan ry voor die battery herlaai moet word.

Maar ál meer mense is bekommerd oor die lugbesoedeling wat deur petrol- en dieselenjins veroorsaak word; daarom is daar opnuut belangstelling in “skoon” elektriese en hibriedmotors.

Elektriese motors

Elektriese motors is nie ’n nuwe uitvindsel nie. Die eerste praktiese elektriese motor is reeds in 1884 vervaardig. Teen die einde van die 19de eeu was daar meer elektriese motors as dié met binnebrandenjins.

Maar goedkoop brandstof en die feit dat elektriese motors nie groot afstande kon aflê nie, het dit teen 1935 ongewild gemaak. Omdat mense bekommerd geword het oor die besoedeling van tradisionele binnebrandenjins wat met petrol of diesel aangedryf word, het belangstelling in elektriese motors sedert die 1990’s weer sterk toegeneem.

Elektriese motors veroorsaak minder besoedeling as petrol- en diesel-aangedrewe motors; daarom is dit ’n omgewingsvriendeliker alternatief, veral in stede, waar mense net kort afstande aflê.

Van buite is dit amper onmoontlik om die verskil tussen ’n elektriese en petrolgedrewe motor te sien, maar elektriese motors maak baie minder geraas.

Onder die enjinkap is daar ’n groot verskil: Waar petrol- en dieselmotors baie pype en uitlaatkleppe het, bevat elektriese motors weer meer draadwerk.

’n Binnebrandenjin het ’n tenk wat brandstof aan die enjin voorsien. Die enjin verbrand die brandstof ten einde die motor se wiele te laat draai.

’n Digte rookmis hang oor Kaapstad. Lugbesoedeling kan talle gesondheidsprobleme veroorsaak, soos swaar asemhaling, ’n gehoes en asma. Foto: Gallo Images/Getty Images

By ’n elektriese motor is daar ’n stel herlaaibare batterye wat elektrisiteit aan ’n elektriese enjin verskaf. Die maatskappy Tesla het in 2006 ’n elektriese motor vervaardig wat verder as 380 km per batterylading kan ry.

Die nuwe model, wat in 2020 verwag word, sal ’n spoed van 400 km/h kan bereik. Dit sal dan die vinnigste motor op aarde wees.

Dié nuwe Tesla Roadster sal meer as 1 000 km kan ry voor die battery herlaai moet word.

Een van die grootste nadele van elektriese motors is dat dit baie duur is om te vervaardig.

Hibriedmotors

Dié Toyota Prius se verfwerk help om elek- trisiteit te bewaar deur die hoeveelheid hitte te verminder wat die kar van die son absorbeer. Foto: Magazine Features

Hibriedmotors is ’n kombinasie van binnebrand- en elektriese enjins.

’n Hibriedmotor bevat dele van albei soorte enjins om die beste eienskappe van elkeen te kan benut.

Omdat elektriese enjins betreklik kort afstande kan aflê voor dit herlaai moet word, probeer hibriedmotors om tegelyk die afstand wat elektriese enjins kan aflê te vergroot en die hoeveelheid besoedeling wat deur binnebrandenjins veroorsaak word te verminder.

Wanneer ’n hibriedmotor wegtrek, word dit aangedryf deur die elektriese enjin, wat krag van die batterye kry.

Elektriese en hibriedmotors moet hul batterye deur middel van ’n kragprop herlaai. Foto: Gallo Images/Getty Images’n Digte rookmis hang oor Kaapstad. Lugbesoedeling kan talle gesondheidsprobleme veroorsaak, soos swaar asemhaling, ’n gehoes en asma. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Hibriedvoertuig soos die Toyota Prius gebruik die elektriese enjin vir krag tot ’n spoed van amper 25 km/h; daarom is hibriedvoertuie doeltreffender vir gebruik in stede, waar ’n mens in druk verkeer baie hortend ry.

Teen hoër snelhede word slegs die brandstofenjin gebruik, want dan is dit op sy doeltreffendste. Teen ’n hoë snelheid kan die brandstofenjin ook elektrisiteit opwek en dit in die batterye berg om later gebruik te word.

’n Kragprop herlaaier. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydens hewige versnelling werk die brandstof- en elektriese enjin saam om krag na die wiele te vermeerder.

  • Kopie: Cum Laude Media

Bronne: auto.howstuffworks.com, businessinsider.com, explainthatstuff.com, sahistory.org.za, wsp-pb.com

Kyk gerus dié video oor hoe motors sedert die 1880’s verander het: