Suid-Afrika het ’n landskap wat ’n habitat aan baie soorte wilde diere bied – van woude, savannes en grasvelde tot halfwoestyn- en dorre woestyngebiede.

Hoewel landboubedrywighede en -nedersettings baie wilde diere uit hul natuurlike omgewing verdring, kom hulle nog voor in ons talle wildreservate en nasionale parke, maar ook plek-plek op die platteland.

Ons kyk na die wilde diere bekend as die Groot Vyf en fokus dan op die kameelperd – ’n dier wat ongewoon lyk as gevolg van sy laaaang nek.

Die Groot Vyf

Die Groot Vyf is deesdae die hoofaantrekkingskrag vir toeriste wat ons wildreservate besoek. Vroeër jare is dié groep diere – die Afrika-olifant, Kaapse buffel, renoster (swart en wit), leeu en luiperd – die Groot Vyf genoem omdat grootwildjagters hulle so graag wou skiet en omdat hulle as die moeilikste diere om te jag beskou is.

Die eerste drie is knorrige herbivore (plantvreters) en die laaste twee gevaarlike karnivore (vleisvreters) wat ander diere jag en verslind.

Vleisvreters

Wilde diere soos die leeu en luiperd wat ander diere jag om hul vleis te eet, word roofdiere genoem. Safarigangers wil altyd graag leeus sien. Hoewel hulle eens op ’n tyd volop was, is na raming nou net 20 000 leeus oor.

Leeu

Dié diere van die savannes hou in troppe van sowat vyf tot 15 diere. Hulle het geen natuurlike vyande behalwe jagters nie. Luiperds, wat nes leeus lede van die katfamilie is, is skugter roofdiere wat gewoonlik in die nag aktief is.

Hulle jag ’n groot verskeidenheid diere, van goggas tot elande. Hulle is atletiese katte wat dikwels hul prooi in bome optrek om dit teen aasvreters en ander roofdiere te beskerm.

Luiperd

Aasvreters is diere wat nie sal skroom om dooie diere te vreet nie. Hulle vreet aan diere wat vanweë natuurlike oorsake dood is of hulle vreet die karkasse skoon wanneer die roofdiere daarmee klaar is.

Aasvoëls, jakkalse en hiënas is voorbeelde van aasvreters, maar selfs roofdiere, soos die leeu, sal ook aan aas vreet as hulle honger is.

Plantvreters

Die roofdiere se prooi is gewoonlik vreedsame herbivore (plantvreters) wat in troppe wei. Sommige plantvreters kan wel ook gedugte teenstanders wees. Buffels is kragtige diere wat tot die beesfamilie behoort en in groot troppe van tot 450 in oop bosveld op growwe gras wei.

Dié lid van die Groot Vyf het min vyande en kan tot 56 km/h hardloop.

Kaapse buffel

Buffels dwing selfs by leeus respek af. Gewoonlik sal roofdiere net die ou buffels of swak kalfies as prooi vang. Olifante is sosiale diere en die koeie is in beheer. ’n Volwasse olifant eet tot 300 kg gras, bas, takke en blare op ’n dag.

Olifantkoeie is tot 22 maande dragtig. Jong bulle verlaat die trop wanneer hulle tieners is, maar die ma-dogter-band kan tot ’n halfeeu duur. Hul grootte sorg daarvoor dat hulle ook min natuurlike vyande het, maar olifantkalfies word soms deur leeus en krokodille gevang.

Olifante kan nogal vinnig hardloop – tot 40 km/h. Dis selfs vinniger as wat ’n mens kan hardloop! Renosters, die laaste lid van die Groot Vyf, word in witrenosters en swartrenosters verdeel. Die witrenoster, ’n grasvreter, is groter as die swartrenoster, wat blare vreet, en laasgenoemde is ook skaarser (kritiek bedreig).

Wit­renoster
Swartrenoster

Die verskil tussen die twee soorte kan aan die bolip gesien word. Die witrenoster se lip is vierkantig en die swartrenoster s’n gepunt. Die mens is hul vyand. Stropers wat hulle vir hul horings skiet, is besig om dié diere finaal uit te wis. Die horings is gesog in die Ooste, waar dit vir twyfelagtige medisyne gebruik word.

Die kameelperd (Giraffa camelopardalis)

Kameelperd

Hierdie dier met sy lang nek is op meer as 5,5 m die langste landsoogdier ter wêreld. Al is die nek so lank, bevat hy net sewe nekwerwels nes die meeste ander soogdiere – jy ook!

Vanweë sy lengte het die kameelperd ’n ingewikkelde bloedsomloopstelsel wat met ’n enorme hart van meer as 10 kg aan die gang gehou word. ’n Groot bul kan meer as 1 200 kg weeg en ’n koei meer as 900 kg.

Elke kameelperd het ’n unieke blokpatroon op sy vel. Die bulle en koeie het kort horinkies wat met vel bedek is. Kameelperde het ook die langste stert van alle landsoogdiere – tot 2,4 m lank!

Dieet

Danksy hul lang nekke kan kameelperde die blare hoog in bome eet waar ander plantvreters nie kan bykom nie. Hul bene is ook tot 1,8 m lank om meer lengte te verskaf. Die kameelperd het boonop die langste tong van alle landsoogdiere.

Dis pers-swart en tot 50 cm lank. Die tong is aangepas sodat die kameelperd nie seerkry wanneer hy doringtakkies met sy tong stroop nie.

Nadeel van sy lengte

As ’n kameelperd gaan lê, vou hy sy bene onder sy lyf in. Dis dan nogal ’n gesukkel om orent te kom, hoor! Die voorste bene word eers half uitgevou en die nek word na agter geswaai om die gewig van die voorste bene af te neem.

Die nek word dan vorentoe geswaai om die gewig van die agterbene af te kry. Deur hierdie beweging te herhaal kan die kameelperd eindelik op die been kom. Omdat dit so ’n gesukkel is, slaap hulle gewoonlik sommerso staan-staan.

Voortplanting

’n Kameelperdkoei is 457 dae lank dragtig, waarna ’n enkele kalfie gebore word. By geboorte is hulle so lank soos ’n deursneemens en weeg hulle ongeveer 100 kg.

Net sowat die helfte van alle kameelperdkalfies oorleef omdat leeus, hiënas en luiperds op hulle jag maak. Ná vier of vyf jaar is jong kameelperde ook gereed om voort te plant. Hulle word sowat 20 tot 30 jaar oud.

Gedrag

Kameelperde is taamlik sosiaal en kom elke nou en dan in troppe saam, maar hulle het nie groot troppe soos buffels nie. Die jonges bly saam met ’n paar koeie.

Die bulle voer ’n meer nomadiese bestaan, maar beweeg ook tussen groepe koeie. Hulle sal oor koeie baklei deur mekaar met hul lang nekke te slaan en hul nekke om mekaar te vleg.

Kameelperde is egter meestal rustige diere. Jy kan gerus in ’n wildtuin gaan kyk hoe hierdie mooi diere in die natuur lyk. 

Kameelperde

Kameelperdkenners het in 2016 vasgestel kameelperde is nou kwesbaar vir uitwissing. Die verlies van hul habitat en onwettige jagtogte bedreig hulle.

Hul bevolking het drasties afgeneem tot net 90 000. In die hele Afrika is nou vier keer soveel olifante as kameelperde.

Foto's: Gallo Images/Getty Images. Kopie: Cum Laude Media

Bronne: krugerpark.co.za, wildnatureinstitute.org, big5.southafrica.net, wwf.org.uk, wwf.panda.org, wikipedia.org