Dink weer: As jy Australië besoek, kom jy dalk op ’n gevaarlike soort mier af wat selfs mense se dood kan beteken.

Jy het hulle waarskynlik al in die somer om ’n stuk taai vrug sien saamdrom, of dalk het jy miers­hope in jou agterplaas opgemerk.

Miere kom amper oral voor – jy het heel waarskynlik al baie van hulle in jou lewe teëgekom – maar het jy geweet party miere is gevaarlik?

Die bulhondmier – die gevaarlikste mier ter wêreld – is vir sy aggressiewe gedrag en kragtige angel bekend. Dié miere het ’n sterk greep en wrede byt­gedrag, baie soos dié van ’n bulhond.

Die gif van die miere het die poten­siaal om ’n drastiese afname in bloeddruk en ernstige asemhalingsprobleme te veroorsaak by slagoffers wat dalk ­allergies is.

Soos met die meeste ern­stige allergiese reaksies kan dit ’n dodelike uitwerking hê as dit nie behandel word nie.

Waar kom hulle voor?

mier,dier
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Bulhondmiere kom in die kusstreke van Australië voor. Hulle woon meestal in woude, bosland en heidevelde, maar soms ook in stadsgebiede.Die koningin woon gemiddeld in 14 ko­lonies in haar leeftyd.

Party daarvan bou sy self en ander is die kolonies van ander mierspesies wat sy binneval. Sy maak die inwonende koningin dood voor sy die hele kolonie oorneem.

Raar maar waar

As die bulhondmier in twee gesny word, sal die kop en stert sowaar baklei en mekaar probeer doodmaak.

Voortplanting en lewensiklus

mier,dier
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

’n Kolonie bestaan uit drie soorte: onvrugbare vroulike werkers wat hul lewe daaraan wy om kos bo die grond te soek, vrugbare wyfies wat ’n kort rukkie vlieg voor hulle as koninginne in donker neste woon, en gevleuelde vrugbare mannetjies wat in hul kort lewe ’n koningin soek om te bevrug, waarna hulle vrek.

Die koningin lê haar lewe lank ­eiers in ondergrondse neste en bou ­kolonies of neem hulle oor. Die mier se lewensiklus het vier ­fases: eier, larwe, papie en volwassene.

Uit die bevrugte eiers broei wyfies uit en uit die onbevrugtes mannetjies, wat beteken geen seksuele voortplanting of paring hoef plaas te vind sodat dié eiers kan uitbroei nie. 

’n Mannetjie se enkele stel chromosome kom van sy ma. Larwes eet gewoonlik dooie insekte voor hulle papies word. Die lewensiklus van mannetjies en onvrugbare wyfies duur 8 tot 10 weke, terwyl koninginne tot 15 jaar oud kan word.

Dieet en roofdiere

Bulhondmiere eet klein insekte, heuningdou (’n soet, klewerige vloeistof wat verskeie insekte op blare agterlaat), saad, vrugte, swamme en nektar. Omdat hulle meestal in boswêreld woon, word hulle selde blootgestel aan ’n dieet wat deur mense beïnvloed is. 

Die werkermiere kan ook kos in die nes weer opbring sodat ander miere dit kan eet. Diere soos wespe, voëls en spinnekoppe jag bulhondmiere.

Gif en sy steek

Bulhondmiere vervaardig gevaarlike gif wat skokreaksies in die mens se liggaam kan veroorsaak as jy herhaaldelik gebyt word – in uiterse gevalle kan dit tot die dood lei.

Hulle word ál gevaar­liker wanneer hulle bedreig word. Die bulhondmier kan selfs sy vyand met sy sterk gif verlam. Die gif in hul angel is in hul agterlyf geleë.

Hoe groot is hulle?

mier,dier
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Bulhondmiere is gewoonlik 0,8 tot 4 cm lank, wat ­hulle die reuse van die mierwêreld maak.

Het jy geweet?
Een van die bulhondmier se vyande is swartmiere, wat – al is hulle veel kleiner – hul veel groter getalle gebruik om bulhondmierkolonies te oorweldig.

Bronne: pestwiki.com, aepma.com, Fantasticpestcontrol.com , freedawn.co.uk, australianmuseum.net.au

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.