Voor daar netjiese blink apteke was waar jy pille soos aspirien, vitamiene en voorskrifmedisyne kon koop, moes ons voorouers hul geneesmiddels in die natuur soek. In die ou dae het mense veral medisyne van plante gemaak.

Het jy geweet plantkunde as studierigting het eintlik uit die geneeskunde ontwikkel? Dis goed om plante te bestudeer, want hulle is nie net belangrik as kos vir die mensdom nie, maar ook as ’n bron van medikasie.

Gesondheid uit die grond uit

Baie mense kry hul medisyne vandag nog van kruie en ander plante in die natuur. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) reken tot 80% van die bevolking van ontwikkelende lande gebruik tradisionele kruiemiddels pleks van moderne farmaseutiese medisyne om hul kwale te behandel.

Die rede hiervoor kan eenvoudig wees dat hulle natuurlike geneesmiddels bo kunsmatige middels verkies, of dit kan wees omdat apteekmedisyne duur of moeilik verkrygbaar is. Hoekom werk plante as medisyne?

Foto: Gallo Images/Getty Images
Duisende jare al help die blomme, sade, wortels, blare, sap en bas van talle plante die mens om ’n verskeidenheid kwale en siektes te genees. Vandag doen wetenskaplikes steeds baie navorsing oor tradisionele kruie en medisynes. Foto: Gallo Images/Getty Images

Plante bevat allerhande chemikalieë wat hulle oor miljoene jare ontwikkel het vir basiese lewensfunksies, soos om hulself te beskerm, om te kommunikeer en om voort te plant. Die mens het van die vroegste tye af agtergekom die chemikalieë in plante het ook ’n uitwerking op ons eie liggame.

Sommige plante kan ons siek of selfs doodmaak, terwyl ander goed is vir ons en ons gesond kan maak.

Kruiedokters

Die mens het oor duisende jare kennis opgebou oor watter plante en hoeveel daarvan nodig is om spesifieke siektetoestande te behandel. Ons noem medisinale plante ook kruie, en die mense met kennis van kruie en hoe dit gebruik moet word, staan bekend as kruiedokters of tradisionele helers.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Gesertifiseerde kruiedokters en tradisionele helers gebruik die medisinale eien­skappe van plante. Sommige middels is welbekend, soos eukaliptus vir verkoue en bronchitis. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Baie moderne farmaseutiese medisyne bevat ook chemikalieë wat van plante geoes of in laboratoriums aangepas is. Die Westerse geneeskunde gebruik deesdae medisyne wat namaaksels is van die chemikalieë in plante. Ons sê dan die medisyne is gesintetiseer.

Foto: Gallo Images/Getty ImagesFoto: Gallo Images/
Foto: Gallo Images/Getty Images

Natuurlike apteek

In die buiteland

Medisinale plante kan oral voorkom – in die veld, in jul tuin, hoog op ’n berg of selfs in die see. Baie van die plante wat jy eet, het medisinale eienskappe. Kom ons kyk eers na ’n paar voorbeelde uit ander lande.

Bosbessies

Foto: Gallo Images/Getty Images
Bosbessies. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is twee spesies: die Amerikaanse bosbessie (Vaccinium macrocarpon) en die Europese bosbessie (V. oxycoccos). Die bosbessie kan ontsteking in die urinekanaal voorkom en behandel. Baie jare lank het mense gedink dis sommer ’n ouvroustorie. Eindelik het studies bewys sekere chemiese middels in bosbessies verhinder die bakterieë om in die blaas en wande van die urinekanaal vatplek te kry.

Wilgerboom

Foto: Gallo Images/Getty Images
Wilgerboom. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mense het baie eeue lank die blare of bas van die wilgerboom (genus Salix) gebruik om pyn, koors en griep mee te behandel. In 1763 het die Engelsman Edward Stone die aktiewe bestanddeel, salisielsuur, in die bas ontdek. Die chemikus Felix Hoffman en sy kollegas by die Duitse maatskappy Bayer het dié bestanddeel gesintetiseer en dis in 1899 as aspirien bemark. Aspirien help ook om bloedklonte te voorkom.

In Suid-Afrika

Ons land het ’n groter verskeidenheid plante as die meeste ander lande op aarde. Die Khoi-San, die eerste en oudste inwoners van ons land, het inheemse medisinale plante eeue lank gebruik om allerhande toestande te behandel. Hier is voorbeelde van plante wat nou nog gebruik word en selfs uitgevoer word na ander lande.

Bitteraalwyn 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Aloe ferox) Aalwyne is bekend vir hul helende eienskappe. Twee dele van die plant word gebruik. Die sappige jel word gebruik om wonde te genees, terwyl die lateks (melksap) – ’n bitter geel laag wat die chemiese middel aloïen (aalwynbitter) bevat – na bewering ’n purgeermiddel is wat ook teen artritis kan help.

Die jel help die vel om te herstel ná sonbrand of bestraling, verlig ’n gejeuk en insekbyte en word ook wyd gebruik in skoonheidsmiddels vanweë die bevogtigende en strelende uitwerking daarvan. Die bitteraalwyn (ook bergaalwyn genoem) kom natuurlik in dele van die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en suide van KwaZulu-Natal en die Suid-Vrystaat voor. Daar word met dié plant geboer omdat dit soveel gebruike het.

Boegoe

Foto: Gallo Images/Getty Images
Boegoeblare. Foto: Gallo Images/Getty Images

(Agathosma crenulata / A. betulina)  Hierdie Wes-Kaapse immergroen struik was baie belangrik vir die Khoi-San en word tradisioneel as medikasie vir die urineweg en wonde gebruik. Dit word ook as hoesmiddel, medisyne teen maagpyn, verkoue en griep en verskeie ander kwale gebruik.

Die vlugtige olies en aftreksels van die blare word as geurmiddel vir tee en lekkergoed asook in asyn en drank (soos boegoebrandewyn) aangewend.  In die ou dae het die Khoi-San boegoe met skaapvet gemeng en aan hul vel gesmeer om dit sag en vogtig in die droë klimaat te hou.

Hierdie smeermiddel het die vel ook teen bakterieë en swamme beskerm, het insekte afgeweer en as deodorant gedien.

Kankerbossie

Foto: Gallo Images/Getty Images
Bitteraalwynblare Foto: Gallo Images/Getty Images

(Lessertia frutescens) Hierdie struik met sy helderrooi en oranje blomme kom in baie tuine dwarsoor Suid-Afrika voor, veral in droër dele. Mense glo die kankerbossie het anti-inflammatoriese eienskappe en kan die immuunstelsel aanhelp en virusse beveg.

Dit word gebruik om siektes soos artritis, kanker en diabetes mellitus (tipe 2) te help behandel. Die Khoi-San het dit hoofsaaklik as afkooksel gebruik om wonde mee te was en hulle het dit ook ingeneem om koors af te bring. Vroeë koloniste het gevind die kankerbossie help om waterpokkies, maagprobleme en inwendige kanker te behandel. ’n Afkooksel van die plant is ook gebruik om oogprobleme te behandel. Baie mense gebruik die plant vandag nog teen al hierdie kwale.

Gedroogde en verpoeierde plantdele wat in warm water getrek het, word vir pasiënte gegee om hul aptyt aan te help en aambeie en ontsteking in die urinekanaal te behandel. Dit help na bewering ook vir stres, angs en depressie.

Dit is hoekom die plant in Zoeloe en Xhosa bekendstaan as unwele, wat na die hare verwys omdat die plant keer dat mense hul “hare uit die kop trek”. Daar word deesdae tee, kapsules, rome en ’n ekstrak vir medisinale gebruik van die plant gemaak. 

Nuttige plante

Daar is duisende plante wat medisinale eienskappe het. Doen gerus ’n internetsoektog om nog uit te vind oor die medisinale plante van Suid-Afrika.

’n Goeie begin sal wees om by South African Medicinal Plants te kyk vir ’n lys van sulke plante.

Teks: Cum Laude Media; Bronne: askabiologist.asu.edu, southafrica.co.za, hindawi.com, nda.agric.za, pza.sanbi.org, wikipedia.org