Die Grieke van ouds het ’n enorme rol gespeel in die vorming van ons lewe soos dit vandag is. Hul politieke gedagtes, filosofie, sport, kuns, argitektuur en wetenskaplike prestasies leef vandag nog voort in die Westerse en ander beskawings.

Hul land

Die Grieke het hulself Hellene en hul land Hellas genoem. Die Romeine het egter na hulle as Graeci en na hul land as Graecia verwys, en dit is waar ons ook die Afrikaanse benaming gekry het.

Antieke Griekeland het meer as 2 500 jaar gelede uit ’n klomp stadstate bestaan wat saamgegroepeer is aan die spits van ’n reuse­skiereiland wat vanaf Europa in die Middellandse See uitsteek.

alexander the great,beeld,griekeland,laerskool
’n Deel van ’n mosaïek wat Alexander die Grote uitbeeld. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kleiner skiereilandjies aan die Griekse hoofland en talle eilande sorg vir ’n lang kuslyn en baie hawes. Dis g’n wonder dat die Grieke uitstekende seevaarders en vissers was nie.

antieke griekeland,skooltake
Die kerngebied van ou Griekeland. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die ou Grieke het met hul skepe uitgevaar om handel te dryf, oorlog te voer en nuwe vestigingsgebiede te vind. Hulle het oral in die gebied van die Middellandse See nuwe kolonies gestig. Daar was Griekse nedersettings in Italië, Sisilië, Klein-Asië (Turkye), Noord-Afrika en so ver wes soos Frankryk en Spanje.

Ontwikkelingsgang

Die Minoërs het die eerste groot Griekse beskawing tussen 2200 v.C. en 1450 v.C. op die eiland Kreta gevestig. Die Minoïese beskawing is genoem na Minos, hul legendariese koning. 

antieke griekeland,laerskool,skooltake
’n Replika van die Trojaanse perd in Turkye. Soldate in die houtperd het in die nag terwyl die Trojane feesvier die stad se hek oopgemaak sodat die Grieke die stad kon inneem en die oorlog kon wen. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die Miceense beskawing het daarna op die Griekse hoofland ontstaan. Die Miceners was vernuftige bouers, handelaars en soldate. Hulle het in die oorlog teen Troje geveg waar die Grieke hul vyande rondom 1190 v.C. volgens die mitologie met ’n enorme houtperd uitoorlê het.

Die Miceense tydperk het omstreeks 1100 v.C. geëindig, en Griekeland is sowat 300 jaar in sy donker eeue – sonder skrif of kuns – gedompel.

Teen 800 v.C. het baie stadstate soos ­Sparta, Athene, Efese en Korinthe ontwikkel. Elke stadstaat het sy eie regering, wette en leër gehad. Ondanks die onenigheid het die Griekse beskawing in dié tyd weer ontwaak.

Hulle het in 776 v.C. die eerste Olimpiese Spele gehou. Stadstate wat teen mekaar oorlog gevoer het, het dan vrede gemaak vir die duur van die Olimpiese Spele en daarna verder baklei.

antieke griekeland,skooltake
Die bouvalle van die paleis van Knossos op die eiland Kreta wys hoe groots die Minoïese beskawing was. Foto: Gallo Images/ Getty Images

In 507 v.C. het Athene ’n belangrike kopskuif gemaak toe dié stadstaat die eerste demokratiese regeringstelsel ingestel het. In die jare daarna het die Griekse stadstate ook saamgestaan om aanvalle deur die Persiese magte af te weer.

Griekeland het rondom 480 v.C. ’n goue tydperk betree wat sowat 200 jaar geduur het. Hulle het fantastiese tempels gebou, weten­skaplike ontdekkings gemaak, wonderlike ­toneelstukke en poësie geskryf en ’n vroeë vorm van demokrasie beoefen. Dit staan bekend as die Klassieke Tydperk.

Jy het seker al gehoor van Alexander die Grote. Hy was ’n magtige heerser van Masedonië wat die hele Griekeland in die 300’s voor Christus onder sy heerskappy verenig het. Hy en sy leër het nie daar opgehou nie.

Hulle het ooswaarts groot dele van die wêreld verower sodat Alexander se ryk eindelik tot in Afganistan en Indië gestrek het.

Ná Alexander se dood in 323 v.C. het die laaste periode in die antieke Griekse geskiedenis aangebreek – die Hellenistiese tydperk. Dit het geduur tot 31 v.C., toe die Romeine beheer oor Griekeland oorgeneem het ná die Slag van Actium.

Die Romeine het nie die Griekse beskawing vernietig nie omdat hulle dit bewonder het. Hulle het baie dinge uit die Griekse kultuur nageboots, insluitend hul kleredrag, kuns, geboue en godsdiens.

Godsdiens

Die Grieke van ouds het in duisende gode, godinne en magiese dinge geglo.

antieke griekeland,laerskool
Amper elke Griekse stad het ’n teater gehad omdat toneelstukke deel van baie godsdienstige feeste was. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hulle het vir die gode pragtige tempels gebou en geglo 12 Olimpiese gode wat bo-op die berg Olimpus woon, regeer oor die ander gode. Die Grieke het wonderlike stories oor die gode vertel.

Daar was Zeus, die koning van die gode. Poseidon was die heerser oor die see, en Artemis was die godin van jag wat ook die maan laat opkom het. Afrodite was die godin van die liefde.

Die ander Olimpiërs was Hera (godin van die huwelik en vroue), Demeter (godin van graan en vrugbaarheid), Hermes (boodskapper van die gode), Hefaistos (god van die smeekuns), Athena (godin van wysheid en strategie), Apollo (god van lig, musiek en woorde), Hestia (godin van die vuurherd) en Ares (god van oorlog).

Hades was die god van die onderwêreld, maar hy en talle ander gode het nie saam met die 12 Olimpiërs op die berg Olimpus gewoon nie.

Alledaagse lewe

Mans het ’n beter lewe as vroue gehad.

Net mans kon volle burgers wees en die belangrike besluite neem. Hulle het as soldate geveg, in gimna­siums geoefen, aan sport deel­geneem en in die openbaar ontmoet om die politiek, kuns en filosofie te bespreek.

Vroue het huislike vaardighede geleer soos om te kook en te weef. Hulle moes huishou, klere maak en kinders kry. Net die armste Griekse vroue het die werk alleen gedoen. Die meeste huise het slavinne gehad wat moes kook, skoonmaak en water haal.

Daar was ook manlike slawe wat die huis moes beskerm en die seuns van die huis onderrig. Die slawe was gewoonlik krygsgevangenes. Meisies moes alles doen wat hul pa sê – soos om met die man te trou wat hy vir haar kies!

As gevolg van die warm weer het die Grieke ligte, los kledingstukke gedra.

kleredrag,antieke griekeland
’n Tipiese uitrusting om die lang pad mee aan te durf. Dit sluit ’n chitoon, sandale en ’n sonhoed in wat op sy rug hang. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Mans het ’n chitoon (tuniek) gedra. Dis gemaak deur twee reghoekige stukke linne bolangs aanmekaar te stik of te speld, met gate vir die kop en arms. Dis dan om die heupe vasgebind.

Vroue se klere was soortgelyk, maar het tot by die enkels gehang. Die Grieke het gewoonlik kaalvoet geloop, maar hulle het sandale of stewels van leer gedra indien nodig.

Die huise in daardie tyd het een of twee verdiepings gehad en is van klip of klei gebou. Die dakke was van ­teëls of riet.

Teëlvloere het die huis koel gehou in die somer, maar in die winter is vuur gemaak vir hitte.

Groter huise het ’n kombuis, ’n badvertrek en ’n eetkamer vir mans gehad. Die huis is om ’n binnehof gebou met hoë mure en ’n sterk hek. Die gesinslewe het veral in die binnehof afgespeel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!