Die vroegste inwoners van Egipte het hulle meer as 8 000 jaar gelede as jagters en vissers aan die oewer van die Nylrivier gevestig.

Later het hulle boere geword en dorpe en stede gebou. Hulle het met naburige streke handel gedryf en geleer om met bote te seil.

Sowat 5 000 jaar gelede het ’n belangrike beskawing ontwikkel wat groot hoogtes bereik het.

Die oorblyfsels van tempels en piramides – reusagtige grafstrukture – herinner ons vandag nog aan die vindingrykheid van die Egiptenare.

Ons kyk na dié vergange kultuur en die monumente – veral die piramides – wat hulle agtergelaat het.

Die Nyl bring lewe

Die Nyl is die langste rivier in Afrika en het elke jaar vrugbare slik in sy vloedwater na die dorre woestyn gebring.

Dit het die inwoners van Egipte in staat gestel om landbou en veeteelt te beoefen, veral in die Nyldelta.

Dit is die gebied aan die kus waar die Nyl uitwaaier voor dit in die see uitloop. Die ou Egiptenare het gort en koring gekweek vir brood en bier.

Hulle het ook vrugte en groente geplant en katoen geoes om klere en linne van te maak.

Hulle het baie beeste, skape en bokke gehad. Hul vee en oeste kon baie mense van voedsel voorsien. Danksy hierdie oorvloed het stede soos Waset (Thebe), Men-nefer (Memfis) en baie ander tot stand gekom.

Daar het ook koninkryke in Bo-Egipte (naby die huidige Soedan) en Benede-Egipte (die Nylstreek tot aan die kus) ontstaan. Dié twee koninkryke is in 3100 v.C. verenig deur ’n magtige koning wat ’n farao genoem word.

Die vrugbare oewers van die Nylrivier, waar papirus volop groei, met die dorre woes­tyn op die agtergrond. Foto: Gallo Images/Getty Images

Farao’s het reusagtige tempels, piramides en ander indrukwekkende monumente gebou om aan hul onderdane en die wêreld te wys hoe magtig hulle is.

Omdat die Egiptiese beskawing om ’n groot rivier ontstaan het, was bote baie belangrik as vervoermiddel.

Die Egiptenare het dit gebruik om vis te vang, te jag en hul handelsware mee te karwei. Hulle het ook mense met die bote vervoer.

Daar was groot vragskepe wat enorme klipblokke na die plek moes verskeep waar die farao’s hul tempels en piramides gebou het.

By sy afsterwe en nadat sy oorskot gebalsem en in linne toegedraai is, is die farao se mummie (lyk) op so ’n groot versierde vragskip na sy grafkelder in ’n piramide geneem.

Die doodsmasker van die farao Toetankamen, wat in die tydperk van die Nuwe Ryk geleef het. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Borsbeeld van Nefertiti (1370-1330 v.C.), hoofvrou van Achenaten, ’n Egiptiese farao.

Tydperke

Egipte het ’n baie lang geskiedenis. Ons deel die geskiedenis van antieke Egipte in vier hoofperiodes in:

Die vroeë periode het nagenoeg 400 jaar geduur nadat die farao Menes die twee koninkryke verenig en die hoofstad, Memfis, gestig het.

Dis die tyd toe die Egiptenare begin tempels en paleise bou het, intensief begin boer en hiërogliewe (hul ingewikkelde prentjieskrif met meer as 700 tekens) ontwikkel het.

Die Ou Koninkryk (sowat 2686 v.C. tot 2181 v.C.) is die tweede tydperk toe die Egiptiese farao’s ál groter en beter piramides begin bou het.

Dit het sowat 500 jaar geduur. Die grootste en indrukwekkendste piramides is in dié tydperk gebou. Die piramidebouery het egter baie gekos en dit het Egipte se ekonomie geknou.

Teen die einde van hierdie periode het die land in ’n chaos verval en verdeeld geraak.

Die Middelryk het sowat 200 jaar geduur. Die land is ná die chaotiese tussentydperk weer in 2055 v.C. verenig. Dis die tyd toe die kunste ’n groot oplewing getoon het, veral die argitektuur en letterkunde.

Die Egiptenare het diplomatieke en handelsbande met Sirië, Kanaän en ander lande aangeknoop. Hulle het ook myne en militêre vestings gebou.

’n Groep volke, wat saam as die Hyksos bekendstaan, het Egipte egter vanuit Kanaän ingeval en baie jare regeer. Hulle is eindelik deur Egiptiese magte van Thebe verdryf.

In die tyd van die Nuwe Ryk (1567 v.C. tot 1085 v.C.) het Egipte tot die magtigste land van die destydse wêreld verrys.

Die Egiptiese ryk het gestrek van Nubië (Soedan) tot aan die Eufraatrivier in Asië.

Die stele (gedenksteen) van Anch- ef-en-Chonsoe, waarvan die hiërogliewe se skryf­rigting elke keer verander.

Waarvoor is die piramides gebruik?

Die piramides was grafkelders vir die farao’s en hul families.

’n Farao se piramide was ook ’n statussimbool wat gewys het hoe magtig hy is. Tot dusver is meer as 130 piramides ontdek. Dis onseker hoe die piramides gebou is.

Kenners is dit eens dat groot mensgemaakte hellings gebruik is om die swaar klipblokke op hul plek te kry. Dit het ’n werkmag van 20 000 mans sowat 20 jaar geneem om die bouwerk van een piramide af te handel.

Die farao Djoser, wat in die tydperk van die Ou Koninkryk geleef het, het die argitek, geneesheer en priester Imhotep rondom die jaar 2630 v.C. gevra om vir hom ’n grafmonument te ontwerp.

So het die wêreld se eerste steengeboukompleks, die trappiramide by Sakkara naby Memfis, tot stand gekom. Dit het tot vandag behoue gebly. Die piramidebouery het ’n kruin bereik met die bou van die Groot Piramide by Giza naby Kaïro.

Dit is gebou vir die farao Choefoe (Cheops in Grieks), wat van 2589 v.C. tot 2566 v.C. regeer het. Sy groot piramide is deur destydse geskiedkundiges aangewys as een van die antieke wêreld se Sewe Wonders.

Mummies

’n Mummie word uitgestal in die Britse Mu­seum. Foto: Gallo Images/Getty Images
Anoebis, die god wat met mum­mifisering verbind is, waak oor ’n mummie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die hiernamaals was in die Egiptiese godsdiens baie belangrik. Hulle het geglo ’n dooie se liggaam moet bewaar word sodat die siel vir ewig daarin in die hiernamaals kan voortleef.

Om die liggaam te bewaar, het hulle dit gemummifiseer. Dit was ’n proses wat sowat 70 dae geduur het.

Die priester in beheer het ’n jakkalsmasker gedra wat die god Anoebis voorgestel het. Die liggaam is gewas en gesuiwer. Die organe, behalwe die hart, is verwyder.

Die lyk is dan met ’n soort sout uitgedroog.

Die mummie is met saagsels of linne opgestop, in verbande toegedraai en met ’n doodskleed bedek. Dit is dan in ’n sarkofaag, ’n doodskis van klip, gesit – gereed vir die hiernamaals. Die Egiptenare het ook mummies van diere, veral heilige voëls en katte, gemaak.

Einde van die kultuur

Oorname deur ander lande en die koms van die Christendom het die einde van die Egiptiese kultuur beteken.

Selfs die Egiptiese taal het verlore gegaan en is mettertyd deur Arabies vervang. Dit het honderde jare geduur voor ons hul skrif weer kon ontsyfer.

Danksy die egiptologie, die studie van antieke Egipte, sy kultuur en geskiedenis, weet ons vandag baie meer van daardie ou beskawing. 

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by Huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk. 

Bronne: History.com, Natgeokids, BBC.co.uk, Sosialewetenskap.wikispaces.com, Mieliestronk.com