Islam is naas die Christelike geloof die grootste godsdiens in die wêreld.

Sowat 1,8 miljard van die wêreld­bevolking is Moslems, en in Suid-­Afrika word dié godsdiens al sedert die laat 1600’s beoefen.

Hoewel die Islamitiese geloof vinnig groei, is dit die geloof van ’n minderheid Suid-Afrikaners. Minder as 2% van die land se bevolking is Moslems.

In die tweede deel van ons godsdiensreeks leer ons jou meer oor die geskiedenis van dié godsdiens.

Wat is Islam?

Islam is ’n godsdiens wat gegrond is op die lering dat daar een God is wat Allah genoem word en dat die profeet Mohammed sy boodskapper is. Volgelinge van Islam word Moslems genoem. 

’n Muezzin is die persoon wat van die minaret (pil
’n Muezzin is die persoon wat van die minaret (pilaar) van ’n moskee die gemeenskap vir gebed- en aanbiddingsgeleenthede oproep. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die woord Islam beteken oorgawe of onderwerping (aan Allah [God] se wil en wette). Moslems wys hul gehoorsaamheid aan God deur daaglikse godsdiensbeoefening en die nakoming van tradisies.

Die boodskap wat Mohammed van God gekry het, is neergeskryf in die Moslems se heilige boek, die Koran. Die Koran is uiters belangrik vir Moslems en baie gelowiges leer al die woorde daarin ken. 

Die Profeet

Mohammed, wat eeue ge­lede – van die jaar 570 tot 632 – in Arabië geleef het, word as die stigter van die Moslems se geloof, Islam, beskou. Hy is in Mekka gebore. Sy pa, Abdullah, is al voor Mohammed se geboorte dood.

Sy ma, Amina, het gesterf toe hy ses jaar oud was. Mohammed se oupa Abdul-Muttalib het toe vir hom gesorg, maar dié oupa is ook twee jaar later oorlede.

Mohammed se oom Abu Talib het toe na hom gekyk tot hy ’n volwassene was. Op 25 het Mohammed met ’n ryk ouer vrou met die naam Khadijah getrou. Hy het aansien verwerf en die pa van ses kinders geword.

Die Kaapse Maleiers, van wie baie nog in die Bo-Ka
Die Kaapse Maleiers, van wie baie nog in die Bo-Kaap in Kaapstad woon, beoefen reeds sedert die laat 1600’s Islam in Suid-Afrika. Die Jamia-moskee, wat in 1850 gevestig is, is op die agtergrond sigbaar. Foto: Gallo Images/ Alamy

’n Boodskap van Bo

Toe Mohammed 40 jaar oud was, het hy op die berg Hira naby Mekka gaan stap. Moslems glo die engel Jibrail (Gabriël) het in ’n grot op die berg tot Mohammed gespreek. Hy het huis toe gegaan en sy vrou, Khadijah, vertel wat gebeur het.

Hy het nuwe openbaringe ontvang en ge­glo Allah (Arabies vir God) beveel hom om die lering van Bo met die mense te deel. 

Toe hy gepreek het, het baie inwoners van Mekka nie van die boodskap gehou nie. Hulle het nie in een god geglo nie, maar baie gode aanbid. Ander mense het wel sy boodskap geglo en dit gehoorsaam. Hulle het die eerste volgelinge van Islam geword. 

Die Sultan Ahmet-moskee in Istanbul, Turkye, is de
Die Sultan Ahmet-moskee in Istanbul, Turkye, is deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Dit is algemeen bekend as die Blou Moskee vanweë die blou teëls waarmee dit aan die binnekant versier is. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die trek na Medina

Mohammed was bekommerd dat sy vyande hom en sy volgelinge sou aanval. Hulle het toe na die stad Medina uitgewyk. Mohammed se tog na Medina staan as die hidjra bekend. Ná die hidjra het Mohammed probeer om die Arabiese stamme (groot groepe Arabiere) onder sy nuwe geloof saam te snoer.

Hy het geglo hulle kan so hul militêre mag gebruik om Islam na ander gebiede te versprei. Dit was daarom belangrik dat hy die steun van Mekka moes kry. 

Van die jaar 622 het hy en sy volgelinge op die slagveld met sy vyande van Mekka gebots. Baie inwoners van Mekka het self na Medina oorgeloop en Moslems geword. 

Toe Mohammed en sy stryders in 630 Mekka inneem, was daar min weerstand.

Tafels vol mense kom tydens Ramadaan, die heilige
Tafels vol mense kom tydens Ramadaan, die heilige maand, by ’n moskee in Istanbul, Turkye, byeen om hul vas te breek. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die profeet sterf

Mohammed is op 8 Junie 632 in Medina oorlede. Teen die tyd van sy afsterwe was die grootste deel van Arabië verenig. 

Van daar af het die Moslems hul geloof eers oor Noord-Afrika tot in Spanje, asook noord- en ooswaarts tot diep in Asië en later wêreldwyd versprei. 

Ná Mohammed se dood kon sy volgelinge nie ooreenstem oor wie hul leier moet wees nie. Dit het daartoe gelei dat Islam in verskillende takke verdeel het.

Vyf pilare

Moslems het vyf oortuigings wat vir hulle die belangrikste is en daarom die vyf pilare genoem word waarop hul geloof berus. Die vyf pilare van Islam het elkeen ’n spe­siale naam in Arabies.

  • Sjahada is die eerste pilaar. Dis die geloof dat Allah die een ware God is en dat Mohammed sy profeet is. Omdat dit die belangrikste pilaar van die Islamgeloof is, moet Moslems hierdie geloof in Allah en Mohammed hardop sê.
  • Salaah is die pilaar van gebed. Baie Moslems bid ’n paar keer per dag. Hulle kan op enige plek bid, maar baie van hulle gaan bid in ’n plek van aanbidding wat ’n moskee genoem word. Voor gebed moet Moslems hulle eers in ’n reinigings­ritueel was. Wanneer hulle bid, buig Moslems in die rigting van die heilige stad Mekka. Kinders word aangemoedig om van ’n vroeë ouderdom die pilaar van gebed te beoefen.
  • Zakaat is die pilaar van aalmoese gee (liefdadigheid). Moslems glo ’n mens moet jou rykdom deel met diegene in die geloofsgemeenskap wat minder bevoorreg is.
  • Saum of pwasa is die pilaar van die vas gedurende Ramadaan, die heilige maand. Dis die negende maand van die Islamitiese kalender wanneer Moslems van sonop tot sononder moet vas. Hoewel daar uitsonderings gemaak word vir sieklike en bejaarde mense, asook swanger vroue en jong kinders, moet alle ander Moslems hulle daarvan weerhou om te eet en drink gedurende die ure van die dag wanneer die son skyn.
  • Die hadj is nog ’n pilaar van Islam. Dit behels dat ’n Moslem minstens een keer in sy of haar lewe na die heilige stad Mekka moet reis. So ’n hadj word ook ’n pelgrimstog genoem. 
Vrywilligers deel kos- pakkies aan werkers uit by
Vrywilligers deel kospakkies aan werkers uit by ’n plaaslike moskee in Doebai as deel van ’n Ramadaan- liefdadigheidsveldtog. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nog oor die hadj

Die hadj is ’n 10 dae lange pelgrimstog wat op die agtste dag van die 12de maand van die Islamitiese kalender begin en met die Offerfees eindig. 

Meer as 2 miljoen Moslems onderneem elke jaar die hadj. Van die dinge wat die pelgrims doen, is om by die Kaäba (die heiligste plek in die Groot Moskee) te bid. 

Nog iets wat hulle doen, is om van Mekka na die Arafatvlakte en terug te reis. Die pelgrims doen die heilige plekke Mina en Muzdalifa aan vir gebede en rituele. 

Sodra die hadj met die Offerfees eindig, keer die pelgrims terug huis toe. Hulle maak dikwels dan ook ’n draai in Medina om Mohammed se graf te aanskou. 

Bronne: sentrum vir hedendaagse islam, universiteit van kaapstad vir kids.kiddle.co, khanacademy.org, socialstudiesforkids.com, kids.britannica.com, edition.cnn.com, wikipedia.org
Het jy geweet?
Die twee grootste vertakkings van Islam is die Soenni’s (sowat 90%) en die Sjias (ongeveer 10%). Ander heelwat kleiner groepe is onder meer die Wahabi’s, die Alawiete en die Ibadiete.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.