Suid-Afrika spog met die Kaapse Blommeryk, een van die wêreld se rykste gebiede wat veral die verskeidenheid plantspesies betref.

Hier is ’n groter verskeidenheid plante as in die reusagtige Amasonereënwoud. Van die sowat 9 000 plantspesies wat voorkom, is die meeste inheemse fynbos.

Ons kyk na fynbos, en veral die pragtige proteas, waarvan die koningsprotea Suid-Afrika se nasionale blom is.

Die embleem van die Proteas, ons nasionale krieketspan, beeld die nasionale blom, die koningsprotea, uit. Foto: Magazine Features

Wat is fynbos?

Die Kaapse plantegroei bekend as fynbos kan beskryf word as immergroen plante met harde blare. Hierdie bosagtige plante groei in ’n winterreënvalklimaat in grond wat betreklik arm aan voedingstowwe is.

Fynbos is versprei in ’n breë boog vanaf die Bokkeveldplato bo Vanrhynsdorp aan die Weskus oor die Kaapse Skiereiland en die Boland tot so ver oos as Grahamstad en Port Elizabeth.

Maar die weste se plantegroei is veel ryker en veelsoortiger as dié van die oostelike fynbosstreke.

Vier plantsoorte kom voor:

  • heideagtige struike (erikoïde)
  • draderige, rietagtige plante (restioïde)
  • bolplante (geofiete)
  • struike met groot blare (proteoïde).

Die groot verskeidenheid fynbosspesies is die rede waarom die streek so spesiaal is.

Net op Tafelberg kom meer plantspesies voor as op al die Britse Eilande.

Twee derdes van ons fynbosspesies is inheems; dus kom dit nêrens anders in die wêreld voor nie.

Nuttigheid

Die fraaiheid van fynbosblomme maak dit gesog. Het jy geweet baie gewilde tuinblomme soos malvas en freesias het hul oorsprong in fynbos? Boonop is ons proteas wêreldwyd baie gewild.

Tonne veldblomme uit die Wes-Kaap word jaarliks veral na Europa en Oosterse lande uitgevoer, waar dit in blommerangskikkings en ruikers gebruik word.

Ons veldblomme onderhou ’n bedryf wat aan duisende mense werk verskaf. Nog ’n sektor wat uit fynbos ontwikkel het, is die rooibosbedryf.

In Suid-Afrika word sowat 8 000 t rooibos per jaar verbruik, terwyl sowat 6 000 t oorsee na meer as 30 lande uitgevoer word.

Rooibos word as baie gesond beskou, want dis kafeïenvry, bevat baie antioksidante en kankerbestrydende eienskappe, het lae vlakke tannien en geen newe-effekte nie.

Benewens tee word dié spesiale fynbos ook in skoonheidsmiddels en kos gebruik.

Die biesies van die fynbosstreek word steeds gebruik om dakke mee te dek.

Die Khoikhoi het dit duisende jare lank gebruik om matjieshuise te maak wat waterdig in die nat winter en koel in die somer was.

Bedreigde spesies 

Sowat 1 700 fynbosplantspesies word deur uitwissing bedreig.

Die uitbreiding van woongebiede en paaie om stede en dorpe verwoes die plante wat natuurlik daar voorkom.

Landbou en bosbou lei ook tot die vernietiging van groot dele van die fynboswêreld.

Die mens het allerhande indringerplante met hom saamgebring.

Talle uitheemse plante soos wattelbome en akasiaspesies uit Australië hou ’n groot bedreiging vir ons fynbos in.

Gelukkig is daar mense wat hulle beywer vir die bewaring van fynbos, soos met die program Cape Action for People and the Environment.

Verskeie natuurreservate bewaar ook fynbos en unieke, inheemse dierspesies.

Die diere wat in die fynbosgebied voorkom, sluit in bobbejane, jakkalse, duikers, bontebokke en grysbokkies.

Die Kaapse suikerbekkie kuier in tuine en soek in die veld na proteas se nektar.

Ander fynbosdiere is die uiters skaars suurpootjie, ’n skilpad wat in 1960 as uitgestorwe beskou is voor daar in 1972 nog ’n klompie van hulle ontdek is.

Die Tafelbergspookpadda word net so bedreig. 

Proteoïde

Die speldekussing (Leucospermum) is pragtig in die tuin en lok heuningbye, suikerbekkies en ander bestuiwers met sy nektar. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die pragtige verskeidenheid proteas is die blomplante wat die meeste met fynbos verbind word.

Dié blomme is na die Griekse god Proteus genoem wat in verskeie vorms kon verskyn.

Suid-Afrikaners is so trots op hierdie mooi proteablomme dat ons nasionale krieketspan na hulle genoem is. Het jy al ooit mooi na die embleem van ons Proteaspan gekyk?

Jy sal sien dit beeld die koningsprotea, ons nasionale blom, uit.

Ons proteas behoort tot die familie Proteaceae, wat hoofsaaklik in die Suidelike Halfrond voorkom. Ons is nie die enigste land wat ’n sportspan na dié blomfamilie genoem het nie.

Die Waratahs, ’n Australiese rugbyspan van Sydney in Nieu-Suid-Wallis, is genoem na Telopea speciosissima, wat ook ’n lid van die plantfamilie Proteaceae is.

Maar Suid-Afrika spog met sowat die helfte van alle soorte plante van dié familie.

Ander voorbeelde van die verstommend groot verskeidenheid kleurryke Proteaceae sluit in die bergbruidjies (Serruria florida), die asemrowende speldekussings (Leucospermum) en die keëlbosse (Leucadendron).

Proteas en ander fynbosplante is aangepas vir veldbrande.

Hulle het vuur nodig om hul lewensiklus te voltooi. Die vlamme verbrand die dooie plantmateriaal en plaas so voedingstowwe terug in die grond.

Die kwaai hitte laat die sade oopgaan en maak ondergrondse bolle wakker sodat dit begin groei.

Nie lank ná ’n veldbrand nie is die landskap weer pragtig bedek met nuwe fynbos.

Jy sal verstaan dit is nie altyd goed as brandbestryders die vlamme blus nie.

Maar dis moeilik vir ons mense om ’n brand sy gang te laat gaan, want mense kan sterf en eiendom kan vernietig word.

Hoe dink jy moet ons die nodige brande hanteer?

Dalk kan beheerde veldbrande vir die fynbos werk.

Geofiete

Verfkwaslelie Haemanthus coccineus. Foto: Gallo Images/Getty Images
Rooidisa Disa uniflora. Foto: Magazine Features

Dit is die pragtige bolplante wat in die reënseisoen of ná ’n veldbrand blom en sluit die asemrowende disagrondorgidee in.

Erikoïde

Rooiheide Erica abietina. Foto: Gallo Images/Getty Images

Erikoïde het smal en meestal harde blare met omkrulrande. Buiten ’n paar uitsonderings berg die erikoïde hul sade in die grond.

Restioïde

’n Plaas­werker met ’n gerf geoeste rooibos (Aspalathus linearis), ’n soort restioïed. Die naaldagtige blare word gedroog vir kafeïen­vrye rooibostee. Foto: Magazine Features

Restioïde is verwant aan grasse. Hulle het afsonderlike manlike en vroulike plante, en hul sade word dikwels deur miere versprei.

Die fynbosstreek

Die bedreigde suurpootjie kom net in die fynbosstreek voor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis een van die wêreld se ses blommeryke en is die enigste een wat in ’n enkele land voorkom.

Die gebied, wat die fynbosbioom omsluit, staan as die Kaapse Blommeryk bekend en word deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie as ’n Wêrelderfenisgebied erken.

Danksy dié bioom bevat Suid-Afrika 10% van die wêreld se blomspesies, selfs al beslaan ons land minder as 1% van die aarde se oppervlak.

Vind nog uit

Kyk gerus na dié video oor hoe proteas voortplant en by die omgewing inskakel.

BRONNE: MIELIESTRONK.COM, WWF.PANDA.ORG, CAPETOWNBOTANIST.COM, WIKIPEDIA.ORG, SAROOIBOS.CO.ZA, THEFYNBOSGUY.COM