Daar is agt planete in ons sonnestesel, maar sover ons weet, is die aarde al een met die regte toestande waarin lewe kan bestaan. Die rede daarvoor het alles met die son te doen.

Die aarde lê in wat die son se Gouelokkiessone (of bewoonbare sone) genoem word – nie te naby nie en nie te ver nie.

Ons maak op die son se ongelooflike energie staat om lewe op aarde te onderhou. Daarsonder is daar geen lig, warmte of lewe nie. Die son is eintlik ’n ster, en soos alle sterre stel dit ’n reusehoeveelheid energie in die vorm van lig en hitte vry.

Waar kom die son se energie vandaan?

Die son is basies ’n groot bal gas – waterstof – wat deur die son se enorme swaartekrag bymekaargehou word. In die son se kern is die druk en digtheid so intens dat die waterstof-atome teen mekaar bots met genoeg krag om saam te smelt en ’n heel ander element te vorm: helium.

Die proses word kernfusie genoem en stel ’n ontsettende hoeveelheid energie vry wat ons op aarde as lewegewende hitte en lig ervaar. Die energie bou op en verhit die son se kern tot ’n verstommende 15 miljoen°C.

Van die kern beweeg die energie deur die stralingsone, waar die hitte en digtheid dit laat rondbons en in ’n sigsagpad uitwaarts beweeg. Daarom kan dit honderdduisende jare neem voor die energie deur dié sone kom.

In die konveksiesone is die digtheid laag genoeg dat lig in hitte omgesit kan word wat deur die fotosfeer beweeg, waar temperature betreklik koeler is teen 5 500 °C.

Daarvandaan word dit as sonlig vrygestel en beweeg dit deur die ruimte om die aarde in net 8 minute te bereik.

Die son se atmosfeer

Daar is drie lae in die son se atmosfeer – die fotosfeer, chromosfeer en korona. Terwyl die binneste laag, die fotosfeer, tegnies deel van die atmosfeer is, is dit die enigste laag wat ons kan sien. Daarom word dit dikwels die “oppervlak” van die son genoem.

Die chromosfeer kan tydens ’n sonsverduistering as ’n rooi, wasige rand gesien word. Die korona kan ook tydens ’n verduistering gesien word – dit sal soos ’n helder ligkring om die son lyk.

Die son se lae en die planete se groottevergelyking.

So word ’n sonvlam gevorm

Sonvlamme is reuse-ontploffings op die son se oppervlak. Wanneer dit die aarde se atmosfeer bereik, kan die vlamme satelliete, kommunikasiestelsels en selfs kragnetwerke ontwrig.

1. Die son se magnetieseveldlyne loop van sy noord- na sy suidpool.

2. Die son se omwenteling laat die lyne uitrek. Dit trek nog krommer by die ewenaar, want dit draai vinniger as die son se noord- en suidpool.

3. Die lyne draai en party bars later in lusse deur die oppervlak.

4. Wanneer die lus groot genoeg raak, word die opbouing van magnetiese energie vrygestel, wat ’n uitbarsting van strale voortbring.

Het jy geweet?

Die son se magnetiese veld, die heliosfeer, is soos ’n reuse-magnetiese krag wat die hele sonnestelsel teen gevaarlike kosmiese straling beskerm.

Dit word veroorsaak deurdat die son se plasma – die elemente van die son in ’n gasagtige fase – elektries gelaaide partikels na die son se pole (die bo- en onderkant van die son) druk.

Die proses verander die son in ’n reusemagneet.

5. Sonvlekke: Sonvlekke is donkerder, koeler areas in die fotosfeer. Dit word vermoedelik deur die son se magnetiese veld veroorsaak.

6. Die planete (van bo na onder): Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.

Bronne: National Geographic, NASA, Spaceplace.nasa.gov, Planetsforkids.org, Phys.org, Thesuntoday.org