Suid-Afrika grens aan ses lande: Namibië (met ’n gedeelde grens van 969 km), Botswana (1 840 km), Zimbabwe (225 km), Mosambiek (491 km), Swaziland (430 km) en Lesotho (909 km). Hierdie buurlande se geskiedenis, ekonomie, natuurlewe en infrastruktuur is ten nouste met dié van Suid-Afrika verweef. Ons kyk vandeesweek na die eerste drie van ons ses buurlande.

’n Herero-vrou in tradisionele drag.

Namibië

Namibië is genoem na die Namibwoestyn, wat sowat 2 000 km al langs sy kus af strek. Die grootste deel van die land word deur ’n hoë plato beslaan. Die sentrale plato is sowat 2 000 m hoog en grens aan die Namibwoestyn in die weste, die Oranjerivier in die suide en die Kalahariwoestyn in die ooste. Die dorre Skedelkus is noord van Swakopmund geleë.

Namibië

Bevolking:

Die hoofstad, Windhoek, het meer as 350 000 inwoners. Namibië is die 34ste grootste land ter wêreld (825 615 km²), maar met net sowat 2,6 miljoen inwoners is dit uiters yl bevolk. Sowat die helfte van die Namibiese nasie is Ovambo’s, maar daar is ook talle ander groepe. Hoewel die amptelike taal Engels is, kry die ander groepe se tale ook erkenning.

Die Oranjerivier vorm die grens met Suid-Afrika.

Dié tale is onder meer Oshivambo, Afrikaans, Duits, Nama, Herero en Tswana.

Koloniale tyd:

Duitsland het Suidwes-Afrika in 1884 sy kolonie gemaak. Maar in die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika die gebied verower (1915) en dekades lank as ’n integrale deel van ons land bestuur. Namibië het eindelik op 21 Maart 1990 onafhanklik geword. Die land handhaaf vandag steeds noue bande met Suid-Afrika.

Ekonomie:

Namibië is Suid-Afrika se sewende grootste handelsvennoot op grond van uitvoer na dié buurland. Mynbou verdien baie geld vir die Namibiese staatskas, veral deur die uitvoer van diamante, koper, goud, sink, lood en uraan.

Die halfmensplant (Pachypodium namaquanum) groei naby die Oranjerivier.

Nog inkomstebronne is toerisme, vervaardiging (soos bierbrouery), die landbou (veeteelt) en vissery. Die Namibiese dollar is gelykwaardig aan die rand; die rand word dus ook daar as betaalmiddel aanvaar.

Toerisme:

Derduisende Suid-Afrikaners hou jaarliks vakansie in die mooie Namibië. Baie mense besoek die asemrowende 160 km lange Visriviercanyon, die grootste in Afrika. Die Nasionale Etoshawildtuin kry ook groot aftrek en het meer as 22 000 spesies fauna en flora.

Die Christuskerk en ’n standbeeld van oudpres. Sam Nujoma.

Kusdorpe soos Lüderitz en Swakopmund lok besoekers danksy hul interessante Duitse karakter. Die paaie en spoorverbinding in hierdie buurland is besonder goed. Daar is ook talle grensposte, soos Vioolsdrif, Nakop en Onseepkans. Onthou om jou paspoort saam te neem as jy die grens wil oorsteek!

Botswana

Botswana het geen kuslyn nie. Die twee belangrikste geografiese eienskappe van Botswana is die Okavangodelta in die noorde en die Kalahariwoestyn, wat sowat 70 persent van die land beslaan.

Botswana

Bevolking:

Met onafhanklikheid is Betsjoeanaland se naam na Botswana verander na aanleiding van die grootste bevolkingsgroep, die Batswana. Hoewel Engels die amptelike taal is, praat sowat 80% van die bevolking Tswana. Daar is sowat 2,3 miljoen mense in dié land, wat 581 730 km² beslaan. Die hoofstad, Gaborone, het sowat 250 000 inwoners.

Gaborone, die hoofstad, is ’n klein maar moderne stad.

Koloniale tyd:

Voor Europeërs hul opwagting gemaak het, is die land beheer deur stamme wat vee aangehou en hul eie kos gekweek het. In 1885 het die Britte die land as ’n protektoraat oorgeneem. Sedert onafhanklikwording in 1966 geniet Botswana ’n stabiele regering, ekonomiese groei en harmonie tussen verskillende stamme en bevolkingsgroepe.

Ekonomie:

Botswana se vernaamste bedrywe wentel om diamante, koper, nikkel, sout, tekstiel en vleis. Daar word ook onder meer met mielies en sorghum geboer. Wat Suid-Afrika se uitvoer van onder meer voedsel, masjinerie, brandstof, hout- en metaalprodukte betref, is Botswana ons sesde grootste handelsvennoot. Botswana se geldeenheid, die pula, is danksy die land se stabiliteit sowat 25% sterker as die rand.

Die Okavangodelta lok baie toeriste.

Toerisme:

Die ongerepte natuur en wilde diere van dié droë land lok baie toeriste. Hulle besoek veral die pragtige wildtuine, soos die Nasionale Sentraal-Kalahari- park, die Nasionale Chobepark en die Kgalagadi-oorgrenspark (sien “Oorgrensparke” onder).

Zimbabwe

Zimbabwe

Nes Botswana het Zimbabwe nie ’n kuslyn nie. Die land het ’n hoë plato met ’n hoëveld en berge in die ooste. Die plato daal af na die Zambezivallei in die noorde en die Limpopovallei in die suide.

Bevolking:

Daar is na raming meer as 16 miljoen mense in Zimbabwe. Die meeste (sowat driekwart) is Shona en die grootste minderheid Ndebele. Engels is die amptelike taal. Daar woon sowat 1,6 miljoen mense in die hoofstad, Harare. Koloniale tyd:

Die Britte het in die 1880’s in die gebied betrokke geraak en dit Rhodesië genoem ter ere van die mynmagnaat en ryksbouer Cecil John Rhodes. Die gebied is formeel in 1923 geannekseer. Die wit regering het in 1965 eensydig onafhanklikheid van Brittanje verklaar, maar die land het eindelik in 1980 sy volle onafhanklikheid verkry en die naam Zimbabwe aangeneem. 

Die Victoriawaterval is ’n groot toeristeaantreklikheid in Zimbabwe.

Ekonomie:

Gegrond op Suid-Afrika se uitvoer, was Zimbabwe verlede jaar ons 13de grootste handelsvennoot. Zimbabwe voer veral goud, platinum, katoen, tabak, ysterallooie en tekstiel uit. Die ekonomie het sowat 10 jaar gelede byna in duie gestort weens hiperinflasie, en van toe af is die Zimbabwiese dollar waardeloos.

Grondonteiening het die landbousektor lamgelê en baie Zimbabwiërs is werkloos, ly honger of het na buurlande uitgewyk.

Ons noordelike buurland is na die bouvalle van Groot-Zimbabwe genoem.

Toerisme:

Die laaste jare se politieke en ekonomiese krisisse in Zimbabwe het toerisme benadeel. Die land het asemrowende toeristeaantreklikhede, soos die beroemde Victoriawaterval en Groot-Zimbabwe, ’n antieke argitektoniese monument waarna die land genoem is.

Met ’n nuwe president aan die bewind sal Zimbabwe dié bedryf hopelik weer op dreef kan kry. As jy per motor reis, sal jy die grens by Beitbrug oorsteek.

Oorgrensparke

’n Oorgrenspark bestaan gewoonlik uit twee (of meer) aangrensende gebiede weerskante van landsgrense waar die klem op natuurbewaring val. Dit berus op die idee dat die natuur en ekostelsels nie van landsgrense weet nie.

Sulke parke wat in twee of meer lande is, skep ’n netwerk van beskermde gebiede met ekostelsels wat ineengevleg is. Ons het ’n paar van hierdie soort parke:

  • 1. Die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark (Namibië en Suid-Afrika).
  • 2. Die Kgalagadi-oorgrenspark (Botswana en Suid-Afrika).
  • 3. Die Limpopo/Shashe-oorgrensbewaringsgebied (Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe).
  • 4. Die Groot Limpopo-oorgrenspark  (Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe).
  • 5. Die Maloti-Drakensberg-oorgrensbewarings-en-ontwikkelingsgebied (Lesotho en Suid-Afrika).

Bronne: Borders.sars.gov.za, Worldstopexports.com, Kids-word-travel-guide.com, Kids.britannica.com, Wiki.kidzsearch.com, Ducksters.com, Sanparks.org, Tfpdco.za, Wikipedia.org
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Alarmy/Magazine.co.za