Almal het al die wolkspeletjie gespeel; om op jou rug te lê en op te kyk na die wolke en verskillende vorms en voorwerpe te herken. 

Ons weet wolke beweeg deur die lug en verander gedurig van vorm, maar wat is wolke en hoe word dit gevorm? 

Wat is wolke?

Wolke bestaan uit druppeltjies water of klein yskristalle. Die vorming en bestaan van wolke behels ’n groot deel van die waterkringloop op Aarde. Die hoeveelheid water op Aarde kan nie meer of minder word nie. Dit beweeg gedurig in ’n kringloop of siklus tussen die aarde se oppervlak en die atmosfeer. 

Water op die oppervlak van mere, riviere en oseane verdamp en vorm ’n onsigbare gas wat ons waterdamp noem. Dié gas styg in die lug in op.

Hoe hoër dit styg, hoe kouer word die lug. Wanneer die waterdamp koud genoeg word, kondenseer dit en verander terug in druppels water. As dit nog kouer word, verander die water in ys.

Die waterdruppeltjies en stukkies ys is so klein dat dit in die wind dryf, amper soos ’n korreltjie stof wat deur die lug sweef. Ons sien die water en ys van die Aarde af as wolke. Die water en ys word deur die warm lug van stygende lugstrome in die lug gehou, en dit is hoekom wolke in die lug sweef. 

waterkringloop,wolke
Alle water op Aarde bly binne die waterkringloop. Reën, sneeu en hael wat uit die wolke val, word neerslag genoem. Illustrasie: Gallo Images/ Getty Images

Mis is ook wolke wat nie deur warm lug­strome opgedruk word nie, maar eerder op of naby die grond lê.

Wolke se wit kleur is die gevolg van die sonlig wat daarteen weerkaats. As die wolke dig raak of hoog genoeg groei, laat dit nie meer lig van bo deur nie. Vandaar hul grys en donker voorkoms. ’n Groot groepering wolke se skaduwees kan ook tot hul grys voorkoms bydra.

Wolkformasies

Wolke se verskillende vorms word bepaal deur die soort lugbeweging of wind waarin dit gevorm word. Wanneer dit in windstil lug gevorm word, is dit plat en bestaan uit ver­skeie lae.

Wolke wat in sterk winde gevorm word, toring hoog op in die hemelruim. Weerkundiges, wetenskaplikes wat die weer en klimaat bestudeer, onderskei meer as 100 soorte wolke.

Hulle het wolke in families gegroepeer volgens die hoogte waarop dit voorkom. Wolke op verskillende hoogtes word in vlakke ingedeel volgens die basis van die wolk.

Hoëvlakwolke 

Dit bestaan uit klein yskristalle met ’n basis van 6 000 m bo die aardoppervlak. Dit vorm nie reën of sneeu nie. Drie hoofsoorte hoëvlakwolke kom voor:

Cirruswolke is die algemeenste wolke wat deur die koue winde in dun, veervormige strale deur die lug versprei word. Deur dit fyn dop te hou, kan jy ook die windrigting bepaal. Cirruswolke voorspel gewoonlik ’n verandering in die weer binne die volgende 24 uur.
wolke
Cirruswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Cirrostratuswolke lyk soos ’n mistige, plat laken. Dit kom gewoonlik 12 tot 24 uur voor ’n reën- of sneeustorm te voorskyn.
Cirrostratus,wolke
Cirrostratuswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Cirrocumuluswolke lyk soos groepe klein, wit watteballetjies en lyk amper soos riffels. Dit kom hoofsaaklik in die winter voor en voorspel gewoonlik mooi maar koue weerstoestande. In tropiese gebiede kan dit ’n aanduiding van naderende orkane wees.

wolke
??Cirrocumuluswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Middelvlakwolke

Dit bestaan ook net uit waterdruppels met ’n basis tussen 2 000 en 6 000 m. Twee hoofsoorte middelvlakwolke word onderskei:

Altocumuluswolke kom in groepe voor en lyk soos groot stukke wit watte. As ’n mens altocumuluswolke op ’n warm, klewerige oggend gewaar, kan jy jou maar op ’n donderstorm later daardie middag voorberei.

Altostratuswolke is grysblou en lyk soos matglas oor die hemelruim. Dit is deursigtig, maar die son en maan vertoon dof deur die wolke. Dit vorm gewoonlik voor storms wat deurdringende reën en sneeu bring.
wolke
Altostratuswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Laevlakwolke 

Dit bestaan net uit waterdruppels. Hul basis is laer as 2 000 m. Daar is drie hoofsoorte wolklae:

Stratocumuluswolke is sagte, grys bolle. Dit bedek gewoonlik die hele hemelruim, maar is minder dig om soms die blou lug deur te laat. Dit lei weinig tot reën, maar kan soms in nimbostratuswolke verander.

wolke
Stratocumuluswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nimbostratuswolke is donker, dig en vormloos. Dit lyk onheilspellend en lei gewoonlik tot reën of sneeu.

nimbostratus,wolke
Nimbostratuswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Stratuswolke is soos hoogliggende misbanke en lyk soos swaar, grys komberse. Dit verbrokkel om weer die blou lug daaragter bloot te stel.

stratus,wolke
Stratuswolke. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Vertikale of toringwolke

Toringwolke strek deur al drie bogenoemde wolkvlakke: lae-, middel- en hoëvlakwolklae. Dié wolke lei tot donderstorms en swaar reënbuie. ’n Mens kan tussen twee hoofsoorte wolke in dié groep onderskei:

  • Cumuluswolke het ’n plat basis, met geronde koppe wat soos blomkool lyk.
  • Cumulonimbuswolke is donker wolke wat swaar voorkom. Dit styg soos berge hoog in die hemelruim op en die koppe sprei soms bolangs uit. Dit word met donderstorms, sneeu, hael, weerlig en selfs tornado’s verbind.
wolke
Cumulonimbuswolke. Foto: Gallo images/ Getty images
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.