Elektrisiteit is oral om ons. Baie verskillende vorme bestaan en dis moeilik om jou die wêreld daarsonder in te dink. Huishoudings en sakeondernemings gebruik dit elke dag. Kan jy glo elektrisiteit het eers amper 100 jaar gelede deel van die mens se daaglikse lewe geword?

Vandag werk amper alles wat ons gebruik met elektrisiteit. Dink maar aan die ligte wat jy soggens en saans aanskakel of die ketel wat kook om vir jou ouers koffie te maak. En moenie vergeet van die kommunikasietoestelle waarsonder die wêreld amper nie meer kan bestaan nie, soos die internet, slimfone, televisies en rekenaars.

Wat is elektrisiteit?

Dit is ’n vorm van energie en kan vir verskillende doeleindes gebruik word, soos beligting, verhitting en om voorwerpe te laat beweeg.

Wanneer ’n voorwerp die elektrisiteit kan gelei – wanneer dit deur die voorwerp kan beweeg – het daardie voorwerp elektriese energie.

Ons meet elektrisiteit in volt. ’n Ander naam wat ons vir elektrisiteit gebruik, is krag.

So wonderlik soos dit is, net so gevaarlik kan dit wees. Wanneer jy nie versigtig met elektrisiteit omgaan nie, kan dit jou ernstig beseer of selfs doodmaak.

Dit kan gebeur wanneer jy agterlosig is, ’n stukkende toestel gebruik, as jy toerusting gebruik vir ander doeleindes as waarvoor dit bedoel is of as gevolg van ’n gebrek aan kennis.

Wat is ’n elektriese skok?

Wanneer ’n baie sterk elektriese stroom deur jou liggaam beweeg, word dit ’n elektriese skok genoem.

Elektrisiteit kies die kortste pad na die grond deur enigiets wat die elektriese stroom kan gelei.

Jou liggaam is ’n baie goeie geleier van elektrisiteit omdat 70% daarvan uit water en soute bestaan, wat uitstekende geleiers is.

Metale soos koper, silwer en goud is ook goeie geleiers, terwyl hout, glas, rubber en die plastiek wat rondom ’n elektriese koord is swak geleiers is (ook isoleerders genoem).

Wat gebeur as jy ’n elektriese skok opdoen?

Die meeste mense ken die gevoel van ’n ligte skok deur statiese elektrisiteit wanneer jy met sokkies oor ’n mat loop of jou hare borsel, maar ’n regte elektriese skok is baie gevaarliker.

Wanneer die elektriese stroom deur jou liggaam beweeg, kan dit weefselskade veroorsaak.

As die stroom sterk genoeg is, kan dit jou doodmaak. Wanneer die stroom deur jou lyf gaan, trek jou spiere styf en dit raak amper onmoontlik om jou los te maak van die stroombaan. Jou vel kan brand waar die elektrisiteit by jou liggaam in- en uitgaan.

Het jy geweet weerlig is ook elektrisiteit?
Moet nooit onder bome staan of loop wanneer die weerlig slaan nie. Die krag van ’n enkele weerligstraal is sterk genoeg om 100 lampe ’n hele dag lank te laat brand of om meer as honderdduisend snye roosterbrood te maak.

Maak so as iemand geskok word

  • Moet nooit direk aan die mens vat nie, want jy kan ook skok.
  • Roep dadelik ’n volwassene en vra hulle moet die krag by die hoofskakelaar afskakel. Maak seker almal in die huis weet waar die hoofskakelaar is.
  • Probeer die elektrisiteit by die muurprop afskakel en ontkoppel die toestel.
  • Trek rubberhandskoene aan, draai koerante of klere om jou hande of gebruik ’n stok of houtstoel om die mens weg te kry van die toestel wat hulle skok. Maak seker dis droog en hulle is nie in ’n plas water nie. Jy kan ook skok, want water gelei elektrisiteit. Jy kan ook probeer om hulle aan hul klere weg te trek.
  • Bel die nooddienste by 10111 of 112 (selfoon) of jou plaaslike sekerheidsmaatskappy. As dit nie moontlik is nie, begin so vinnig moontlik noodhulp toepas wanneer jy seker is die mens raak nie meer aan die elektriese toestel nie.
  • As hulle nie meer asemhaal nie, begin met mond-tot-mond-asemhaling.
  • Behandel enige beserings wat hulle opgedoen het. Moenie salf (of botter) aan die brandwonde smeer nie. Bedek die wonde met gesteriliseerde verbande.
  • Selfs al lyk hulle ná ’n ligte skok beter, is dit belangrik om hulle na die hospitaal of dokter te neem. Elektrisiteit brand van binne na buite en dit is soms moeilik om te sien of daar enige beserings is, maar die hart en ander organe kan selfs ure ná die skok aangetas word.
Moenie aan die mens raak voor die krag af is nie.
1. Staan op boeke as daar water op die vloer is. 2. Beweeg die persoon met 'n besem van die gevaar af weg.

Wees elektrisiteitslim

  • Verstaan hoe elektrisiteit werk.
  • Wees bewus van die moontlike gevare. Vir nog nuttige wenke, sien “Vind nog uit” onder.
  • Werk versigtig en veilig met elektriese toestelle en koorde.
Vervang ou koorde.
Moenie muursokke oorlaai nie.
Bedek muursokke.



Moet nooit:

  • met kragproppe speel of jou vinger daarin druk nie;
  • elektriese toestelle badkamer toe neem of daarmee werk as jy skottelgoed was nie;
  • klein kinders met elektriese toestelle, muurproppe en ander toestelle laat speel nie;
  • ’n vlieër naby kragdrade vlieg nie;
  • met nat hande aan elektriese toestelle of kragproppe vat nie;
  • ’n stukkende koord gebruik of daaraan trek nie;
  • ’n toestel ingeprop los as jy dit nie gebruik nie;
  • self aan elektriese toestelle werk nie – vra ’n elektrisiën;
  • ’n koord onder ’n mat sit nie, want dit kan aan die brand raak;
  • aan ’n koord trek om dit uit die muurprop te kry nie;
  • muursokke oorlaai nie;
  • aan oop elektriese drade raak nie – maak seker dit is geïsoleer;
  • teen elektriese pale opklim nie;
  • by elektriese substasies speel nie;
  • met enige voorwerp in elektriese toestelle soos broodroosters, ketels of haardroërs krap nie; of
  • ’n elektriese toestel gebruik as daar vonke uitkom nie; skakel dit onmiddellik af en prop dit uit.
VIDEO
Kyk dié video vir veiligheidswenke oor krag: youtube.com/watch?v=KSV4djQmvqAen.

Hulp met skooltake by huisgenoot.com
Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en by huisgenoot.com aflaai. Klik op Klaskamer op die keusebalk.

Bronne: lumoenergy.com.au, thunderboltkids.co.za, mieliestronk.com, alliantenergykids.com, brainscape.com, archive.cnx.org, christelikemedia.org, eskom.co.za

Foto's: Gallo Images/Getty Images