Die Kerk van die Aankondiging in die middel van die stad Nasaret in Israel is een van die heiligste Christelike plekke. Dit staan op die terrein wat in die Christelike geloof beskou word as die plek waar die maagd Maria gewoon het toe die aartsengel Gabriël aan haar verskyn en aangekondig het dat sy aan Jesus die lewe sal skenk. 

Die aankondiging 

Die kerk herdenk die moontlike eerste gebeurtenis van die Christendom toe Gabriël aan ’n jong Maria gesê het sy sal aan die Seun van God die lewe skenk, waarop sy gereageer het: “Laat dit met my gebeur volgens jou woord.”

Onderste kerk

Die onderste vlak van die kerk is ’n dof verligte grot wat die heiligste plek is. Daar word geglo dat dit die tuiste van Maria en die plek van die aankondiging was. Die grot is uitgevoer met oorblyfsels van vroeëre kerke op die terrein en daar is ook ’n altaar.

kerk
Daar word geglo dat die onderste deel van die kerk die plek van die aankondiging was. Foto: Gallo Images/ Getty Images

1. Altaar met inskrywing: In die grot is ’n altaar met ’n Latynse inskrywing wat beteken: “Hier het die Woord vlees geword”. 

2. Pilaar: Regs van die altaar (van voor beskou) staan ’n antieke pilaar. Dis waarskynlik in die vierde eeu daar geplaas om die plek te merk waar die engel Gabriël glo verskyn het. 

3. “Maria Se Kombuis”: Die trap agter die altaar lei na ’n binneplein-uitgang en ’n klein grot wat “Maria Se Kombuis” genoem word.

Boonste kerk

Dit dien as die plaaslike Katolieke kerk en word deur natuurlike lig verlig. Een van die grootste mosaïekwerke ter wêreld is agter die hoofaltaar. Teen die mure is kleurryke en diverse uitbeeldings van die maagd Maria wat deur verskillende lande geskep is.

kerk,israel
Een van die grootste mosaïekwerke ter wêreld is agter die hoofaltaar van die kerk. Foto: Gallo Images/ Alamy

Aan die bokant van die mosaïek agter die hoof­altaar is ’n driehoek met ’n oog daarbinne wat God voorstel. Daar is ’n duif wat die Heilige Gees simboliseer. Jesus staan langs Petrus, wat die sleutels na die Koninkryk van die Hemel vashou. Petrus word deur die Rooms-­Katolieke Kerk as die eerste pous beskou. Maria sit links in ’n blou kleed.

Hoekom twee vlakke?

Giovanni Muzio, die argitek, het geweet duisende pelgrims sou die terrein besoek, maar hy wou ook die mistieke, stil aard van die aankondiging behou. Hy het toe ’n dof verligte onderste vlak gebou met die tweede vlak vol lig en geskik om groot groepe te ontvang.

'n Lang geskiedenis

Die eerste kerk op die terrein is in 427 n.C. gebou. ’n Hele paar strukture is sedertdien gebou en vernietig, en daar is nog oorblyfsels van vorige kerke. Die huidige tweeverdiepingkerk het die grootste Christelike kerk in die Midde-Ooste geword toe dit in 1969 voltooi is.

Standbeeld van ­Maria 

Aan die suidekant van die kerkterrein staan ’n standbeeld van die jong Maria wat almal verwelkom wat haar tuiste besoek.

Koepeldak

Die koepel met sy lantern bo-op is 55 m hoog en oorheers die stadsprofiel. Die lantern simboliseer die Lig van die Wêreld, Jesus.

kerk
Die koepel met sy lantern bo-op simboliseer die Lig van die Wêreld, Jesus.Foto: Gallo images/ Alamy

Die koepelvorm lyk soos ’n omgekeerde lelie wat sy kroonblare oopmaak na die kerk daaronder. Daar word geglo dis ter verheerliking van Maria as die Moeder van Jesus en simboliseer haar reinheid.

Beeldwerk op die fasade

jesus,beeld
n Bronsbeeld van Jesus staan heel bo op die fasade. Foto: Gallo Images/ Alamy

’n Bronsbeeld van Jesus staan heel bo; onder hom is die engel Gabriël wat aan Maria ’n wit lelie gee, die simbool van haar maagdelikheid. Daaronder is die vier evangeliste, Matteus, Markus, Lukas en Johannes.

jesus,geloof,israel
Die voordeur beeld groot gebeurtenisse in Jesus se lewe uit. Foto: Gallo images/ Alamy

Inskripsie op die fasade

Die woorde “Die Woord het vlees geword en tussen ons gewoon” is in Latyn op die fasade oor die driedeur-ingang uitgekerf.

Die voordeur beeld groot gebeurtenisse in Jesus se lewe uit.

Bronne: nazarethinfo.org, churchpop.com, lonelyplanet.com, mfa.gov, seetheholyland.net, travellingisrael.com, biblewalks.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.