Het jy al van die Melkweg gehoor? 

Dit bevat 'n pragtige strook sterre wat in die nag van die aarde af sigbaar is en van die een kant van die hemelruim na die ander kant loop. 

Weens lugbesoedeling is dit moeiliker om te sien as jy in 'n stad of op 'n groot dorp woon, maar  op die platteland is dit duidelik sigbaar en asemrowend om te aanskou. Ons leer jou meer oor die Melkweg, die sterrestelsel waarin ons planeet, die aarde, voorkom.

Ons plek in die ruimte

Sterrekundiges het vasgestel ons son beweeg teen
Sterrekundiges het vasgestel ons son beweeg teen 230 km per sekonde om die sentrum van ons sterrestelsel. Een omwenteling duur ongeveer 250 miljoen jaar. Foto: NASA

Die ontsaglike ruimte kan ons as mense eintlik piepklein en onbelangrik laat voel. Jy weet seker dat die aarde deel is van 'n sonnestelsel. Dit bevat ons lewe­gewende son en die agt planete wat om die son wentel.

Dié planete in die volgorde vanaf die son is Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Ons sonnestelsel bevat ook dwergplanete soos Ceres en Pluto, mane, komete en ander voorwerpe.

Sterrestelsels

Die onreëlmatige sterrestelsel Sextans A is dalk l
Die onreëlmatige sterrestelsel Sextans A is dalk lid van die Plaaslike Groep en is 4,3 miljoen ligjare van die aarde af.

'n Sterrestelsel is 'n enorme groepering van sterre, planete, sterre­swerms, gas en stof wat alles deur swaartekrag bymekaargehou word.

Wetenskaplikes het bereken tot 100 miljard sterrestelsels kan in die waarneembare ruimte aangetref word. 

Sterrestelsels is nie almal dieselfde nie. Hulle kom in verskillende vorms en groottes voor. Party is met tot 10 miljoen sterre eintlik klein en staan as dwergsterrestelsels bekend.

Ander is enorm met meer as 100 biljoen sterre. 

Hul vorms kan ook wissel van 'n spiraal soos die Melkweg tot ellipties of on­reëlmatig. 'n Spiraalvormige sterrestelsel soos die Melkweg is skyfvormig met gekromde arms wat dit soos 'n windmeul laat lyk. 

Melkweg

Messier 92, ’n sterreswerm in die Hercules-konstel
Messier 92, ’n sterreswerm in die Hercules-konstellasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

As jy in gedagte hou dat ons son 'n ster is en die Melkweg die sterrestelsel waarin ons sonnestelsel voorkom, praat ons van ontelbare sterre. As jy vandag aan die sterre in ons sterrestelsel begin tel, sal dit jou duisende jare neem om almal te tel. 

Die Melkweg is 'n spiraalstelsel van middelmatige grootte as jy dit met ander sterre­stelsels vergelyk. Na raming is daar tussen 200 en 400 miljard sterre in die Melkweg.

Benewens sterre word gaswolke ook in ons sterrestelsel aangetref. Ons sonnestelsel bevind hom in een van die Melkweg se spiraalarms. 

Arms

Die sentrum van die Melkweg soos gesien deur Nasa
Die sentrum van die Melkweg soos gesien deur Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop. Foto: NASA

Die Melkweg het 'n sentrale verdikte kern en spiraalarms wat van binne na buite loop. Die twee hoofarms staan as die Sagittarius- en Perseusarm bekend.

Ons sterrestelsel het nog twee arms wat as die Scutum-Crux- en Norma-­arm bekendstaan. Dié arms het hulle uit die Sagittarius-arm losgeruk.

Ons Melkweg is nie alleen nie. Hy bevind hom in 'n groep van meer as 50 sterrestelsels wat die Plaaslike Groep genoem word. Dié groep se swaartekragmiddelpunt lê iewers tussen die Melkweg en die Andromeda-sterrestelsel.

Die sterrestelsels van die Plaaslike Groep het ’n deursnee van sowat 10 miljoen ligjare. 

Ontstaan

Die Melkweg is so 13 miljard jaar oud. Wetenskaplikes sê vandag dat toe die Melkweg miljarde jare gelede gevorm het ’n superswaar swartkolk (lees meer oor swartkolke op bl. 76) ook ontstaan het.

Hulle vermoed dit het gebeur toe ’n massiewe gaswolk op homself ineengestort het en hulle meen alles in die Melkweg roteer om hierdie swartkolk.

Die naam

Die ou Egiptenare het geglo die helder sterreband wat hulle snags in die hemel sien, het ontstaan uit die melk afkomstig uit die uier van die hemelse koei. By die ou Grieke het 'n soortgelyke gedagte oor die Melkweg bestaan. 

Hulle het geglo toe die god Zeus die baba Herakles aan sy vrou, die godin Hera, gegee het om te soog, het Hera besef dis nie haar kind nie. Sy het die baba toe heftig van haar af weggestoot en die vermorste moedermelk het so die Melkweg aan die hemel gevorm. 

Maar vandag weet ons die wit gloed wat ons sien, is nie melk nie; dis die glans van ’n tros van miljarde sterre.

Moderne kennis

Jan Oort het belangrike bydraes oor ons kennis van
Jan Oort het belangrike bydraes oor ons kennis van die Melkweg gelewer. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit was vir wetenskaplikes moeilik om te bepaal watter struktuur ons sterrestelsel het omdat ons aardbewoners ons binne die Melkweg bevind. Die ontwikkeling van kragtige teleskope het dinge mettertyd vergemaklik.

’n Baanbrekersterrekundige was die Duits gebore Brit William Herschel (1738-1822), wat die struktuur van die Melkweg nagevors het. 

Hy was die heel eerste sterrekundige wat voor­gestel het die Melkweg is skyfvormig, maar hy het verkeerdelik vermoed ons son vorm die middelpunt van hierdie skyf.Die Nederlandse sterrekundige Jan Oort (1900-1992) het ook belangrike bydraes oor ons kennis van die Melkweg gelewer. 

Hy het onder meer ontdek die Melkweg roteer, en hy het on­teenseglik bewys ons son vorm nie die middelpunt van die Melkweg nie.

Hy is ook die ontdekker van donker materie, wat sterre­stelsels bymekaarhou, en die galaktiese halo, 'n min of meer bolvormige ruimte wat ’n melkwegstelsel omsluit.

Nog 'n groot bydrae het van die Amerikaanse sterrekundige Harlow Shapley (1885-1972) ­gekom. Hy het die grootte van die Melkweg ­be­reken en die aarde se posisie daarin vasgestel.

Al kan ons weens ons posisie op aarde nie ons eie sterrestelsel van buite bestudeer nie, weet ons vandag heelwat oor sterrestelsels.

Ons kan byvoorbeeld die naaste spiraal­sterrestelsel aan ons eie, Andromeda, van buite bekyk. Omdat Andromeda ook ’n spiraal-vormige sterrestelsel is, is dit baie leersaam om dit te bestudeer. 

Het jy geweet?
'n Ligjaar is nie 'n eenheid van tyd nie, maar van afstand. Dit is die afstand wat lig binne een jaar in 'n vakuum sal aflê. 1 ligjaar = 9,46 biljoen km
  • Bronne: bbc.com, els.net, wikipedia.org, mieliestronk.com, eniscuola.net, guinnessworldrecords.com
Kom neem deel aan die gesprek

 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.