Judaïsme is die oudste van die wêreld se godsdienste wat net een godheid aanhang. Die Christelike geloof en Islam is die grootste van hierdie soort godsdienste.

Judaïsme is die kleinste met rondom 14,7 miljoen Jode wêreldwyd. In geheel is dit die 10de grootste godsdiens. Daar is sowat 75 000 Jode in Suid-Afrika. 

Wat is Judaïsme?

Jode glo daar is een ewigdurende God, YHWH (Jahwe) of Adonai, wat die heelal geskep het en daaroor heers.

Die heilige Joodse boek word die Tora (“opdragte” in Hebreeus) genoem en vertel van die verbond wat God met Abraham aangegaan het.

Abraham  staan bekend as die vader van die Joodse mense. God het hom beloof sy nageslag sal God se uitverkore mense wees en dat Hy hulle sou beskerm as hulle sy wette gehoorsaam.  

Die verbond

Sowat 4 000 jaar gelede het God vir Abraham gesê om sy tuiste in Meso­potamië te verlaat en na die Beloofde Land te reis. Vandag staan die Beloofde Land bekend as Israel, genoem na Abraham se kleinseun Jakob, wat later die naam Israel gekry het.

Jakob het 12 seuns gehad, en die 12 stamme van Israel het uit hulle gespruit. Hierdie mense staan bekend as die Israeliete. Die name Ju­daïsme en Jode is afgelei van die stam van Juda.  

Eksodus

Die Westelike Muur in Jerusalem is al wat oor is v
Die Westelike Muur in Jerusalem is al wat oor is van die Jode se tempel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Later was die Israeliete omtrent 400 jaar lank slawe in Egipte.

God het toe die profeet Moses gestuur om hulle uit slawerny te bevry en uit Egipte na die Beloofde Land te lei. Moses het sy mense deur die Rooisee gelei en by Berg Sinai kamp opgeslaan.

Daar is die Tien Gebooie aan die Joodse mense gegee, asook die 613 gebooie (mitzwot), wette van God wat die Israeliete moes gehoorsaam.

Ná 40 jaar in die woestyn het hulle in die Beloofde Land aan­gekom. Die rigters het daar oor die 12 stamme geheers.Saul het omstreeks 1046 voor Christus (v.C.) die eerste koning van Israel geword en die 12 stamme verenig.

Nadat Saul ongehoorsaam was aan God, het Dawid die nuwe koning geword. Hy het die stad Jerusalem omstreeks  1000 v.C. verslaan en dit die hoofstad van die Israelse koninkryk gemaak.

Sowat 40 jaar later het Dawid se seun Salomo die Eerste Tempel gebou.  

Verstrooiing

Die Westelike Muur in Jerusalem is al wat oor is v
Die Westelike Muur in Jerusalem is ’n heilige plek waar Jode bid. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Baie mense plaas stukkies papier met gebede aan Go
Baie mense plaas stukkies papier met gebede aan God in die muur se krake. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die Jode het honderde jare in Israel en Juda, twee koninkryke in die Beloofde Land, gewoon. Israel het eerste tot niet gegaan. Die Babiloniërs het Juda in die sesde eeu v.C. ingeval en die Jode na Babilon (in die huidige Irak) weggevoer.

Tien jaar later is die Eerste Tempel in Jerusalem verwoes.

Baie Jode het teruggekeer en die Tweede Tempel gebou, maar die Romeine het die land weer ingeval en in 70 ná Christus die tempel en die stad Jerusalem verwoes. Die Jode is oor die hele wêreld verstrooi.

Dit staan bekend as die diaspora. Dit het ’n verandering in die Joodse wyse van aanbidding meegebring omdat Jode nie meer in ’n tempel offerandes kon bring nie. 

Sinagoges

Die Joodse plek van aanbidding staan bekend as ’n sinagoge. Die Tora word daar bewaar en gereelde dienste word gehou. Dis ook ’n middelpunt van die Joodse gemeen­skap.

Die woord sinagoge kom uit Grieks en beteken dieselfde as die Hebreeuse benaming beit knesset (huis van samekoms). Sedert die Babiloniese ballingskap kan ’n mens sinagoges in elke land vind waarheen die Jode uitgewyk het. 

Oorgangseremonies

Die Jode het spesiale seremonies en gebruike vir belangrike oorgange in die mens se lewe. Daar is spesifieke tradisies vir die geboorte van ’n kind en wanneer iemand doodgaan.

Die belangrikste seremonie vir seuns en meisies in hul tienerjare is seuns se barmitswa en meisies se batmitswa. Dit vind gewoonlik plaas wanneer seuns 13 en meisies 12 is. Dit lui die oorgang na volwassenheid in.   

Lewenswyse

Tradisionele Jode wat kasjroet oftewel godsdiensreëls volg, eet net sekere soorte kos wat volgens spesiale voorskrifte berei is. Sulke kos wat Jode mag eet, word kosjer kos genoem. Tradisionele Jode is versigtig oor wat hulle eet.  

Joodse feeste

Die kerse in die menora word tydens Chanoeka een vir een oor agt dae aangesteek. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die dreidel is ’n soort klimtol waarmee kinders ty
Die dreidel is ’n soort klimtol waarmee kinders tydens Chanoeka speel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Tradisievaste Jode vier verskeie belangrike feeste. Hulle fokus op groot gebeure in die Jode se lang geskiedenis. Hier is ’n paar daarvan:

  • Roosj Hasjana is die viering van die Joodse Nuwejaar. Dit val gewoonlik in September of Oktober.
  • Joom Kippoer is die Groot Versoendag. Dis ’n tyd van vas, gebed, berou oor sondes en die geleentheid om God vergifnis te vra.
  • Pasga is die Paasfees in die lente. Die Jode vier dan hul bevryding van die slawerny in Egipte en hul uittog na Israel. Die storie van hul ontvlugting uit Egipte word dan voorgelees en almal eet ’n rituele maaltyd saam.
  • Chanoeka is die Fees van die Tempel­wyding/Ligte. Jode vier dit laat in November of in Desember. Dis ’n herdenking van die tyd toe die Tweede Tempel weer ingewy is ná die Jode se vervolging. Toe hulle die tempel se lamp wou aansteek, was daar net genoeg olie vir ’n dag of twee. Die olie het wonderbaarlik agt dae gehou tot nog olie gevind kon word. Die chanoeka-menora is ’n kershouer met agt kerse vir elk van die agt dae plus ’n negende kers om die ander mee aan te steek. Dit vorm ’n fokuspunt vir gebede.
  • Die Sabbat begin teen sononder op Vrydag en duur tot sononder op Saterdagaand. Families eet gewoonlik ’n spesiale Sabbatsmaal saam wat met liedjies, voorlesings en gebed gepaardgaan. Tradisionele Jode doen geen werk op die Sabbat nie omdat dit hul rusdag is.

Wat is kosjer kos?

Tradisionele Joodse Paasbroodsop. Foto: Gallo Imag
Tradisionele Joodse Paasbroodsop. Foto: Gallo Images/ Alamy

Jode mag enige vrugte of groente eet wat nie met insekte besmet is nie. Hulle mag alle visse met skubbe en vinne eet, maar nie seekos soos mossels en kreef nie.

Jode mag die vleis van diere soos beeste en skape eet wat herkou en gesplete hoewe het. Varke het gesplete hoewe, maar herkou nie; dus is hulle nie kosjer nie.

Jode mag voëls soos hoender eet, maar nie roofvoëls nie. Dis ook onaanvaarbaar om knaagdiere, reptiele en amfibieë te eet.

Kos wat in winkels en restaurante te koop aangebied word, moet eers deur ’n kosjerkoskenner nagegaan word om te verseker die kosjerreëls word nagekom.

Tradisionele Jode eet nooit kos wat terselfdertyd melkprodukte en vleis bevat nie. Hulle is so ernstig daaroor dat hulle die skottelgoed wat vir vleis- of suiwelkosse gebruik is apart hou. 

Het jy geweet?
Die Joodse kalender begin met die dag waarop God Adam en Eva gemaak het. Volgens die Joodse kalender is ons nou in die jaar 5779. Dit het op 9 September 2018 begin en eindig op 29 September 2019.

Bronne: Departement Religieuse Studies, Universiteit van kaapstad; chabad.org; uri.org, kids.kiddle.co; washingtonpost.com; wikipedia.org; global-travel-info.com; biography.com; history.com; learnreligions.com; bbc.co.uk; britannica.com; myjewishlearning.com; Rabbi Sam Thurgood, Beit Midrash Morasha, Seepunt, Kaapstad
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.