Luiperds is vir hul pragtige gespikkelde goue pels bekend – maar hulle is allesbehalwe oulik en skattig. Luiperds is jagmasjiene, en hul sterk tande, kloue en spiere help hulle prooi plattrek wat veel groter as hulle is.

Soos leeus, olifante en renosters kom luiperds in Afrika en Asië voor, maar ook in Rusland en die Midde-Ooste. Daar is nege verskillende subspesies luiperds: die Anatoliese, Indiese, Javaanse, Arabiese, Persiese, Amoerse, Indo-Chinese, Sri Lankaanse and Afrikaluiperd.

Saam met die leeu, olifant, renoster en buffel is die Afrika-luiperd een van die Groot Vyf – en dis een van Afrika se gevaarlikste diere.

Waar kom hulle voor?

Dié aanpasbare soogdiere kom in verskillende habitats voor: van die Sinaiwoestyn in die Midde-Ooste tot die voetheuwels van die Hamalaja naby die berg Everest.

Die soort wat in Suid-Afrika woon, word die Afrikaluiperd genoem. Hulle kan oral in Afrika suid van die Sahara gevind word waar hulle die digte bosveld en rotsagtige bergstreke bewandel.

Hoe groot word hulle?

Luiperds is die kleinste van die groot katte, maar groot mannetjies kan tot 1,9 m lank word, van hul kop tot by die punt van hul lyf gemeet. Hul lang stert kan nog 99 cm by hul lengte voeg.

Op skouerhoogte kan volwasse katte tot sowat 70 cm hoog staan – veel kleiner as ’n leeu. Luiperdmannetjies weeg tot 75 kg, terwyl die effens kleiner wyfies tot 60 kg weeg.

Feite oor die renoster

Kolle

Luiperds se donker kolle word rosette genoem, want dit is soos rose gevorm. Nes mense se vingerafdrukke is hul patrone heeltemal uniek – geen twee luiperds het dieselfde kolle nie. Die patrone help hulle hulself in die skadu van die boomtoppe of in die gras kamoefleer.

Stert

Hy gebruik sy dik, wollerige stert om hom te help balanseer wanneer hy bome of rotsagtige berge klim.

Spiere

Die luiperd se sterk spiere gee die krag wat hy nodig het om te hardloop, klim en prooi te bespring.

Snorbaarde

Dit is nie net vir versiering nie! Net soos ander katte gebruik luiperds hul snorbaarde as sensors. Die snorbaarde kan vibrasies bespeur om hulle die ruimte om hulle te help aanvoel. Dit stel hulle in staat om te voel hoe ver weg hul prooi dalk is.

Ore

Hulle maak op hul ongelooflike gehoor staat om prooi van ver af op te spoor. Hul gehoor is vyf keer so goed as dié van ’n mens.

Die luiperd het goeie sig – veral in die aand. Sy nagsig is sewe keer so goed as dié van ’n mens.

Het jy geweet?
Die woord “luiperd” kom via Nederlands van die Latynse woord “leopardus”. Leo beteken leeu en pardus is panter.

Gebou om te beweeg

Dié sterk katte kan tot 58 km/h hardloop. Hulle kan ook 3 m in die lug op en 6 m vorentoe spring.

Alleenlopers

Luiperds is alleenlopers en word gewoonlik alleen aangetref, tensy hulle paar of welpies grootmaak. Elke luiperd het sy eie gebied wat hulle met krapmerke teen bome en hul urine en mis merk om ander luiperds te waarsku om weg te bly.

Op die spyskaart

Luiperds is karnivore, maar hulle is nie kieskeurige eters nie. Hulle sal aas op enige dier wat oor hul pad kom. Hulle verkies klein wildsbokke en ander diere soos bobbejane, ape, voëls en knaagdiere, maar dit is ook bekend dat hulle slange, paddas, visse en selfs goggas vreet.

Welpies

Luiperdwyfies skenk die lewe aan twee tot vier welpies op ’n slag. Elke welpie weeg net 500 g wanneer hulle gebore word en is heeltemal blind en amper haarloos. Hul oë gaan ’n paar dae ná hul geboorte oop, maar die eerste drie maande van hul lewe is die welpies van hul ma afhanklik vir kos – hulle verlaat glad nie die lêplek nie.

Daarna begin hulle hul ma op jagtogte vergesel. Wanneer hulle tussen een en twee jaar oud is, is die welpies gereed om hul eie gebied te gaan soek.

Versigtige jagters

Luiperds bekruip hul prooi en slaan toe voor die ander dier tyd het om te reageer. Die katte maak hul prooi dood deur hulle aan die nek te byt en die nek te breek. Luiperds maak kleiner prooi soos voëls of muise met ’n harde hou van hul klou dood.

Boomklimmers

Luiperds sleep hul prooi in bome op om te sorg dat ander lastige roof- of aasdiere dit nie steel nie. Hulle is so sterk, hulle kan prooi van amper hul eie liggaamsgewig in bome opsleep.

Bewaringstatus

Luiperds word as kwesbaar gekategoriseer. Dit beteken hulle kan uitsterf as hul getalle aanhou daal.

Hulle sterf uit weens jag en die verlies aan habitat namate dorpe en stede uitbrei. Luiperds word dikwels vir hul pragtige pels gejag of wanneer hulle tot op dorpe of plase dwaal en ’n gevaar vir vee of mense word.

Volgens ’n onlangse raming is daar dalk net sowat 4 500 luiperds in Suid-Afrika oor.

Bronne: Natgeokids, Livescience, BBC, AWF.org, Krugerpark.co.za