Diamante en goud is nie Suid-Afrika se enigste kosbare grondstowwe nie – steenkool is van groter belang vir die ekonomie as goud.

Steenkoolmynbou is een van die land se belangrikste bedrywe: Die meeste van ons elektrisiteit word opgewek deur steenkool te verbrand en baie mense word so in diens geneem.

Diamante en goud is minerale wat uit anorganiese materiaal ontstaan, maar steenkool bestaan uit plantmateriaal wat baie veranderinge ondergaan het. Ons kyk hoe dit gevorm word.

Soorte steenkool

Hoe meer druk en hitte op steenkool uitgeoefen word, hoe meer verander dit en hoe harder word dit.

Elke soort steenkool bevat verskillende hoeveelhede koolstof en lewer verskillende hoeveelhede energie. 

Veen 

Veen is 'n voor­loper van steen­kool en bestaan uit minder as 60% koolstof.

Ligniet

Dit staan ook as bruinkool bekend en bevat 60-70% koolstof.

Dié soort steenkool is die minste verander – jy kan nog plantstrukture in die steen uitmaak.

Bitumineuse steenkool 

Dit bevat 77-87% koolstof. Dit is die volopste soort steenkool en brand vinnig.

Dit word gebruik om elek­trisiteit op te wek en is belangrik in die maak van yster en staal.

Antrasiet 

Dié steenkool was vir die langste tyd onder die grond en is aan die meeste hitte en druk blootgestel, wat dit die hardste steenkool maak.

Net 1% van die wêreld se steenkool is antrasiet. Dit bevat meer as 87% koolstof, lewer die hoogste vlak van hitte en brand die langste.

Veen, ligniet, bitumineuse steenkool en antrasiet.
Het jy geweet?

Steenkool is ’n nie-hernubare energiebron.

Ons kan nie meer daarvan maak nie, want dit neem miljoene jare om te vorm, en 3 m plantmateriaal verander eindelik in net 30 cm steenkool. Dus soek die wêreld ander, hernubare kragbronne soos son-, wind- en hidroëlektriese (water-)energie.

So word dit gevorm

280 tot 360 miljoen jaar gelede

Veen word gevorm

Steenkool is 'n fossielbrandstof. Dit bestaan dus uit oorblyfsels van antieke plante; ander fossielbrandstowwe, soos olie en gas, bestaan uit die oorblyfsels van diere.

Die regte toestande vir steenkool om te vorm was sowat 300 miljoen jaar gelede tydens die Karboontydperk.

Die aarde was toe grotendeels met woude en moerasse bedek. Namate bome en plante gevrek het, het dit begin verrot en baie lae van 'n dik, deurnat materiaal genaamd veen gevorm.

280 tot 360 miljoen jaar gelede.

100 miljoen jaar gelede

Veen verander in steenkool

Die plantegroeigebiede is dikwels deur oseane en riviere oorstroom, wat dit geleidelik onder lae modder en sand begrawe het. Namate die veen verder begrawe is, het dit warmer en meer saamgepers geword. Onder die ontsaglike hitte en druk is dit in steenkool verander deur ’n proses wat as karbonisasie bekendstaan. Verskillende soorte steenkool kan vorm afhangende van die hoeveelheid hitte en druk en hoe lank dit onder die grond begrawe was.

100 miljoen jaar gelede.

Vandag

Steenkool word gemyn

Steenkool word deur oppervlak- of ondergrondse mynbou uit die grond gehaal. As die steenkoolsoom minder as 61 m onder die grond is, kan dit met oppervlakmynbou bereik word.

Mynwerkers verwyder dan bloot die lae rots wat die soom bedek (wat die bolaag genoem word). Dié soort mynbou is goedkoop, maar het ’n verpletterende uitwerking op die omgewing, want die landskap word uitmekaargeskeur en habitats en ekostelsels vernietig.

Vandag.

Steenkool in Suid-Afrika

Steenkoolmynbou het in omstreeks dieselfde tyd as goudmynbou in die laat 19de eeu in Suid-Afrika begin.

Die land het 'n geraamde 30 miljard ton steenkool – 3,5% van die wêreld se hulpbronne.

Suid-Afrika is die sesde grootste steenkool uitvoerder ter wêreld.

Meer as 80% van Suid-Afrika se steenkool word in Mpumalanga ontgin, maar die reserwes is aan die kwyn en mynbou verskuif nou na die Waterbergstreek.

Steenkool verskaf 82% van die krag wat deur Eskom opgewek word, wat die elektrisiteit is wat ons gebruik om onder meer ons huise en skole aan die gang te hou.


Daar is drie soorte oppervlakmynbou
  • Stroopmynbou: Wanneer die steenkoolsoom naby die oppervlak is, word die bolaag (afval) met plofstowwe verwyder en met reusemasjiene weggevoer. Dit vind op plat of heuwelagtige terrein plaas. Ons noem dit kontoermynbou, want dit volg die riwwe om ’n heuwel.
  • Oopgroefmynbou: Dit word gebruik wanneer die steenkool dieper onder die grond begrawe is. ’n Put word gegrawe om daarby uit te kom. Dit vind gewoonlik op plat gebiede plaas.
  • Bergtopverwydering-mynbou: Die hele kruin van ’n berg word met plofstowwe van sy bolaag gestroop en na ’n vallei weggekarwei. Dit is die vernielendste soort oppervlakmynbou en vind net in dele van Amerika plaas.

Ondergrondse mynbou

Ondergrondse mynbou vind plaas wanneer die steenkoolsome diep ondergronds is. Tonnels word gegrawe om dit te bereik.

Mynwerkers gaan met hysers in skagte af om by die steenkool uit te kom en gebruik swaar masjinerie om dit te ontgin en na die oppervlak te bring.

Meer as die helfte van Suid-Afrika se steenkool word so ontgin.

Het jy geweet?
In Suid-Afrika word sowat 51% van steenkool ondergronds gemyn en 49% met oppervlakmetodes.