Ongeveer 5 000 jaar gelede het die antieke Egiptenare hul eerste verenigde koninkryk by die mond van die Nylrivier in die noordooste van Afrika gevestig. Die Nyl was ’n bron van water, vrugbare grond, voedsel en vervoer.

Die geskiedenis van ou Egipte word in vier hooftydperke ingedeel: die vroeë periode, die Ou Ryk, die Middelryk en die Nuwe Ryk.

Ná die laaste periode het die land eers onder Persiese en toe onder Griekse beheer gekom. 

Die legendariese Cleopatra was die laaste Egiptiese heerser voor die land deel van die Romeinse Ryk geword het. Dit is ’n tyd­perk wat oor 3 000 jaar strek, van ongeveer 3100 tot 30 v.C.

egipte,geskiedenis
Die oewers van die Nyl maak plek vir die onvrugbare woestyn van die Vallei van die Konings. In die verte is die tempel van ­Hatsjepsoet in Deir el-Bahri, Luxor. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Koninklike lewe

Die koning of farao was nie net die magtigste en belangrikste persoon in Egipte nie; daar is ook geglo hy is ’n lewende god. 

Die woord “farao” beteken “belangrike huis”. Antieke Egiptenare het geglo die farao’s is afstammelinge van Ra, die songod.

Belangrike amptenare, adellikes en priesters was “vriende van die farao” en het saam met die koninklike gesin in die paleis gewoon. Hulle het die farao gehelp om die koninkryk te regeer.

Die farao was gewoonlik ’n man met baie vroue. Slegs een vrou het die titel koningin gehad en sy het langs hom regeer. 

Een van die min vroue wat ooit oor Egipte geheers het, was Hatsjepsoet. Sy is aanvanklik aangestel as raadgewende regeerder vir Toetmoses III, haar minderjarige stiefseun, omdat hy te jonk was om as farao te regeer. 

ramses,egipte,kunswerke,geskiedenis,laerskool
Ramses II op sy strydwa. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy het haarself egter ’n paar jaar later tot ware farao verklaar en het sowat 20 jaar lank baie suksesvol oor die koninkryk regeer. Sy het die kroon gedra, asook die farao se seremoniële baard. 

Onder Hatsjepsoet se bewind het Egipte een van die grootste handels­ekspedisies voltooi en met ’n fortuin koper, ivoor en mirrebome teruggekeer. Van die mirre is wierook vir gebruik in die tempels ­gemaak.

Een van die bekendste farao’s was Ramses die Grote. Ramses II is as tiener gekroon en het meer as 66 jaar lank regeer. Hy was bekend vir al die monumente en standbeelde wat hy laat oprig het.

Hy het ook die Ramesseum, ’n tempel, laat bou waar mense slegs vir hom – en geen ander god nie – mag aanbid het. 

Hy is op ’n hoë ouderdom (sowat 90 jaar) oorlede en was die enigste farao ooit wat met die titel “die Grote” vereer is.

Leefstyl

Die daaglikse handel en wandel in ­antieke Egipte was soort­gelyk aan die leefstyl van mense ­vandag. Families en gesinstyd was vir hulle baie belangrik. 

Die gewone mense het gedurende die dag as boere, handelaars en ambagsmanne gewerk, en saans het hulle bordspeletjies gespeel en musiek gemaak. 

Die pa was die broodwinner en die ma het na die huis en kinders om­gesien. Hulle het ook troeteldiere soos katte en apies aangehou.

Slegs die welgestelde gesinne het hul seuns skool toe gestuur. Hulle is deur skribas onderrig en het geleer om hiërogliewe te lees en skryf. 

Hulle het met fyn rietborseltjies op stukke klei, klip en papier (gemaak van papirusriete) geskryf. 

Swart ink is gemaak deur ’n bietjie water met roet en plantgom te meng. Belangrike werk is in rooi ink geskryf wat van oker uit die woestyn gemaak is. 

egipte,geskiedenis
Vroulike musikante bespeel die harp en die luit. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die dogters het musiekonderrig ontvang en geleer om te dans en huishoudelike vaardig­hede te bemeester.

Die Nylrivier het elke jaar genoeg modder aan die Egiptenare verskaf.

Huise in die hoogliggende dele is gebou van modderbakstene wat met sand en strooi versterk is. Die dak is bedek met riete wat aan die oewer van die Nyl gegroei het. 

Hul daaglikse dieet het bestaan uit brood, groente, vrugte en bier. Die welgesteldes het ook wyn gedrink en gereeld vleis geëet.

Mans en vroue se kleredrag het bestaan uit eenvoudige lap gemaak van linne. 

Hulle het gewoonlik kaalvoet geloop, maar op spesiale geleent­hede sandale van papirusriet of leer gedra, sowel as pruike as hoof­tooisels.

egipte,geskiedenis,skool,leer
Die staatsarbeiders het onder meer gesaai, geploeg, koring geoes en papirusriete bymekaargemaak. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Boerdery 

Landbou was die middelpunt van die Egiptiese samelewing en ekonomie. 

Die Nylrivier, met sy oorsprong in Sentraal-Afrika, het van die hoë berge na die Middellandse See gevloei. 

Ná groot reëns en wanneer die sneeu gesmelt het, het die Nyl elke jaar tussen Junie en September sy oewers oorstroom en baie water en vrugbare modder na die vallei van Egipte gebring. 

In Oktober het hulle gesaai. Beeste is gebruik om die grond om te ploeg en sade in die grond in te trap. Hul hoofgewasse was koring, gars en vlas, asook boontjies, lensies, uie, vye, dadels en druiwe.

Namate die dorpe om die Nyl gegroei en uitgebrei het, is landerye en gewasse verder weg aangeplant en moes hulle ’n besproeiingstelsel ontwikkel. 

Kanale is gebou en slote gegrawe om water tot by hul gewasse te kry. ’n Spesiale apparaat, die sjadoef, is gebruik om water uit die rivier te kry.

Tussen Maart en Mei is daar geoes. Sekels is gebruik om koringare en mielies af te sny. Die koring is met behulp van wanmandjies van die kaf geskei.

’n Gedeelte van elke oes is aan die farao en grondeienaars gegee as ’n vorm van belasting. Amptenare en skribas het noukeurig boek­gehou van die betalings. 

Graan wat as belasting aan die farao betaal is, is in groot graankelders geberg. Tydens tye van droogte en swaarkry het die farao sy volk hieruit onderhou.Diere soos beeste, skape, bokke en varke is aangehou as bronne van melk en vleis. 

Slegs die welgesteldes kon hierdie luukses bekostig.

egipte,geskiedenis,skool
Hiërogliewe uitgekerf teen die massiewe pilare van die tempel in Karnak, Luxor. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Handel

Die Nylrivier was ook ’n belangrike vervoerroete. Bote van papirusriete is gebruik om heen en weer te vaar en handel te dryf met verskillende streke.

Egiptiese handelaars het onder meer graangewasse, goud, papirus en wyn verruil vir luukshede soos hout, perde en luiperdvelle.

Hulle het nie geld gehad nie, maar eerder ’n stelsel van ruilhandel gebruik. Goedere is gewaardeer volgens standaardkopergewigte van sowat 90 g wat debens ­genoem is.

Daar was ook debens van silwer en goud vir duurder produkte.

Antieke Egipte het die belangrikste sentrum van kennis in die Midde-Ooste geword. Van daar af het die kennis deur die Grieke, Romeine en Arabiere na Europa versprei.