Persië was ’n magtige koninkryk in en om die gebied wat vandag as die Islamitiese Republiek Iran bekendstaan. In die antieke tyd het die Persiese Ryk (ook bekend as die Achaemenidiese Ryk) vanaf die moderne Iran uitgebrei tot dit die magtigste wêreldryk van sy tyd was.

Op sy toppunt het die Persiese Ryk van die Indusrivier in Suider-Asië tot by suidelike dele van Europa en Noord-Afrika gestrek.

Zoroastrisme

Persiese Ryk
Zoroastrisme. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Voor die Perse in die sewende eeu Moslems geword het, was hulle aanhangers van die Zoroastrisme. Dit is ’n monoteïstiese geloof (dit wil sê met een skeppergod) wat sowat 3 500 jaar gelede deur die profeet Zoroaster (of Zarathoestra) gestig is.

Daar is vandag wêreldwyd hoogstens 190 000 gelowiges van dié ou godsdiens, van wie die meeste in Indië voorkom. Hulle is nie vuuraanbidders soos sommige mense dink nie, maar glo vuur verteenwoordig hul god se lig en wysheid.

Sirus die Grote

Persiese Ryk
Die indrukwekkende trappe, reliëfs en poorte wys hoe groot die ryk was, maar die gedeeltes wat verval het – soos die pilare – wys hoe erg die einde daarvan was. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In die jaar 559 v.C. het ’n merkwaardige jong man die troon van Persië bestyg. Sy naam was Sirus II en hy was vasbeslote om sy koninkryk tot ’n groot ryk uit te bou deur naburige koninkryke te verower. Hy het sy weermag goed opgelei en met ysterwapens toegerus.

Teen 550 v.C. het hy opgeruk teen Medië, ’n koninkryk noord van Persië, en dit binne enkele weke oorrompel. Die Mede en Perse het toe kragte saamgesnoer en ’n veldtog deur Klein-Asië (moderne Turkye) gevoer.

Aan die weskus van die huidige Turkye het Sirus die Grote se leermagte koning Croesus van Lidië in 546 v.C verslaan. Die oorlogsbuit was so groot dat ons vandag nog na ’n baie ryk persoon as ’n Croesus verwys.

In 539 v.C. het Sirus in Mesopotamië (vandag Irak) teen die magtige stad Babilon opgeruk. Die Babiloniërs het geglo hul stad is onverowerbaar. Een nag, terwyl die inwoners van Babilon die fees van Belsasar gevier het, het Sirus en sy krygers opgevaar in die Eufraatrivier, wat deur die stad gevloei het.

Persiese Ryk
’n Simorghvoëltweeling, die mitiese Iranse griffioen. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hulle het ’n kanaal gegrawe en die rivier weggelei sodat Sirus se leër die stad deur die sluise kon binnedring. Babilon se inwoners het sonder slag of stoot oorgegee. Sirus het die inwoners regverdig behandel en die Joodse bannelinge wat in die stad gewoon het ook toegelaat om terug te keer na Israel om hul tempel te herbou.

Voor sy dood in 530 v.C., in ’n geveg teen stamme van moderne Oesbekistan en Kazachstan, het Sirus die koninkryk van Sirië ingeneem en die Griekse stadstate van Klein-Asië onderwerp. Hy is dood voor hy Egipte kon verslaan, maar sy seun Kambuses het dit wel in 525 v.C. reggekry in veldslae wat net 10 dae geduur het.

Ná Kambuses se dood kort daarna was daar onluste in die ryk, maar ’n nuwe, bekwame heerser het gou na vore getree.

Darius die Grote

Persiese Ryk
’n Beeldsnywerk van Darius die Grote. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In 522 v.C. het Darius I, oftewel Darius die Grote, koning geword. Onder sy wyse heerskappy het die Persiese Ryk sy grootste omvang en mag bereik. Teen daardie tyd was die Persiese Ryk ’n supermoondheid wat drie belangrike gebiede van vroeë beskawings omvat het – Mesopotamië, die Nylvallei van Egipte en die Indusvallei van Indië.

Die ryk is in 20 provinsies opgedeel en ’n satraap (goewerneur) het oor elke provinsie regeer. Hulle moes belasting invorder en die wet toepas. Die Persiese leër en ’n netwerk van spioene het verseker dat die goewerneurs nie konkel om die mag oor te neem nie.

Tydens sy heerskappy het Darius baie vernuwing ingebring, byvoorbeeld die nasionale geldstelsel. Hy het ook die administratiewe stelsels verbeter. Hy het verskeie paaie laat bou om die kommunikasie en die handel te bevorder.

Die beroemdste roete was die Koninklike Pad, wat sowat 2 400 km ver gestrek het vanaf Susa, die destydse hoofstad naby die Persiese Golf, tot by Sardis aan die weskus van die hedendaagse Turkye. Aflosspanne te perd kon daardie afstand in minder as ’n week aflê, maar vir handelskaravane het dit tot drie maande geneem.

Darius die Grote het ook die noordelike deel van Indië verower en ’n nuwe hoofstad, Persepolis, gebou. Die bouvalle van Persepolis dien vandag nog as bewys van die glorie van Ou Persië.

Persiese Ryk
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Oorloë teen die Grieke

Nadat die Grieke verskeie kere teen die Perse in opstand gekom het, het Darius in 490 v.C. besluit om Griekeland in te val. Hoewel die Perse ver in die meerderheid was, het die Grieke met slim taktieke die Perse in die Slag van Marathon verslaan. Tien jaar het verbygegaan en Xerxes, ’n nuwe koning, het die Persiese troon bestyg.

Hy wou wraak neem op die Grieke wat sy pa, Darius, verslaan het. Hy het in 480 v.C. met ’n leermag nog groter as die vorige keer teen die Grieke opgetrek. Aanvanklik het hulle sukses behaal met ’n oorwinning by Termopulai.

Die beslissende seeslag naby Salamis was ’n keerpunt in die geskiedenis van die Persiese Ryk. Soos in die vorige veldslae was dit weer ’n geval van ’n veel kleiner Griekse vloot teen die Persiese oormag. Die Grieke het weer danksy hul taktiese vernuf gewen deurdat hulle die Persiese skepe nader gelok en dan verwoes het deur hulle trompop te loop en te sink.

Persiese Ryk
Die Slag van Salamis was ’n seeslag tussen die Griekse stadstate onder bewind van Themistokles en die Persiese Ryk onder dié van koning Xerxes in 480 v.C. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Val van die Persiese Ryk

Die nederlaag teen die Grieke het nie dadelik die einde van die Persiese Ryk beteken nie. Dit was egter ’n aanduiding dat die Perse nie onoorwinlik is nie. Die oorlog het die koning se geld uitgeput en hy het begin om meer belasting by sy onderdane te eis. Dit het tot revolusies in baie provinsies gelei, byvoorbeeld in Egipte.

Ná die sluipmoord op Xerxes in 465 v.C. was daar nie meer ’n sterk leier om die ryk te verenig nie. Die satrape het ook minder lojaal aan die koning geraak, maar die verswakte ryk het nietemin bymekaar gebly.

Gedurende hierdie chaotiese tyd het ’n jong Masedoniese koning en militêre leier genaamd Alexander die Grote sy verowering van die Persiese Ryk in 334 v.C. begin. Saam met sy leër het hy in net ’n klompie jare al die voormalige Persiese provinsies verower.

Persiese Ryk
Die Poort van Xerxes, ook die Poort van die Nasies genoem. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Persiese Ryk
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ná Alexander die Grote se dood in 323 v.C. het sy hele ryk in duie gestort. Die Persiese kultuur het ná die val van die ryk bly voortbestaan. Persiese groepe bekend as die Parte en Sassanidiërs het van 247 v.C. tot in die 600’s n.C. in Persië regeer.

Toe het die Moslem-Arabiere die land ingeval. Die Perse het mettertyd Moslems geword, maar hul taal, Farsi, behou. ’n Koninklike familie genaamd die Safavids het in 1501 beheer oor die land gekry. Hulle het hul land Iran genoem, hoewel die buitewêreld tot in 1935 nog na Iran as Persië verwys het.

In 1979 is die sjah (koning) van Iran omvergewerp en het die land ’n Islamitiese republiek geword met ’n gelowige leier wat ’n groot-ajatolla genoem word as sy leier.

Bronne: kids.britannica.com, medium.com, historyforkids.net, bbc.co.uk, study.com, wikipedia.org