Dit is moeilik om ons lewe sonder slimfone voor te stel. Dié klein rekenaars is deel van ons daaglikse roetine, van oproepe maak, teksboodskappe stuur en musiek luister tot vandag se weer opsoek, onthounotas stel en video’s kyk en opneem. Maar ons vergeet dikwels die nuttige toestel is ’n taamlik nuwe uitvindsel.

Die Skots gebore uitvinder Alexander Graham Bell het die eerste telefoon in 1876 uitgevind, maar dit het baie jare en vooruitgang in die tegnologie geverg om die foon te kry wat jy of jou ouers vandag gebruik.

Die eerste foonoproep

Alexander Graham Bell kry daarvoor erkenning dat hy die telefoon uitgevind het. Hy was ’n onderwyser vir gehoorgestremdes en dit het sy navorsing in gehoor en spraak beïnvloed. Sy eksperimente met gehoortoestelle het tot die eerste telefoon gelei.

Op 7 Maart 1876 het hy die eerste foonoproep gemaak. Sy woorde was aan sy assistent, Thomas Watson: “Mnr. Watson, kom hier, ek wil jou sien.”

Alexander het in dieselfde jaar ’n patent vir die foon verkry, en al is sy aanspraak op die uitvindsel in honderde hofsake uitgedaag, het nie een daarvan geslaag nie. Binne 10 jaar het 100 000 mense in Amerika ’n telefoon besit. Alexander het geweier om een in sy studeerkamer te hê, want hy was bekommerd dit sou sy aandag aflei.

Het jy geweet?
Die eerste selfoonoproep is op 3 April 1973 deur Martin Cooper van Motorola met ’n prototipe vir die Motorola DynaTAC 8000X gemaak. Hy het die oproep van New York na Bell Labs in New Jersey gemaak.

Motorola DynaTAC 8000x

Motorola Dynatac 8000X

Bekendgestel: Maart 1984

Grootte: 330 mm

Gewig: 794 g

Prys destyds: R7 99

Die DynaTAC (’n afkorting vir Dynamic Adaptive Total Area Coverage) is die eerste selfoon wat uitgevind is. ’n Mens kan tot 30 nommers op die foon berg, maar dit neem tot 10 uur om vol te laai!

Motorola Startac

Motorola Startac. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bekendgestel: Januarie 1996

Grootte: 94 mm

Gewig: 88 g

Prys destyds: R4 500

Dit is die eerste foon met ’n vibreer-opsie en was destyds die kleinste en ligste foon op die mark. Die Motorola StarTac is ook die eerste toeklapselfoon ter wêreld.

Nokia 3310

Nokia 3310. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bekendgestel: September 2000

Grootte: 113 mm

Gewig: 133 g

Prys destyds: R1 268

Omdat dit spesifiek vir tieners en mense in hul 20’s ontwerp is, fokus die vervaardigers van die foon op teks. Die Nokia 3310 het ’n wekker, sakrekenaar, stembelfunksie, geldomskakelaar en vier speletjies. Vergeleke met vandag se fone is dit amper onvernietigbaar.

Blackberry Quark 6210

Blackberry Quark 6210. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bekendgestel: Junie 2003

Grootte: 113 mm

Gewig: 136 g

Prys destyds: R2 126

Die BlackBerry begin as ’n roepradio wat kort boodskappe stuur, baie soos ’n “Please Call Me”. Die 10de toestel is die eerste met ’n ingeboude foon. Dit kan e-posse ontvang en ’n webblaaier oopmaak en beskik oor BlackBerry se gewilde boodskapdiens, BBM.

Motorola Razr V3

Motorola Razr V3

Bekendgestel: Julie 2004

Grootte: 98 mm

Gewig: 95 g

Prys destyds: R3 300

Die foon het MP3-luitone, ’n opsie om MP4-video’s te kyk en bêreplek vir sowat 1 000 kontakte en gebruik die fotobel-opsie, wat beteken jy kan ’n kontak bel deur op hul foto te klik.

Apple iPhone

Apple iPhone. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bekendgestel: Junie 2007

Grootte: 115 mm

Gewig: 135 g

Prys destyds: R3 493

Dit het onder meer 4 GB bêreplek, die iOS 3-bedryfstelsel en Wi-Fi. Dit is die eerste van ’n rits kragtige Apple-fone en word een van die gewildste handelsmerke op die mark.

Samsung Galaxy Note 9

Samsung Galaxy Note 9. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Bekendgestel: Augustus 2018

Grootte: 162 mm

Gewig: 201 g

Prys: R18 000

Die toestel het ’n aluminium-raam, 1 teragreep geheue, ’n foto- en videoredigeerder, koordlose laaiopsies, ’n irisskandeerder, kompas, hartklopmonitor en 12 MP-dubbellenskamera.

Terug na die toekoms

’n Mens sou dink vandag se gevorderde selfone beteken ons gebruik ’n pen ál minder om notas te maak.

Maar party nuwe toestelle het ’n stilus by waarmee gebruikers op hul foon “skryf”.

Die piepklein punt op die stilus gee hulle meer akkuraatheid op die skerm as wat hul vingers sou.

Bronne: Medium.com, Theatlantic.com, Vice.com, Phonearena.com, Content.time.com, Androidauthority.com, Gsmarena.com, Imore.com, Samsung.com, Britannica.com, Americaslibrary.gov, Antiquetelephonehistory.com, Uswitch.com, Gadgets.ndtv.com, Howitworksdaily.com, Mybroadband.co.za