Het jy al op ’n mat gestaan terwyl iemand dit trek? Dit voel asof die aarde onder jou beweeg! Wanneer ons van ’n aardbewing praat, is dit presies wat gebeur: Die aarde beweeg. Dié beweging kan lei tot die ontstaan van berge, maar ook tot die verwoesting van dorpe en stede. Hoe vind dit plaas? Ons leer jou meer.

Wat is ’n aardbewing?

’n Aardbewing is wanneer die aarde se oppervlak skielik skud en beweeg. Die meeste bronne noem dat hierdie oppervlak uit sewe hoofdele bestaan, bekend as korsplate of tektoniese plate. ’n Mens kan sê ’n aardbewing is die aarde se natuurlike manier om van drukking onder die aardoppervlak ontslae te raak.

Aardbewings kan nie deur wetenskaplikes voorspel word nie, met ander woorde skuddings gebeur skielik en sonder enige waarskuwing. Maar wetenskaplikes kan wel die krag van die skudding met hul toerusting meet. Hulle doen dit met behulp van ’n seismograaf.

 ’n Aardbewing vind plaas wanneer korsplate skuif.
’n Aardbewing vind plaas wanneer korsplate skuif.

’n Seismograaf is ’n toestel wat gebruik word om die krag en die tydsduur van ’n aardbewing op te teken. Die toestel meet die skokgolwe wat deur die aardbewing veroorsaak word om dan die krag en tydsduur vas te stel.

Die krag van die aardbewing word op die Richterskaal met getalle aangedui. Maar dit bepaal nie die skade wat die aardbewing veroorsaak nie. Hier is hoe die Richterskaal ingedeel is, van uiters gering tot hewig:

Uiters gering: kleiner as 3,0

  • Gering: 3 - 3,9
  • Lig: 4 - 4,9
  • Matig: 5 - 5,9
  • Sterk: 6 - 6,9
  • Groot: 7 - 7,9
  • Hewig: 8 en hoër
Seismiese golwe wat gebruik word om die krag en ty
Seismiese golwe wat gebruik word om die krag en tydsduur van ’n aardbewing te bepaal.

    Wat veroorsaak dat die aarde skud?

    Die korsplate onder die aarde se oppervlak is heeltyd aan die beweeg. Dit is nie ’n vinnige beweging nie; dit vind stadig plaas. Wanneer bewegende korsplate druk plaas op ander korsplate, veroorsaak dit skokgolwe.

    Dit is hierdie skokgolwe wat ons trillings en skuddings op die aardoppervlak laat voel. Die middelpunt van waar die drukking skokgolwe veroorsaak, word die episentrum genoem. Dis amper soos wanneer jy ’n klip in die water gooi – dit veroorsaak kringe in die water wat van die klip uitwaarts, van binne na buite, beweeg.

    Net so is dit met ’n aardbewing: Daar is beweging onder die aardoppervlak wat drukking op rotsmassas veroorsaak; die aarde wil ontslae raak van die drukking en dit veroorsaak skokgolwe wat van die episentrum skudding en beweging tot gevolg het.

    Mynbouaktiwiteite kan ook ’n aardbewing veroorsaak. Dink aan ’n ontploffing onder die aardoppervlak om tonnels vir myne te bou. Die ontploffing kan die aardkors laat skuif, wat skokgolwe veroorsaak en natuurlik dan tot ’n skudding of trilling kan lei.

    Nog ’n aardbewing het Chili in 2010 getref en heri
    Nog ’n aardbewing het Chili in 2010 getref en herinner aan die 1960-aardbewing wat 9,4 - 9,6 op die Richterskaal gemeet het.

    Waar vind aardbewings plaas?

    Faktore soos die weerstoestande, seisoene en of dit dag of nag is, het geen invloed op waar of wanneer aardbewings plaasvind nie. Aardbewings vind gewoonlik langs plaatgrense plaas. Gebiede waar tektoniese plate oor mekaar skuif en gevolglik drukking veroorsaak, is gebiede waar aardbewings gebeur.

    Navorsing wys dat honderde klein aardbewings elke dag wêreldwyd voorkom. Groot aardbewings van meer as 7 op die Richterskaal gebeur meer as een keer per maand, terwyl reuseaardbewings groter as 8 op die Richterskaal sowat een keer per jaar êrens gebeur. Die drukking wat die skokgolwe veroorsaak, is nie altyd erg nie en word nie elke keer deur mense gevoel nie.

    Plekke wat gereelder aardbewings ervaar, is veral Indonesië, Japan, China, Amerika en Indië.

    Verminder die impak van aardbewings

    Aardbewings gebeur enige tyd en kan nie gestop word nie. As ’n mens weet jy woon in ’n gebied waar plaatverskuiwings gereeld plaasvind, kan jy probeer om die impak te verminder.

    Sulke mense kan seker maak hulle het mediese voorrade in die huis, hulle kan blikkieskos en gebottelde water stoor en seker maak hulle het kamptoerusting soos ’n gasstofie en ’n tent waarin hulle tydelik kan bly. Hulle kan ook ’n ontruimingsroete gereed hou.

    Gebiede waar aardbewings gereeld voorkom, gebruik selfs spesifieke boumateriaal om die skade aan huise en geboue te verminder.

    Die verwoesting van die aardbewing op 29 September
    Die verwoesting van die aardbewing op 29 September 1969 in Tulbagh, Wolseley en Ceres in die Wes-Kaap.

    Grootste aardbewings in die geskiedenis

    ’n Aardbewing op 22 Mei 1960 in die suide van Chili in Suid-Amerika is die grootste aardbewing wat deur ’n seismograaf gemeet is. Dié aardbewing het byna 10 minute geduur en het 9,4 tot 9,6 op die Richterskaal gemeet.

    Altesaam 1 655 Chilene is dood en 2 miljoen is dakloos gelaat. ’n Tsoenami wat gevolg het, het nog 61 lewens in Hawaii geëis en verwoesting tot in Japan, die Filippyne en Nieu-Seeland gesaai.

    Hoewel dit die grootste aardbewing is, is die dodelikste aardbewing wat opgeteken is die een op 23 Januarie 1556 in Shaanxi, China, toe 830 000 mense hul lewe verloor het.

    Gevolge
    • Aardbewings kan geboue en huise inmekaar laat tuimel, wat weer tot die besering en sterftes van mense en diere kan lei.
    • Groot skuddings kan ’n dorp of stad se infrastruktuur verwoes en ook tot brande lei.
    • Dit kan veroorsaak dat ’n gebied weke lank nie water of krag het nie, wat ook tot siektes kan lei.
    • ’n Stad se spoorlyne, paaie en kragstasies kan beskadig word. Grondverskuiwings en skeure in die aarde kan ook voorkom.
    • Daar is die moontlikheid dat aardbewings soms vulkaniese uitbarstings veroorsaak, maar wetenskaplikes is verdeeld oor of daar ’n verband tussen die twee verskynsels is.
    • Sneeustortings en tsoenami’s, oftewel reusegolwe, kan ook as gevolg van ’n aardbewing plaasvind en groot verliese tot gevolg hê.
    • ’n Aardbewing onder die see kan selfs skade aan ondersese ekosisteme aanrig.

    Die verwoesting van die aardbewing op 29 September
    Die verwoesting van die aardbewing op 29 September 1969 in Tulbagh, Wolseley en Ceres in die Wes-Kaap.

    Aardbewings in Suid-Afrika

    Suid-Afrika het ’n taamlik bestendige aardkors.

    Dit beteken ons aardkors is taamlik vas, maar dit beteken nie ons kry glad nie aardbewings nie. Aardbewings is die algemeenste in mynbougebiede, veral in Gauteng en die noorde van die Vrystaat.

    Mynstortings dra grootliks by tot aardskuddings in Suid-Afrika. Die grootste aardbewing in Suid-Afrika was die Tulbagh-aardbewing. Dit het op 29 September 1969 op die dorpies Tulbagh, Wolseley en Ceres in die Wes-Kaap gebeur.

    Die skudding het rotsstortings en brande veroorsaak, en 11 mense is dood. Geboue is verwoes. Dit het sowat 6,3 op die Richterskaal gemeet en is glo deur die sogenaamde Worcester-breuk in die aardkors veroorsaak. 

    FOTO'S: SCIENCE PHOTO LIBRARY, DANITA DELIMONT, MEDIA24 ARCHIVE; Bronne: mieliestronk.com, af.wikipedia.org, ceresmuseum.co.za, netwerk24.com, summariessa.co.za, wol.jw.org, weatherwizkids.com, ducksters.com, listsurge.com, spaceplace.nasa.gov, earthquaketrack.com, nationalgeographic.com