Ons land se verskillende streke spog elkeen met unieke plantegroei. Die soort plante hang veral af van die klimaat, wat deur faktore soos die reënval en hoogte bo seevlak bepaal word. Die fynbos in die suidweste van die land is baie bekend, maar kom ons kyk na ’n paar van die ander groot plantegroeistreke in Suid-Afrika.

Die Hoëveld

Die Hoëveld beslaan die hoër plato aangrensend aan die Laeveld en omvat ’n groot deel van die binneland. As jy in Gauteng, die Vrystaat of omliggende dele woon, is jy ’n Hoëvelder. Dié streek is hoër as 1 500 m bo seevlak.

Die Hoëveld se gras raak geel in die yskoue winter.

Dis meestal met grasland en plek-plek doringbome bedek. Gereelde brande, ryp en oorbeweiding deur beeste en skape verhinder struike en bome se groei. Plek- plek in riviervalleie kom wel stukkies woud voor. In KwaZulu-Natal bestaan die Hoëveld uit golwende grasvelde met talle wilde blomme en mooi waterstrome.

Die Hoëveld is koeler as die Laeveld. Die gemiddelde jaarlikse reënval hier is tussen 380 en 760 mm, maar dit neem af tot sowat 250 mm in die weste naby die Karoo en Kalahari. Die gemiddelde minimum en maksimum temperatuur is net bo vriespunt en onder 25 °C, maar in die winter kan dit by uitsondering tot -11 en in die somer sowat 38 °C wees.

Die Laeveld

Die Laeveld is ’n laagliggende deel van ons land wat van die Limpopovallei (aan die grens met Botswana en Zimbabwe) af deur die oostelike deel van Mpumalanga en Swaziland tot in die noorde van KwaZulu-Natal strek.

Dié gebied is onder 1 000 m bo seevlak geleë en het ’n subtropiese klimaat. Die gemiddelde winterdagtemperatuur is 16 °C en in die somer is dit 30 °C. Dit reën meer in dié streek as in die Hoëveld.

Dier en mens geniet die vrugte van die maroela (Sclerocarya birrea). Dit word ook ingespan vir kookolie van hoë gehalte en Amarula, ’n romerige likeur.

In Mpumalanga is die natuurlike plantegroei meestal oop bosveld bestaande uit breedblarige bome soos die maroela, asook doringbome wat afgewissel word deur lang rooigras.

In die laer dele van die Laeveld, soos in die Sabi- en Limpopovallei, kom heelwat vingergrasse, euforbias en ander vetplante voor. Lang waaierpalms gedy ook hier.

In Limpopo se Laeveld is dit warmer en daarom oorheers mopanibosveld en reusagtige kremetartbome. Hierdie Laeveldse landskap onderhou groot troppe wilde diere in die ongerepte dele, soos in die Nasionale Krugerwildtuin.

Namakwaland

Die Namakwaland.

Namakwaland is ’n streek aan die Weskus wat noord strek tot by Namibië en ook aan die Kalahari grens. Die hoofdorp van dié dorre gebied is Springbok in die Noord-Kaap.

Hierdie klipperige woestynstreek se vaal voorkoms word in die lente omgetower in asemrowende plate blomme so ver soos die oog kan sien. Dit duur gewoonlik ’n paar weke lank in Augustus en September. Hordes toeriste sak dan op die streek toe om die skouspel te aanskou.

Hierdie kleurryke veldblommetjies, veral die geel en oranje Namakwalandse madeliefie, behoort hoofsaaklik tot die familie Asteraceae. Tussenin groei ook vygies.

Die streek het daarby sy kenmerkende kokerbome en die halfmens (Pachypodium namaquanum), ’n soort taklose boom met ’n bossie blare aan die bokant.

In Namakwaland, wat na die Nama, die oorspronklike Khoi-inwoners, genoem is, word ook koper ontgin en onder meer met karakoelskape geboer.

Die Karoo

Die Karoo is ’n sanderige vlakte wat verdeel word in die Klein-Karoo in die suide – nader aan die kus – en die Groot-Karoo, wat diep die binneland in strek.

Die Groot-Karoo se sukkulentestreek met sy unieke vetplante grens aan die Weskus en Namakwaland, terwyl dit in die ooste oorgaan in die Vrystaatse Hoëveld.

Die Groot-Karoo het kenmerkende tafelkoppe en koppies, terwyl die skeidingsgebied tussen die twee Karoos bergagtig is. Sy boetie, die Klein-Karoo, is eintlik ’n lang valleistreek tussen die Swart- en Langeberge in die Wes-Kaap. In die Karoo is die dae warm en die nagte koud.

Die Karoo.

Op Sutherland daal die temperature in die winter gereeld onder vriespunt, en sneeu is nie ongewoon nie. Die streek kry min reënval en die plantegroei bestaan meestal uit vetplante en aromatiese bossies. In die ou dae het troppe buffels, olifante en koedoes hier voorgekom, maar hulle is mettertyd uitgejag.

Dit is tradisioneel ’n streek waar met skape, bokke en volstruise geboer word. Dele van die Karoo wat onder besproeiing is, lewer sitrusvrugte, lusern en graan. In sommige valleie in die Klein-Karoo word appelkose, druiwe, appels en perskes verbou. Die jaarlikse reënval wissel van 130 mm in die valleie tot 400 mm in die berge.

Die Kalahari

Die kokerboom (Aloidendron dichotomum) is ’n groot vetplant wat soos ’n boom vertak.

Die Kalahari is ’n dorre, uitgestrekte platostreek wat die grootste deel van Botswana beslaan en tot in Namibië en die noordwestelike dele van Suid-Afrika strek. Die Kalahari met sy rooierige sand is die droogste in die suidweste, waar aktiewe sandduine voorkom.

In die kort reënseisoen groei daar wel gras en in sekere dele doringstruikgewasse. In die Kgalagadi-oorgrenspark kom baie wilde diere soos leeus, luiperds en troppe blouwildebeeste, springbokke en elande voor.

Die San en Khoi het eerste dié droë, onherbergsame gebied bewoon waar die temperatuur snags onder vriespunt en bedags bo 40 °C kan wees.

Tsammas (Citrullus amarus) word deur die San en sekere wilde diere as voedsel en bron van water gebruik.

Het jy geweet?

Die Knersvlakte, ’n ekostreek wat in die noorde van die Wes-Kaap noord van Vanrhynsdorp geleë is, lyk buite die lente se blommetyd dor en dood. Dit is egter een van die wêreld se rykste sukkulentestreke.

As jy op die N7- nasionale pad daar verbyry, sal jy nie eens weet watter kleinode tussen die kwartsietgruis groei nie. Die Knersvlakte bevat een van die wêreld se grootste konsentrasies bedreigde spesies. Dié miniatuurvetplantjies kom in talle vorms en groottes voor.

Hulle het oulike volksname soos bababoudjies (Argyroderma delaetii), krapogies (Oophytum) en vinger-en-duim (Mesembryanthemum digitata).

Die vinger-en-duim vetplantjie.

Bronne: nature-reserve.co.za, britannica.com, encyclopedia.com, brandsouthafrica.com, worldwildlife.org, namaquawestcoast, wikipedia.org

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Magazine Features