Ons weet Suid-Afrika deel ’n grens met ses lande – Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Swaziland en Lesotho. Verlede keer het ons jou vertel van die eersgenoemde drie buurlande, en nou kyk ons na ons groot oostelike buurland, Mosambiek, en twee kleinste buurlande, Swaziland en Lesotho.

Mosambiek

Het jy geweet die land is genoem na ’n eilandjie aan die noordkus? Dié eiland is op sy beurt na die Arabiese sultan Mussa Bin Biki genoem wat sowat 500 jaar gelede daar geheers het.

Die eiland was tot 1898 die sentrum van die Portugese koloniale regering.

Die land Mosambiek is in die suidooste van Afrika geleë en word deur die Mosambiekkanaal van die eilandstaat Madagaskar geskei.

Mosambiek het ’n tropiese klimaat met vrugbare grond en baie potensiaal.

Bevolking:

Mosambiek se bevolking is na raming sowat 28 miljoen mense. Die land beslaan 801 590 km2 en is dus byna so groot soos Namibië.

Maputo is die hoofstad en is bekend vir sy naglewe en diep hawe.

Die amptelike en algemeenste taal is Portugees, maar ander tale soos Emakhuwa, Xichangana en Elomwe word ook gepraat.

Maputo is Mosambiek se hoofstad en grootste stad.

Onafhanklikheid:

Die hele Suider-Afrika, insluitend Mosambiek, is van die vroegste tye af deur die San bevolk. Sowat 2 000 jaar gelede het Bantoesprekende stamme na die streek getrek.

Later het Arabiere handelsposte langs die kus gevestig. Die Portugese het in 1498 gekom en algaande beheer geneem van die land. Mosambiek het eers in 1975 onafhanklik geword.

Burgeroorlog en onstabiliteit het tot in die 1990’s verwoesting gesaai, maar sedertdien gaan dit baie beter met die land en sy bevolking.

Toeriste geniet die strand van Inhambane in Mosambiek.

Ekonomie:

Mosambiek is Suid-Afrika se negende grootste handelsvennoot wat ons uitvoer betref.

Die land se vernaamste landbouprodukte is katoen, kasjoeneute, suikerriet, tee, kassawe (broodwortel) en mielies.

Mosambiek is bekend vir sy seekos. Dié handelaar verkoop tiergarnale.

Boere lewer ook beesvleis en pluimvee.

Mosambiek het volop natuurlike hulpbronne soos steenkool, titanium, aardgas en aluminium. Die land wek ook hidroëlektriese krag op wat uitgevoer word.

Nog gewilde uitvoerprodukte is garnale, sitrusvrugte en hout.

Mosambiek voer masjinerie, toerusting, voertuie, brandstof, chemiese en metaalprodukte asook voedsel en tekstiel in. Die geldeenheid in Mosambiek is die metical.

Toerisme:

Mosambiek is aan die kus geleë en is ’n gewilde vakansie- en duikbestemming. Toeriste geniet die land se ongerepte sandstrande en asemrowende natuurskoon.

Die land het talle wildtuine, soos die Nasionale Gorongosapark.

Maar die toerismebedryf kan nog baie ontwikkel word om heelwat meer werkgeleenthede te skep.

Swaziland

Die land is genoem na koning Mswati II, wat van 1840 tot 1868 regeer het.

Die koninkryk van Swaziland is tussen Suid-Afrika en Mosambiek geleë. Van wes na oos word Swaziland gekenmerk deur sy hoëveld, middelveld, laeveld en die Lubombo-platorand. Die land het ’n oorwegend subtropiese klimaat. 

Bevolking:

Swaziland was tot 1968 onder Britse beheer; dus is Engels en Swazi die amptelike tale.

Die koninkryk het sowat 1,3 miljoen inwoners en Mbabane is die hoofstad. Dis ’n klein land van net 17 364 km2.

Sowat driekwart van die bevolking leef van bestaansboerdery.

Mbabane is die hoofstad van Swaziland.
 Koning Mswati III is Swaziland se koning en neem al die regeringsbesluite. Hy het onlangs gesê hy wil die land se naam na eSwatini verander. 
Koning Mswati III (in die middel).

Ekonomie:

Die belangrikste mynbouaktiwiteite is die ontginning van asbes, diamante en steenkool. Swaziland verdien ’n groot deel van sy inkomste uit die opbrengs van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie.

Die land voer motors, masjinerie, voedsel, petro­leumprodukte en chemikalieë veral uit Suid- Afrika in. Die geldeenheid is die lilangeni.

Tot 40 000 vroue neem deel aan die Umhlanga-rietdans ter ere van die koningmoeder.

Toerisme:

Die meeste toeriste kom van Suid-Afrika. Die hotel-en-casinokomplekse in die Ezulwini­vallei en by Piggs Peak in die noorde en Nhlangano in die suide vorm die ruggraat van dié bedryf.

Lesotho

Lesotho, ’n bergagtige land in die Drakensbergstreek, staan ook bekend as die bergkoninkryk en word volkome deur Suid-Afrika omsluit.

Die land beslaan ’n oppervlak van 30 355 km2. Dit was die tuiste van die Khoisan tot die Sotho’s onder koning Moshoeshoe I die streek in die 19de eeu oorgeneem het.

Bevolking:

Die Basotho vorm die oorgrote meerderheid van die bevolking van sowat 2,2 miljoen inwoners. Daar is ook ’n minderheid Zoeloes in die land.

Sotho en Engels is die amptelike tale in Lesotho. Die hoofstad, Maseru, het nagenoeg 230 000 inwoners.

Lesotho se ruwe berge is ’n paradys vir buiteluggeesdriftiges.

Onafhanklikheid:

Lesotho het in die 19de eeu onder Britse beskerming gekom en het destyds as Basotholand bekendgestaan.

Die land het in 1966 onafhanklik geword.

Ekonomie:

Die hoofbedrywe van Lesotho is voedsel, tekstiel, die boubedryf en toerisme.

Die Basotho boer met mielies, koring, sorghum en vee. Die land is ryk aan water, weilande en natuurlike hulpbronne soos diamante, sand, klei en boustene.

Die ontwerp van dié kunsvlytsentrum in Maseru is op die land se tradisonele hoed geskoei.

Lesotho voer veral klere, skoene, wol en vee uit. Die land voer voedsel, voertuie, masjinerie en petroleumprodukte in.

Die geldeenheid in Lesotho is die loti, maar die rand word algemeen as betaalmiddel aanvaar.

Toerisme:

Omdat Lesotho meestal op ’n hoogte van 1 300 m bo seevlak geleë is, is die bergkoninkryk ’n plek van uiterstes, avontuur en asemrowende berguitsigte.

Die landskap lok viertrekgeesdriftiges, voetslaners en, in die wintermaande wanneer sneeu die berge bedek, skiërs.

Wildtuine soos die Nasionale Sehlabathebepark in die suide met sy uiteenlopende diere en plante kry groot aftrek by besoekers aan die land.

Lesotho-Hoogland-waterprojek

Die multimiljardrandprojek tussen Suid-Afrika en Lesotho het die weg gebaan vir vreedsame samewerking en wedersyds voordelige maatskaplike ontwikkeling.

Die twee lande het die ooreenkoms in 1986 gesluit om water uit Lesotho se berge op te vang en aan Suid-Afrika te verskaf, en ook hidroelektriese krag vir Lesotho op te wek.

Fase 1 het die bou van tonnels en damme behels, insluitend die 185 m hoë Katsedamwal (foto bo) om water van die Oranje- na die Asrivier weg te lei.

Fase 2 is tans in aanbou en sluit die bou van die Polihalidam en watertonnels in.

Bronne: britannica.com, worldstopexports.com, wiki.kidzsearch.com, ducksters, visitlesotho, wikipedia.org, aurecongroup.com; Foto's: Getty images/Gallo images, Magazine Features.co.za, AAI/Fotostock SA