Jy was waarskynlik ’n baba toe jy jou eerste inenting gekry het. Kort ná ons geboorte moet ons ouers ons laat inent om ons teen ’n klomp baie ernstige – soms dodelike – siektes te beskerm.

Terwyl die inentings (wat soms as ’n inspuiting en soms mondelings toegedien word) nooit pret is nie, is die alternatief veel erger. Ons kyk hoe entstowwe werk en na al die siektes waarteen dit ons beskerm (Inentings volgens die departement van gesondheid se uitgebreide inentingsprogram).

As jy teen dié siektes ingeënt is, sal jy jou waarskynlik nooit hoef te bekommer dat jy dit sal kry nie.

So werk dit

Wanneer ons aan ’n virus of bakterie blootgestel word wat ‘n siekte veroorsaak, vervaardig ons immuunstelsel proteïenmolekules wat teenliggaampies genoem word om dit te bestry.

Ons ongelooflike liggaam vervaardig elke dag miljoene teenliggaampies wat so doeltreffend is dat ons nie eens agterkom ons het amper siek geword nie.

Die eerste keer dat die liggaam met ’n bepaalde virus of bakterie te doen kry, sal dit ’n paar dae neem om die teenliggaampies te vervaardig wat nodig is om dit te bestry.

Vir sekere soorte infeksie is dit te lank. Die infeksie sal vinniger versprei as wat jou immuunstelsel dit kan bestry. Dit is waar entstowwe goed te pas kom.

Dink aan entstowwe as ’n opleidingskursus vir jou liggaam om jou immuunstelsel te leer hoe om nare siektes af te weer.

Wanneer jy ingeënt word, word ’n klein string van ’n virus eintlik in jou gestel geplaas. Dit beteken as jy later in jou lewe die virus moet trotseer, sal jou liggaam homself vinnig kan beskerm.

1. HAEMOPHILUS INFLUENZAE TIPE B (HIB)

Haemophilus influenzae tipe B is nie op sigself ’n siekte nie, maar ’n bakterie wat tot verskeie siektes soos meningitis (inflammasie van die brein en rugmurg), longontsteking, artritis en infeksie van die bloedstroom kan lei.

Kan dit behandel word? Die behandeling hang van die infeksie af, maar die gewone geneesmiddel is ’n antibiotikum.

Ouderdom van Inenting: 6 weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande.

2. WITSEERKEEL

Dié bakteriële infeksie tas die slymvliese in die neus en keel aan en laat ’n dik, grys laag daarop vorm. Die bakterie skei ook gifstowwe in die bloedstroom af wat jou ander organe, onder meer jou niere, hart en selfs jou brein, kan beskadig.

Dit kan lewensgevaarlike komplikasies veroorsaak.

Kan dit behandel word? Die siekte moet dadelik met ’n teengif-inspuiting en ’n antibiotikum behandel word.

Ouderdom van inenting: 6 weke, 10 weke, 14 weke, 18 maande, 6 jaar en 12 jaar.

3. TETANUS

Dit word gewoonlik “klem-in-die-kaak” genoem. Jy kan dit opdoen wanneer jy jou met ’n vuil spyker, mes of gereedskap sny of ’n dier jou byt.

Dit tas jou senustelsel aan, wat tot pynlike spierspasmas in die nek en kaak lei. Die lewensgevaarlike siekte kan ook veroorsaak dat jy nie behoorlik kan asemhaal nie.

Kan dit behandel word? Daar is geen geneesmiddel vir tetanus nie, maar pasiënte met die ernstige siekte word gewoonlik in die hospitaal opgeneem, medisyne soos antibiotika of kalmeermiddels gegee en aan ’n ventilator gekoppel om hulle te help asemhaal. Die simptome kan van drie tot vier weke duur, maar dit neem maande voor jy ten volle herstel.

Ouderdom van inenting: 10 weke, 14 weke, 18 maande, 6 jaar en 12 jaar.

4. TUBERkULOSE (TB)

TB is ’n algemene infeksie van die longe, maar dit kan ook deur die bloed na ander dele van die liggaam versprei. Dit beteken mense kan TB in hul beendere, geslagsorgane, vel en ingewande ontwikkel.

Kan dit behandel word? TB kan met antibiotika behandel word wat ses tot nege maande daagliks gedrink moet word.

Ouderdom van inenting: By geboorte.

5. ROTAVIRUS

Die rotavirus laat die ingewande en maag opswel en veroorsaak ook ernstige diarree.

Kan dit behandel word? Daar is geen spesifieke behandeling nie, buiten om te sorg die besmette mens kry volop vloeistowwe in. Dit sal gewoonlik binne sewe dae opklaar.

Ouderdom van inenting: 6 en 14 weke.

6. MENSPAPILLOOMVIRUS (MPV)

Die seksueel oordraagbare siekte kan genitale vratte veroorsaak en tot penis-, vagina-, vulva-, anus- of servikskanker asook keel- en mangelkanker lei.

Kan dit behandel word? Daar is geen geneesmiddel vir MPV nie, maar die vratte kan met voorskrifroom of laserterapie behandel of afgevries of elektries afgebrand word.

Ouderdom van inenting: 6, 9, 9½ en 12 jaar (meisies).

7. PNEUMOKOKKALE SIEKTES

Die bakteriese infeksie kan tot verskeie ernstige siektes soos long-ontsteking (wat lugsakkies in die longe laat opswel), infeksie van die bloed, middeloorontsteking of bakteriële breinvliesontsteking lei.

Kan dit behandel word? Die siekte kan met antibiotika behandel word, maar soms kan die bakterie teen behandeling bestand word.

Ouderdom van inenting: 6 weke, 14 weke en 9 maande.

8. KINKHOES

Dié bakteriese infeksie van die neus en keel is bekend vir die aaklige, roggelende droë hoes wat dit veroorsaak.

Kan dit behandel word? Die uiters aansteeklike infeksie kan met antibiotika behandel word. Dit is baie gevaarlik vir babas, wat dalk in die hospitaal opgeneem moet word.

Ouderdom van inenting: 6 weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande.

9. MASELS

Die eerste simptome is gewoonlik ’n hoes, rooi oë, hoë koors, loopneus en rooi kolle in die mond voor ’n uitslag oor die hele lyf verskyn.

Masels is baie aansteeklik en kom in die slym van die keel en neus van die besmette mens voor. Die virus word deur die lug versprei en kan sowat twee uur in die lug leef waar ’n besmette mens genies of gehoes het.

Kan dit behandel word? Daar is geen geneesmiddel vir masels nie, maar pasiënte moet baie vloeistof drink, rus en vitamien A-aanvullings en pynmiddels vir spierpyn drink. Kalamynmelk kan gebruik word om met ’n jeukende vel te help.

Ouderdom van intenting: 6-9 maande en 12-18 maande.

10. HEPATITIS TIPE B (HBV)

Hepatitis B tas die lewer aan. Dit kan letsels aan die lewer veroorsaak en in ernstiger gevalle tot lewerversaking of -kanker lei.

Kan dit behandel word? Vir die meeste volwassenes sal HBV ’n kort siekte wees wat die liggaam self kan beveg, en hul behandeling sal van die simptome afhang. ’n Klein persentasie sal die ernstige chroniese infeksie ontwikkel wat met antivirale middels behandel word.

Ouderdom van inenting: 6, 10 en 14 weke.

11. POLIO

Die virussiekte tas die rugmurg aan, wat tot verlamming of selfs die dood kan lei.

Kan dit behandel word? Geen geneesmiddel bestaan vir polio nie, maar pasiënte kan met pynstillers en fisioterapie gehelp word en ’n ventilator as hulle hulp nodig het om asem te haal.

Ouderdom van inenting: Geboorte, 6 weke, 10 weke, 14 weke en 18 maande.

Het jy geweet?

Party ouers is huiwerig om hul kinders te laat inent, want weens ’n wydverspreide mite dat inenting outisme kan veroorsaaak, glo hulle die entstof is gevaarlik.

Maar volgens dr. Rafeeq Fakier, ’n algemene praktisyn van Kaapstad, is dit baie gevaarlik om nie jou kind te laat inent nie.

“Inenting is baie belangrik, want dit is ’n manier waarop jy jou kinders beskerm en die uitbraak voorkom van siektes wat met entstowwe voorkombaar is.”

Dr. Celesté van Drünick, ’n verloskundige by die Tygerberg-hospitaal, beaam: “Daar is geen verband tussen outisme en inenting nie; dus is daar géén rede om nie in te ent nie.”

Bronne: mayoclinic.org, netdoctor.co.uk, vaccineinformation.org, my.clevelandclinic.org, www.health.gov.za.