Daar was onlangs brande in Langebaan, Lichtenburg, die Kaapse metropool en Jeppe – en dit net in Augustus en September! Veldbrande is onbeheerbare brande wat deur die weer, wind en weens droë blare, takke, bosse en ander plantegroei versprei word. 

Veldbrande kan duisende hektare land in 'n oogwink afbrand, en niks – nie bome, plante, geboue of lewens – word gespaar nie. Ons leer jou meer oor hierdie gevaarlike verskynsel.

Skade

Met die ontdekking van die gebruik van vuur duisende jare gelede het die mensdom 'n reusetree vorentoe gegee. 

Hierdie einste bron van lig en hitte is egter jaarliks ook vir miljoene rande se skade verantwoordelik as gevolg van die verwoesting van eiendom, plantasies, weiding, noodsaaklike strukture, voertuie en landbougrond. 

Die waarde van die verlies aan lewens van mens en dier, asook items van historiese belang, is egter onberekenbaar. Suid-Afrika beleef tans een van die ergste droogtes in sy geskiedenis. 

Tydens die 2018-’19-boekjaar het die nasionale organisasie Working on Fire gehelp om 2 014 veldbrande dwarsoor Suid-Afrika te blus.

Knysna, 2017: Vuur diskrimineer nie – ryk of arm,
Knysna, 2017: Vuur diskrimineer nie – ryk of arm, dit maak nie saak nie, huise brand in minute af. Foto: Gallo Images/ Jaco Marais
Die verwoesting van 'n brand in Masiphumelele in 2
Die verwoesting van 'n brand in Masiphumelele vroeër vanjaar
    

Toestande

Die brande is veroorsaak deur 'n kombinasie van ongewone weers­toestande, stormsterk winde, droogte, weerlig en menslike nalatigheid. Droogtes weens aardverwarming en veral die nalatigheid van mense is van die hoofoorsake van veldbrande.

Die El Niño-verwante weerpatroon wat Suid-Afrika in 2018-’19 beleef, is ook een van die oorsake van onbeheerde brande. 'n El Niño ver­­­­oor­saak warm, droë weerstoestande.

Hierdie buiteseisoense droë weer skep die ideale toestande vir wegholbrande.

Hoewel brande 'n natuurlike verskynsel is wat veral in graslande, fynbos, bosse, plantasies en soms in inheemse woude voorkom, word slegs 'n klein aantal brande deur die natuur veroorsaak. Meer as 90% van veldbrande is mense se toedoen, hetsy met opset of weens nalatigheid. 

Wild byt die spit af ná ’n veldbrand – dikwels die
Wild byt die spit af ná ’n veldbrand – dikwels die gevolg van agtelosigheid

Wat is nodig vir 'n brand?

Daar is drie bestanddele nodig vir 'n vuur om te brand. Dit staan as die vuurdriehoek bekend. 

'n Hittebron (soos die son of 'n vuurhoutjie), brandstof (hout of gras) en suurstof is nodig.

Wanneer een van hierdie drie elemente ontbreek, sal die ontbranding stop. Die vuur word dus geblus en dit voorkom dat ander brande uitbreek. Hoofoorsake van brande

Daar is twee hoofkategorieë brande wat ondersoek word wanneer 'n veldbrand uitbreek, naamlik natuurlik en as gevolg van menslike aktiwiteite.

Weerlig en vonke wat tydens rotsstortings of aardbewings veroorsaak word, is die hoofredes vir veld- en bosbrande (natuurlike brande). 

Die droogte vererger die gevaar van wegholbrande aangesien droë grasse vinnig vlam vat. Droë bergwinde wat skielik van rigting verander, kan ook enorme skade veroorsaak wanneer beheerde brande buite beheer raak. 

Brande is egter noodsaaklik vir dele van Suid-Afrika se unieke fynbos om voort te plant, want dit het rook en hitte nodig om te ontkiem en voort te bestaan. 

Vuur word al duisende jare suksesvol aan­gewend om ongewenste plantegroei uit te roei, brandpaaie te maak en beter weiding te verseker. 

Mensgemaakte vure is die tweede kategorie wat ondersoek word wanneer die oorsaak van 'n brand bepaal word. 

'n Klein beheerde brand kan maklik in 'n katastrofiese veldbrand ontaard as die mens wat daarby betrokke is nalatig is.

Soms stig mense onwetend brande, soos wanneer hulle sigaretstompies by vensters ­uitgooi of nie hul kosvure deeglik blus nie. Daar is ook houtbrande, olie- en gasbrande en ­elektriese brande. 

Brande kan maklik ontstaan wanneer kinders met vuurhoutjies speel of braaivleisvure nie deeglik doodgemaak word nie.

Wanneer vee en oeste weens brande verlore gaan, kr
Wanneer vee en oeste weens brande verlore gaan, kry nie net boere swaar nie; kospryse styg as gevolg van tekorte en verbruikers moet meer opdok. Foto: Gallo Images/ Felix Dlangamandla)
Foto: Getty Images/ AFP
Foto: Getty Images/ AFP

Rook - die ware gevaar

Wanneer 'n brand ontstaan, veroor­saak dit digte rook. Hierdie rook kan baie skadelik wees wanneer dit ingeasem word en is ’n groter oorsaak van dood as die vuur self. Die rook van veldbrande kan ’n mens ook siek maak. 

Iemand wat tydens 'n brand rook inasem, kan binne 10-15 sekondes die fisieke gevolge ­daarvan ervaar.

Van die simptome van rookinaseming sluit in:

  • hoes,
  • pyn op die bors,
  • oë wat brand,
  • keel wat krap,
  • neus wat loop,
  • kortasem,
  • sukkel om asem te haal

Binne 30 sekondes tot 'n minuut kan 'n ­persoon sy bewussyn verloor as gevolg van 'n gebrek aan suurstof.

Wat om te doen tydens 'n brand

As daar 'n brand in 'n gebou of huis uitbreek en daar is rook, kruip vinnig en so laag moontlik teen die grond na 'n venster of deur. Rook is warm; daarom styg dit hoër op en is dit veiliger om so na moontlik aan die grond te wees.

As jy buite is in 'n brandsituasie, verlaat dadelik die area, veral as die vuur te groot is om met 'n emmer water te blus. Probeer waar moontlik afdraand vlug aangesien vure gewoonlik opwaarts versprei. Laat weet die vuur- en nooddienste waar die ligging van die vuur is.

Voorkoming

Die beste beskerming teen brande is om dit te voorkom. Moenie met vuurhoutjies of aanstekers speel nie. Maak seker die toestande is reg vir vuur maak as julle in die natuur is. 

Kyk na die daaglikse vuur­indeks wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens verskaf. As die telling hoog (70-100%) is, is die gevaar groot en word dit in rooi aangedui. Dan moet jou ouers of ander grootmense liefs nie ’n vuur maak of braai nie. (Sien kassie links bo.)

  • Maak slegs vuur waar dit toegelaat word.
  • Maak tydens 'n kamp seker die vuur is heeltemal dood voor jy gaan slaap. Hou sand en 'n graaf byderhand om die vuur te blus.
  • Hou 'n brandblusser by jul huis en maak seker dit word gereeld getoets. Brandblussers bevat gas wat onder 'n sekere druk moet wees. Jou ouers kan ook rookverklikkers in jul huis laat installeer. 

Die nasionale brandgevaar-kleurskaal

Die stelsel word vir die evaluering van die brandgevaar gebruik. Die indeks beskryf die brandgevaar op ’n spesifieke dag in ’n spesifieke streek. Almal moet die voorskrifte van die stelsel nakom. 

 Die nasionale brandgevaar-kleurskaal
Die nasionale brandgevaar-kleurskaal

Working on Fire

Working on Fire is 'n projek van die departement van openbare werke wat werkgeleenthede en opleiding aan sowat 5 000 mense landwyd bied. 

Working on Fire doen ook bewusmaking vir onder meer brandbestryding. Die spanne bied steu­n­dienste en noodsaaklike manne­krag aan brandweerspanne.

Talle onlangse brande het oor verskeie dae gestrek, soos die vernietigende brande in Bettysbaai, Knysna, Overstrand, Vermaaklikheid in die Overberg en Leeukop in Kaapstad. 

In die afgelope jaar was daar heelwat wegholbrande – ook bekend as onbeheerde veld- of bosbrande – wat dwarsdeur Suid-Afrika gewoed het, van die Tuinroete tot in Mpumalanga. Tydens die Knysna-brande in Junie 2017 is sowat 22 000 ha verwoes. 

Miljoene rande se skade is ook aan infra­struktuur, geboue, motors en toerusting aangerig. Agt mense is dood en sowat 10 000 mense moes hul huise ontruim. Baie mense het hul huise en al hul besittings in hierdie brande verloor.

Die brande in die Suid-Kaap en Tuinroete wat in Oktober 2018 groot verwoesting van Vermaaklikheid tot by Plettenbergbaai gesaai het, het meer as 100 000 ha verwoes, en nege mense en 'n ongebore baba is dood.

Ken die noodnommers

Maak seker jul gesin het 'n noodplan.

112: selfoon

10177: landlyn

  • Bronne: maroelamedia.co.za, wol.jw.org, mieliestronk.com, netwerk24.com, thunderboltkids.co.za, cdc.gov, globalnews.ca, mosselbayonthelineco.za, nidirect.gov.uk
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.