Suid-Afrika is ’n land met pragtige landskappe wat berge, riviere en natuurlik die see insluit. Die land het ook ’n bevolking van meer as 55 miljoen mense wat in provinsies, stede en dorpe woon.

Al dié eienskappe word in Suid-Afrika se fisieke en politieke kaarte saamgevat. So word kaarte gemaak As ’n mens vandag enige land se kaart wil sien, gaan jy waarskynlik Google se kaartfunksie gebruik om daarna te kyk.

Maar lank gelede het mense kaarte met die hand geteken. Dit was nogal moeilik om dieselfde kaart oor en oor op presies dieselfde manier te teken; daarom het kaarte dikwels klein verskille gehad.

Jy kan byna enige adres op die aardbol kies en sien hoe dit lyk asof jy self daar is.

Sommige ou kaarte lyk glad nie soos vandag se kaarte nie. ’n Mens sal van die plekke skaars herken. Dit het ook lank geduur om ’n kaart te teken; daarom was min kaarte beskikbaar.

Namate toerusting en tegnologie verbeter het, kon kartograwe hul vaardighede verfyn en het die kaarte wat hulle geteken het ál beter geword.

Die uitvinding van die magnetiese kompas het beteken kaarte het akkurater geword, en met die uitvinding van die drukpers kon dit vir die eerste keer in massas gedruk word.

As iemand dus een kaart kon teken wat akkuraat was, kon honderde of selfs duisende afdrukke van dieselfde kaart gemaak en versprei word.

Vandag gebruik kartograwe rekenaars met spesiale sagteware om nuwe kaarte te maak. Het jy al ooit Google se straataansigfunksie (Google Street View) gebruik?

Tegnologie het oor die jare so gevorder, ons het deesdae amper te alle tye toegang tot kaarte –selfs in ons motors!

Jy kan byna enige adres op die aardbol kies en sien hoe dit lyk asof jy self daar is.

Dié soort kaarte word gemaak deur opwindende tegnologie te gebruik. Die foto’s wat jy op dié manier op Google sien, word geneem deur kameras wat op spesiale voertuie gemonteer word.

Nege kameras word op elkeen van dié voertuie vasgemaak wat saamwerk om ’n 360°-foto (’n prentjie wat reg rondom strek) van ’n plek te neem.

Kartograwe gebruik dan spesiale rekenaartegnologie om die foto’s aanmekaar te “plak”. So kan jy uit die gemak van jou sitkamer deur jou hele dorp stap.

Op plekke waar dit te nou is vir die kamerakarre om deur te ry, gebruik Google fietse en ander metodes om foto’s van byvoorbeeld stegies en voetpaadjies te neem.

Fisieke kaart van Suid-Afrika

Die langste rivier in Suid-Afrika is die Oranjerivier, wat 2 200 km lank is. Sommige fisieke kenmerke, soos riviere, berge en mere, vorm deel van die grense tussen lande.

Natuurlike kenmerke soos riviere, mere, berge, woestyne, watervalle en hoog- en laagliggende gebiede word alles op ’n fisieke kaart aangedui. ’n Mens kan ook bewaringsgebiede en plase op dié kaarte sien.

Dit is belangrik vir byvoorbeeld boere, argitekte en vlieëniers. Fisieke kaarte van ’n spesifieke gebied kan spesiale inligting bevat, soos staproetes of die topografie (hoog- en laagliggende gebiede), wat belangrik is vir stappers.

Hoogtes word op verskillende maniere op kaarte aangedui, meestal met behulp van kontoerlyne. Suid-Afrika het ’n oppervlak van 1 221 000 km², oftewel vier keer die grootte van Italië.

Ons kuslyn strek meer as 2 500 km ver, van die grens met Namibië aan die Atlantiese (westelike) kus suidwaarts tot by die punt van Afrika en dan weer op na die noordooste met die grens van Mosambiek aan die Indiese Oseaan.

Politieke kaart van suid-afrika

Johannesburg is SA se grootste stad.

Grense skei verskillende lande van mekaar.

Op sommige grense, hetsy tussen lande of provinsies of selfs privaat eiendom, is heinings. Soms sal ’n rivier of oseaan ’n grens vorm.

Mense vorm grense om die grondgebied aan te dui wat aan hul land behoort.

Suid-Afrika word deur Botswana, Mosambiek, Namibië, Swaziland en Zimbabwe begrens en dit omring die koninkryk van Lesotho.

Anders as ’n fisieke kaart van Suid-Afrika, dui die politieke kaart mensgemaakte dinge soos internasionale grense, nasionale en provinsiale hoofstede, groot stede, hoofpaaie, spoorweë, hawens en lughawens aan.

Soms sal ’n politieke kaart van Suid-Afrika ook ons buurlande met hul hoofstede aandui.

Suid-Afrika is in nege provinsies verdeel: Gauteng (1), Noordwes (2), Limpopo (3), Mpumalanga (4), KwaZulu-Natal (5), die Vrystaat (6), Noord-Kaap (7), Oos-Kaap (8) en Wes-Kaap (9). Elke provinsie het sy eie hoofstad waar die provinsiale regering se kantoor is. 

Kopie: Cum Laude Media;

Bronne: Almal Verstaan Sosiale Wetenskappe Graad 5 Leerderboek, edulis.pgwc.gov.za, nationsonline.org, wonderopolis.org

Foto's: Gallo Images/Getty Images