Daar is verskeie soorte oesters. Tafeloesters is dié soorte wat geëet word. Daar is ook spesiale oesters wat kosbare pêrels kan maak – die enigste juweel wat deur ’n dier gemaak word.

Wat is oesters?

Oesters is invertebrate- (oftewel ongewerwelde) weekdiere. Dit beteken eintlik net hulle het nie ’n ruggraat nie. Hulle is boonop bivalvia (tweekleppiges). Hulle het dus twee skulpe wat met ’n soort skarnier aan mekaar vas is. Nes visse het dié seediertjies kiewe om onder water mee asem te haal. Oesters eet alge, plankton en ander kosdeeltjies wat hulle uit die water filtreer. Hulle leef byna hul hele lewe binne-in hul skulpe.

Oesterskulpe is gewoonlik ovaal- of peervormig. Hul kleur aan die buitekant is witgrys, en die binnekant is wit soos porselein. Dié skulpe het baie sterk spiere wat kan saamtrek om die twee skulpdele toe te maak wanneer die oester bedreig word. Oesters kan gewoonlik 20 jaar of ouer word. Hulle word van 7 tot 35 cm groot.

Habitat 

Die enigste ware oesters is dié wat behoort tot die familie Ostreidae, soos die Europese tafeloester, Ostrea edulis, en Suid-Afrika se kommersiële Crassostrea margaritacea. Hulle hou gewoonlik in vlak water, waar hulle in kolonies voorkom wat as riwwe bekendstaan. Een van die gewildste en mees geoeste spesies is Crassostrea virginica, wat in die Atlantiese Oseaan van Kanada tot Argentinië voorkom. Crassostrea gigas is ook ’n gewilde tafeloester wat in die Stille Oseaan van Japan tot Amerika voorkom en selfs so ver suid soos Australië gevind word.

’n Oesterkolonie of -rif steek tussen die getye bo die water uit.
Werkers op ’n oesterplaas maak die gaassakke skoon wat oesters bevat en draai dit om sodat hulle goed groei. Hulle werk tydens laaggety wanneer die plaas nie onder seewater is nie.
’n Pragtige pêrel word versigtig uit ’n lewende oester gehaal. Dit word vervang met ’n ronde voorwerp van dieselfde grootte sodat ’n nuwe, groter oester ’n jaar later sal vorm.

Gedrag

Oesters het ook ’n geslag. Hulle is dus manlik of vroulik. Maar het jy geweet hulle kan van geslag verander? Nege uit 10 oesters is manlik wanneer hulle onder een jaar oud is. Maar agt uit 10 oesters is vroulik wanneer hulle ouer as een jaar is. Deur ’n oester se leeftyd kan hy (of sy) sy (of haar) geslag sommer ’n hele paar keer verander.

Sodra ’n oesterwyfie bevrug is (’n proses wat deur die water geskied), laat sy miljoene eiertjies in die water vry. Binne sowat ses uur ontwikkel larwes wat twee tot drie weke lank in die water dryf. Dan vind hulle ’n plek waar hulle vasheg om ’n oesterrif te vorm. Binne ’n jaar raak hulle volwasse en gereed om voort te plant.

As kos

Wanneer iemand ’n oester wil eet, moet hy eers daardie harde toegeklemde skulp probeer oop kry. Die oestervleis lyk ook nie lekker nie. Dit is grys en slymerig. Maar as jy dit waag om te proe, sal die delikate tekstuur en ryk souterige smaak jou verras. Dit word gewoonlik geniet saam met ’n bietjie peper en suur- lemoensap.

Oesters is ook voedsaam, want hulle bevat heelwat kalsium, yster en proteïen. Die mens eet al duisende jare lank oesters – in hul rou of gekookte vorm.

Kinders hou gewoonlik nie van rou oesters direk uit die skulp nie. Dit is miskien beter so, want oesters kan bakterieë, parasiete en gifstowwe bevat wat jong kinders se lewe kan bedreig. Maar gekookte oesters kan goed wees vir jou, want dit bevat weinig vet en is voedsaam. Maar as jy allergies is vir skulpvis, moet jy dit liewer nie eet nie.

Daar is verskeie oesterboerderye in Suid-Afrika. Daar word onder meer jare al in Algoabaai (Port Elizabeth) met oesters geboer. Die grootste boerdery is egter in Saldanhabaai aan die Weskus. Crassostrea gigas, die vinnig groeiende spesie uit die Stille Oseaan, word hier geteel.

Gekook: Tafeloesters word rou of gekook voorgesit. Het jy al ooit ’n rou oester probeer eet?
Rou oesters.
Die sortering van pas geoeste oesters.
’n Oopgemaakte oester met die eetbare vleis binne-in.
’n Halssnoer van kosbare wit pêrels.

Pêrels

Oesters is die natuur se enigste juweelmakers. Anders as mineraaljuwele wat uit die grond kom, is die pêrels wat uit oesters kom nie blink en hard nie. Pêrels is sagter en absorbeer die lig sodat hulle glim. Die mooiste pêrels word geskep deur die pêreloester Pinctada margaritifera van die tropiese seë.

Tafeloesters maak ook pêrels, maar dit is dof en min werd. Sekere seeslakke en mossels kan ook pêrels maak.

’n Pêrel vorm wanneer ’n vreemde, onwelkome voorwerp – dikwels ’n sandkorreltjie of parasiet – in ’n oesterskulp beland. Dit irriteer die oester en dan skei hy perlemoen af om die irritant te omhul. Perlemoen is ’n mengsel van kalsium en proteïen waarmee die binnekant van die skulp ook uitgevoer is. Die perlemoen bou met die jare in lagies om die korreltjie op en vorm so ’n pragtige pêrel.

Pêrelboerdery

Gekweekte pêrels word op dieselfde manier gemaak. Al verskil is dat die pêrelboer self die korreltjie tussen die mantel (die vlesige liggaam van die oester) en die perlemoenlaag van die skulp indruk. Dit gebeur wanneer die oesters sowat drie jaar oud is.

Die oesters word in draadhokke aan die kus gehou en gereeld nagegaan om seker te maak hulle is gesond. Ná ’n paar jaar word die pêrels geoes, gepoleer en volgens gehalte gesorteer. Pêreloesters word veral in Japan, maar ook in Australië, Korea, Mianmar, die Filippyne en Hongkong gekweek.

Bedreigings

Die oes van oesters vir die handel word deur wette en regulasies beheer. Oesters word nie bedreig nie, maar hulle is baie sensitief. Vuil, besoedelde water kan hulle laat vrek. Hierdie skulpvis kan ook gifstowwe in hul vleis opneem wat dan skadelik is vir mense wat dit probeer eet. 

Die wêreld se grootste natuurlike pêrel is dié bielie van 34 kg, die Pêrel van Puerto Princesa, wat glo byna R1,4 biljoen werd is en in die Filippyne gevind is. ’n Visser­man het dit ontdek.

Bronne: kids.britannica.com, nps.gov, ei.lehigh.edu, childrenoftheearth.org, whoi.edu, mieliestronk.com, priweb.org, Biology: The Unity and Diversity of Life by Cecie Starr, Ralph Taggart, Christine Evers & Lisa Starr (Brooks/Cole Cengage Learning) 

Foto's: Gallo Images/Getty Images