’n Woestyn is ’n sanderige, klipagtige landstreek wat dor en onherbergsaam is.

Dis gewoonlik ook ’n onbewoonde gebied waar die plante en diere aangepas is om met min water te oorleef.

Bedoeïene in die Sahara gebruik moderne tegnologie, maar maak steeds op kamele staat. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Drie soorte woestynklimate kom voor – ’n warm, koue en ’n gematigde woestynklimaat. Ons fokus op die warm woestynklimaat wat op talle van die dorste plekke op aarde voorkom.

Klimaat

’n Warm woestyn doen sy naam gestand met somertemperature van hoër as 40 °C, maar snags kan die temperatuur tot onder vriespunt daal.

Saharawoestyn
Bedoeïene in die Sahara gebruik moderne tegnologie, maar maak steeds op kamele staat. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die klimaat is uiters droog met minder as 250 mm reën per jaar. Warm woestyne het twee onderskeibare seisoene – die somer (met ’n gemiddelde temperatuur tussen 35 en 40 °C bedags) en die winter (tussen 20 en 30 °C).

Ligging

Warm woestyne kom naby die Kreefs- en Steenbokskeerkring voor.

Skerpioene het nie ’n kat se kans teen die meerkatte van die woestyne in Suider-Afrika nie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit is twee gordels wat op dieselfde breedteligging onderskeidelik noord en suid van die ewenaar lê.

Die ewenaar is die groot denkbeeldige sirkel wat om die middel van die aardbol strek en ewe ver van die Suid- en Noordpool geleë is.

In die intertropiese sone tussen die Kreefs- en Steenbokskeerkring is die son op sy felste en die verskil tussen die lengte van die dag en nag die geringste. Warm woestyne ontstaan op hierdie breedteliggings waar die lug oorwegend kalm en die atmosfeer stabiel is.

Die grootste warm woestyn is die Sahara in Noord-Afrika wat by die Kreefskeerkring oor die breedte van die vasteland strek. By ons in die suide van Afrika loop die Steenbokskeerkring deur die Namib- en Kalahariwoestyn.

In ander warmwoestynklimate in Noord-Afrika tref ons ook die Libiese en Nubiese woestyn aan sowel as woestyne in die Horing van Afrika soos die Danakil- en Groot-Bara-woestyn.

Die Arabiese en Siriese asook Iran se Lutwoestyn en Dasht-e Kevir-soutwoestyn kom in die Midde-Ooste voor.

Suid-Asië se Tharwoestyn strek oor Indië en Pakistan. In Amerika en Mexiko tref ons die Mojave-, Sonora- en Chihuahuawoestyn aan.

Australië het ook warm woestyne soos die Simpson- en Groot-Victoria-woestyn.

Woestynlewe

’n Woestyn kry min reën en die neerslag is hoogs onvoorspelbaar.

Kaktusse berg water in hul stamme en weer diere met hul stekels af, maar die Amerikaanse horinguil het al hierby aangepas en maak nes in die saguaro-kaktus in Arizona, Amerika.Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit word gevolg deur lang tye van droogte.

Vanweë die min neerslag word relatief min diere hier aangetref.

Hoewel baie mense dink die woestyngrond is onvrugbaar, is dit eintlik nie altyd so nie.

Ná ’n goeie reënbui kan ’n groot deel van ’n woestyn skielik met plante bedek wees. Maar die woestyngrond kan die water nie lank hou nie; daarom sterf die plante weer.

Die plante en diere is by hierdie siklusse van oorvloed en skaarste aangepas

’n San-man in die Kalahari drink water wat uit ’n bolplant gedruk word. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Woestynmense

Al is woestyne onherbergsaam, is daar etniese groepe wat daar kan oorleef.

Hulle is groepe mense wat moet rondtrek op soek na plekke met water en kos.

Dit is ’n baie moeilike bestaan om in so ’n snikhete en dorre omgewing te leef en woestynmense moet groot gevare trotseer, byvoorbeeld roofdiere en sandstorms.

’n Paar van hierdie vernuftige groepe is die San in die Kalahari, die Berbers van Noord-Afrika, die Bedoeïene van die Arabiese woestyn en die Australiese aborigines.

Hulle ken die woestynplante en weet waar om water te kry.

Hulle is ook goeie jagters.

BRONNE: BBC.COM, ELS.NET, WIKIPEDIA.ORG, MIELIESTRONK.COM, ENISCUOLA.NET, GUINNESSWORLDRECORDS.COM