Baie van die vrugte wat ons eet, is tropiese vrugte soos piesangs, papajas, mango’s, pynappels, koejawels, klapper (kokosneute) en lietsjies. 

Ons noem dit tropiese vrugte omdat dit oorspronklik uit 'n gebied kom wat as die trope bekend is. Ons leer jou hoekom dié soort vrugte so belangrik is en waar hulle vandaan kom.

Die trope

Die tropiese streek is tussen die Kreefskeerkring
Die tropiese streek is tussen die Kreefskeerkring in die noorde en die Steenbokskeerkring in die suide geleë

Tropiese vrugte word hoofsaaklik in warm, bedompige streke tussen die Kreefskeerkring (in die Noordelike Halfrond) en Steenbokskeerkring (in die Suidelike Halfrond) gekweek.

Hierdie strook van die aarde beslaan die ewenaar en die aangrensende ­gebiede in sekere lande in Asië, Afrika, Sentraal-Amerika, die Karibiese streek en Oseanië. 

Dit is dikwels moontlik om tropiese vrugte ook buite hierdie strook van die aarde te kweek omdat plaaslike omstandighede, soos die uitwerking van die see of die hitte van laerliggende gebiede, 'n klimaat skep wat soort­gelyk is aan die trope.

Die kusstrook van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, asook die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo is voorbeelde hiervan in Suid-Afrika. 

Van Stapelvoedsel tot geldelike sukses

Tropiese vrugte soos meelpiesangs, broodvrugte en nangkas is baie eeue lank as stapelvoedsel in tropiese streke van Asië, Afrika en Oseanië geëet en as 'n aanvulling tot ander graan- en wortelgewasse. 

Bestaansboere het dit aanvanklik gekweek om in hul eie behoeftes te voorsien. Vanweë die toenemende vraag na dié vrugte is die gewilde vrugtesoorte mettertyd ontwikkel in oeste waaruit die boere ook 'n goeie inkomste kon verdien. 

Sulke kommersiële vrugteboere voer hulle produkte nou wêreldwyd uit.

Verwerking

In baie lande verbou tropiesevrugteboere bemarkbare vrugtesoorte wat, benewens vars vrugte, ook verwerk kan word tot onder meer purees, poeiers, konfyt, gepekelde en bevrore produkte, asook droëvrugte. 

Dit verhinder dat die oeste vermors word of te min geld inbring in seisoene wanneer daar 'n ooraanbod is (meer vars vrugte as wat mense kan verbruik).

Dit maak die tropiese vrugte dus winsgewender en skep ook vir meer mense werk in verwerkingsaanlegte. 

Belangrikheid van tropiese vrugte

Die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander dieetkundige instansies beveel aan dat mense 'n verskeidenheid vrugte eet vir 'n gebalanseerde dieet.

Dit help die liggaam onder meer om weerstand te bied teen kardiovaskulêre probleme (kwale van die hart en bloedvatstelsel), asook diabetes (suikersiekte) en sekere soorte kanker.

Ons leer jou oor drie soorte tropiese vrugte wat 'n groot invloed op die wêreld het.

Piesangs

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Piesangs is die wêreld se topverkoper onder die vrugte, gevolg deur appels en lemoene. Die piesangplant behoort tot die genus Musa en kom oorspronklik van tropiese Suidoos-Asië. 

Hulle groei deesdae in byna elke tropiese streek. Verskeie soorte van hierdie immergroen plant word aangetref. 

Die piesangvrug is gewoonlik geel wanneer dit ryp is, maar party soorte word rooi of pers. Die ryp vrug kan rou ­geëet word. Meelpiesangs is groen van kleur en ’n mens kook dit soos groente.

Piesangbome het groot langwerpige of ovaal blare met vlesige stingels wat in ’n spiraal gerangskik is. Dit is 'n kruidagtige boom met 'n pseudostam (valse stam) wat uit die dik, opgerolde basisse van die blare bestaan. 

Hierdie pseudostam, wat 2-8 m hoog groei, laat mense dink dis 'n soort boom, maar dis nie regtig 'n boom nie. Hulle kan dwarsdeur die jaar blom, en die plant verkies grond wat goed gedreineer is. Dit groei vinnig.

'n “Piesangboom” het lote (uitlopers) wat rondom die hoofplant opkom. As die hoofplant doodgaan, word dit deur die grootste loot vervang. Die lote kan ook verplant word.

Boere oes die trosse piesangs sodra die vrugte volkome ontwikkel is. Hulle word dan op 'n natuurlike wyse ryp. 

In Suid-Afrika word die vrug kommer­sieel in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal verbou, hoewel dit eintlik subtropiese streke is. Suid-Afrika se piesangproduksie beloop tussen 300 000 en 400 000 ton per jaar.

Pynappels

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Pynappels kom oorspronklik uit die gebied tussen die suide van Brasilië en Paraguay. Hierdie vrug behoort tot die familie Bromeliaceae, ook genoem die bromelias. 

Hoewel dit 'n tropiese vrug is, word pynappels in subtropiese streke in Suid-­Afrika verbou – veral in die Oos-Kaap en die kusstrook van KwaZulu-Natal. 

Die vrug is die lekkerste wanneer jy dit vars eet, maar pynappels word dikwels ook ingemaak in blikkies verkoop of daar word sap van gemaak. Party mense plant pynappels as sierplante. Die blare kan ook tot tekstiel verwerk word.

Die pynappel is 'n kruidagtige, meerjarige plant wat gewoonlik 1-1,5 m hoog groei. Pynappels verkies goed gedreineerde, sanderige leemgrond wat baie organiese materiaal bevat. Die plant het ’n kort stam met harde, wasagtige blare. 

Voor die vrug tot stand kom, maak die plant eers trosse blomme (tot 200 blomme). Nadat dit geblom het, smelt die tros blomme se individuele vruggies saam om 'n saamgestelde vrug te vorm. 

Nadat 'n mens pynappels geoes het, word hulle nie ryper as wat hulle tydens die oestyd was nie. Boere kan nuwe pyn­appelplante maak deur die geoeste pynappelvrugte se kroon te verwyder wanneer die vrug skoongemaak word en dit dan in die grond te plant. 

Hulle kan ook steggies en lote plant. 

Suid-Afrika produseer sowat 100 000 ton pynappels per jaar.

Papajas

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die papaja behoort tot die familie Caricaceae en kom oorspronklik van Mexiko, Sentraal-Amerika en die noordelike deel van Suid-Amerika. Maar dié immergroen plant word deesdae in byna alle tropiese gebiede van die wêreld gekweek.

Papajas het welriekende blomme wat wit tot geeloranje kan wees. Die spiraalgerangskikte blare kom aan die bokant van die boom se kruidagtige, hol stam voor. Laer af aan die stam kan jy die lit­tekens van vroeëre blare en vrugte opmerk.

Die vrugte het 'n gladde skil en wissel in grootte en vorm na gelang van die soort plant. Hulle kom boaan die stam voor.

Daar is gewoonlik baie grys-swart saadjies in die hol binnekant van die vrug en hulle word omring deur die lekker soet vlees wat geel tot rooi-oranje van kleur kan wees.

Daar is drie soorte papajaplante, afhangend van die blomsoort. Hulle is vroulik, manlik of hermafrodities. 

Die hermafroditiese blomme bestuif hulself. Vroulike blomme kan deur menslike ingryping met die hand of deur die wind en insekte bestuif word. Papajas plant gewoonlik voort met saad. 

Die boom is gemiddeld 5-10 m hoog en hou van baie sonlig. Dit verkies goed gedreineerde grond. 

Die vrug is gereed om met die hand geoes te word wanneer die skil geel-groen is. Jy kan dit dan 'n paar dae teen kamertemperatuur hou om volkome ryp te word. 'n Ryp papaja voel sag en die skil lyk oranje.

Suid-Afrika het in 2016 'n papaja-oes van 9 920 ton gehad.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Vrugfeite
  • Europese ontdekkingsreisigers het die eerste keer op die Karibiese eiland Guadeloupe kennisgemaak met die pynappel.
  • Papajas het medisinale eienskappe. Dit bevat 'n natuurlike pynstiller, is 'n goeie bron van vesel in jou dieet en word selfs gebruik om aknee te voorkom en te genees.
  • Die piesang word eintlik as 'n bessie geklassifiseer.
  • Die nangka (links) is die wêreld se grootste vrug wat aan 'n boom groei. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.