Wanneer mense die woorde “sub­tropiese vrugte” hoor, dink hulle dikwels verkeerdelik aan tropiese vrugte soos piesangs, papajas en pynappels. 

Dié vrugte groei wel in die subtropiese dele van Suid-Afrika, maar net danksy moderne besproeiings­metodes. Die subtrope lewer sy eie vrugte op wat die groter temperatuur-skommelings en koue beter as tropiese plante kan oorleef. 

Onder die ware subtropiese vrugte tel druiwe, granate, dadels, turksvye, ­sitrusvrugte, olywe, persimmons (tamatiepruime) en vye. 

Ons leer jou meer oor die subtrope en die vrugte wat in hierdie gebied ontstaan het.    

Die subtrope

Illustrasie van die subtrope
Illustrasie van die subtrope

Die subtrope is een van die aarde se klimaat­sones. Dis tussen die trope ('n breë band rondom die ewenaar) en die gematigde sone (nader aan die ysige pole) geleë – tussen 'n breedteligging van omtrent 25° en 40° noord en suid aan albei kante van die Kreef- en Steenbokskeerkring. 

Hierdie streek het tipies tropiese somers en nietropiese winters en kan onderverdeel word in 'n vogtige, Mediterreense en halfwoestyn-/woestynstreek. 

Dis een van die moeilikste klimaatsones om te omskryf omdat dit woes­tynagtige gebiede, Mediterreense winter-reënvalstreke en nat woudgebiede omsluit.

Byna die hele Suid-Afrika val in die subtrope, soos wat jy op die kaart hiervan kan sien.

Eienskappe van die vrugte

Ter illustrasie. Foto: Gallo images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Subtropiese vrugte kan immergroen of bladwisselend (verloor hul blare in die winter) wees. 

Hulle kan gewoonlik lae temperature oorleef, maar is gevoelig vir ryp. 'n Tipiese ­eienskap van subtropiese vrugte is dat hulle 'n taamlik lang groeiperiode het en stabiele toestande in hul rusperiode in die winter nodig het. 

Die subtropiese vrugtesoorte verskil van mekaar wat hul weerstandigheid teen ryp betref. 

Die suurlemoenboom is nie baie gehard teen die winter nie. In sy dormante fase (winterrusperiode) kan dié boom ryp vir kort periodes van 'n uur of twee oorleef, maar hy kry sommer maklik seer as die temperatuur laer as -7 °C daal. 

Die subtropiese plante wat die beste weerstand teen ryp bied, is bladwisselende bome, insluitend die vyeboom, granaat en tamatiepruim, wat temperaturevan tot  -17 °C betreklik maklik kan baasraak.

Ons kyk nou na twee soorte subtropiese vrugte wat in Suid-Afrika verbou word. 

Sitrusvrugte soos lemoene, nartjies, suurlemoene, koemkwats, lemmetjies en pomelo’s is een van ons belangrikste uitvoerprodukte wat baie geld vir die land inbring. 

Hier fokus ons op lemoene en dadels. 

Lemoene

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Belangrik vir SA

Van die sitrusvrugte wat kommersieel in Suid-Afrika vervaardig word, word sowat 79% as vars vrugte uitgevoer. Die res word op die plaaslike mark verkoop of tot onder meer sap, purees, konsentrate en konfyt verwerk. 

Altesaam 43% van ons sitrusbome groei in Limpopo, gevolg deur die Oos-Kaap (27%), Wes-Kaap (17%) en Mpumalanga (8%). 

Ons sitrusbedryf is baie belangrik vir die ekonomie, want dit bied werk aan sowat 100 000 mense en genereer ’n inkomste van nagenoeg R20 miljard per jaar.

Suid-Afrika het onlangs die wêreld se derde grootste uitvoerder van sitrusvrugte geword – naas Spanje en Turkye. Die meeste van ons land se sitrusboorde (sowat 58%) bestaan uit lemoene. Ons bekyk die lemoen van nader.

Oorsprong

Lemoene kom oorspronklik uit Suidoos-Asië en behoort tot die sitrusfamilie. Kenners bespiegel dat lemoene moontlik lank gelede uit 'n kombinasie van pomelo’s en nartjies ontwikkel is.

Deesdae groei lemoene in die meeste tropiese en subtropiese lande. Daar is talle variëteite van die lemoen, soos die bloed-, nawel- en valen­cialemoen.

Hulle lyk nie almal dieselfde nie en verskil ook in smaak. 

Eienskappe

Die lemoenboom is immergroen en het wit blommetjies met ’n soet sitrusreuk. Die boom se blare het ook ’n aromatiese geur as jy dit kneus. 

Die vrug se pulp bevat hordes vlieserige sapsakkies wat in wigvormige skywe omsluit word. Die bome groei in warm tropiese en subtropiese gebiede, maar kan in ’n koeler klimaat in kweekhuise groei. Hulle verdra nie vrieskoue weer nie.

Produksie

Suid-Afrika se lemoenproduksie vir 2017 het 1,4 miljoen ton beloop. Hoewel ons oes klein is vergeleke met Brasilië en die ander lande onder die topvyfprodusente, voer ons 'n groot deel van ons oes as vars vrugte uit. 

Brasilië verwerk tot 70% van sy oes tot lemoensap, terwyl lande soos China en Indië die meeste van hul oes in hul eie land verbruik omdat daar sulke groot bevolkings is.

Ons sitrusuitvoerbedryf het in die afgelope jare sterk toegeneem. Wat lemoene betref, het Suid-Afrika se markaandeel in die wêreld van 4% in 2001 tot 10% verlede jaar toegeneem. 

Het jy geweet?
Een uit elke 10 lemoene wat wêreldwyd geëet word, kom uit Suid-Afrika. 

Dadels

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Suid-Afrika se jongste dadelpalmboorde kom in die Karoo en Noord-Kaap voor. Dit neem sowat sewe jaar voor 'n dadelpalm begin vrugte dra. 

Die boere moet dus maar geduldig wag tot die tyd (en die dadels) ryp is!

Oorsprong

Die dadelpalm dra suikersoet vrugte. Die palm groei goed in 'n warm klimaat en aard selfs in die woestyn. Dadelpalms kom oorspronklik uit die gebied om die Persiese Golf en die Saharawoestyn. 

Hulle groei vandag in Noord-Afrika, veral in Egipte, Soedan en Algerië, asook Suid- en Suidwes-Asië (Saoedi-Arabië, Irak, Iran en Pakistan). Dadelpalmboerdery word selfs in Spanje, Italië, Mexiko en Kalifornië aangetref.

Eienskappe

Die dadelpalm is immergroen en daar is manlike en vroulike plante. Hulle maak staat op windbestuiwing, hoewel bestuiwing in boorde dikwels met die hand bewerkstellig word. Net die vroulike palms lewer vrugte. 

Die palm kan 15 tot 25 m hoog word en het geveerde blare wat 3 tot 5 m lank word. Die vrug het een saad in en is baie soet vanweë ’n suikerinhoud van sowat 80%.

Gebruik

Dadels is 'n stapelvoedsel in die Midde-Ooste, maar mense eet dit ook as snoepgoed. Die plant se blomme is ook eetbaar, en jong palmblare kan as 'n groente gekook en geëet word. 

Dadelpalms kan getap word en ’n mens kan van die soet sap palmsuiker of alkoholiese drankies maak.

Produksie

Met 'n algehele plaaslike dadelproduksie wat op 2 000 t geskat word, is Suid-Afrika eintlik maar 'n klein speler in die dadelmark. Maar die dadelbedryf hou groot potensiaal in.

Vrugfeite
  • Lemoensap is goed vir jou, want dit bevat 'n goeie dosis vitamien A, kalsium, fosfor en vitamien C.
  • Benewens die hoë suikerinhoud bevat dadels ook kalsium, magnesium, yster en verskillende vitamiene.
Bronne: encyclopedia2.thefreedictionary.com, Landbouweekblad, citrusresourcewarehouse.org.za, City Press, iol.co.za, apps.fas.usda.gov, agribook.co.za, ecourseonline.iasri.res.in, wikipedia.org
Kom neem deel aan die gesprek
 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.