Varswatervisse in Suid-Afrika is presies wat die naam sê. Dit is visse wat in vars­water, water met 'n sout­gehalte van minder as 0,05%, voorkom. Visse is waterlewend en verskil in vorm, kleur en grootte van mekaar. 

Daar is ongeveer 32 500 visspesies wêreldwyd, waarvan meer as 15 000 varswaterspesies is. Van hierdie spesies word nagenoeg 215 spesies in ons land erken.   

Inheemse en uitheemsespesies

Vlieghengel vir reënboogforel (’n indringerspesie
Vlieghengel vir reënboogforel (’n indringerspesie) is ’n gewilde tydverdryf en toeristetrekpleister. Forelplase en vistele­rye verskaf vis om die riviere aan te vul en aan mense wat vis eet. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Van die 215 spesies val 107 binne die groter inheemse varswatervissoorte. Dit is visse wat in lengte wissel van 150 mm tot 1 m en langer.

Ongeveer 20% van dié groter inheemse varswatervisse kan gehengel word. Die bekendse varswatervissoorte is die tiervis, baber, geelvis, moddervis en varswaterpaling. 

Uitheemse varswatervisspesies kom in ons strome en damme voor. Uitheemse visse is dié wat hul oorsprong in 'n ander land het. Dit sluit onder meer in die grootbekswartbaars, gewone karper oftewel karp, asook die reënboog- en bruinforel. 

Dié spesies word as indringers ­beskou en is in die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu in varswaterstelsels hier vrygelaat. Die vermeerdering van dié spesies het 'n negatiewe impak op die inheemse visse gehad. 

Ekostelsels/habitat

Die Vaalrivier is ’n bekende habitat en ekostelsel
Die Vaalrivier is ’n bekende habitat en ekostelsel vir ver­skeie vissoorte in Suid-Afrika. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Varswatervisse is afhanklik van hul natuurlike habitat om reg te kan eet, voort te plant en behoorlik te funksioneer. 'n Ontwrigting van hul habitat kan skade in die algemene visbevolking veroorsaak. 

Varswater-habitatte sluit in mere, vleilande, riviere en damme. Dié habitatte bevat unieke ekostelsels waarin visse 'n noodsaaklike rol speel.  

Mere is gewoonlik groot oppervlakke van stilstaande water. Dit kan ontstaan tydens aardbewings, wanneer draaie in riviere afgesny word of as oorblyfsels van ou gletsers en vulkaankraters.

Mere is ryk aan alge wat op waterplante vorm en as voedsel vir visse dien. 

Riviere is oor die algemeen varswaterlope of watermassas wat 'n oseaan, meer of ander rivier binnevloei. Riviere met 'n kleiner waterloop staan as strome, spruit of riviertjies bekend. 

Daar is 'n groot verskeidenheid riviere in Suid-Afrika wat as habitatte vir baie vissoorte dien. Bekende riviere in ons land sluit in die Oranje-, Vaal-, Krokodil- en Tugelarivier. 

Die mak varswater-palings in die Palinggat op Stil
Die mak varswater-palings in die Palinggat op Stilbaai word daagliks met die hand gevoer

Damme is meestal mensgemaakte watermassas en word om verskeie redes opgerig: vloedbeheer, besproeiing, hidroëlektriese krag­opwekking en vir opgaardoeleindes. 

Nes mere en riviere dien damme as 'n habitat vir visse. Mense vang visse in damme om te eet of vir sport, in welke geval hulle weer in die water vrygelaat word. Dink aan die grootste dam in Suid­-Afrika, die Gariepdam, of die Hartbeespoortdam in Noordwes.

Wat eet visse? 

'n Karp is 'n uitheemse vis wat as 'n indringer in
'n Karp is 'n uitheemse vis wat as 'n indringer in ons land se varswater beskou word. Foto: Gallo Images/ Alamy

Die dieet van varswatervisse verskil van spesie tot spesie. Sommige visse eet net plante (herbivore), ander eet vleis (karnivore), terwyl ander visse plante én vleis eet (omnivore). 

Kossoorte sluit larwes en  vlieë, muskiete, kewers, miere, garnale, vis­eiers, en/of alge en veselagtige plantmateriaal.

Elke vissoort se dieet is noodsaaklik vir balans binne 'n ekostelsel. 'n Rooiborskurper sal in damme die gras, biesies en stringalg vreet, terwyl die dwergkurper 'n belangrike voedselbron vir roofvisse en voëlsoorte is. 

Baberspesies reguleer die getalle visspesies binne hul ekostelsels. Hulle vreet nie net ander visse nie; ook hul kleintjies. Die muskietvis en ghieliemientjie is voordelig vir die mens omdat ­hulle ­muskiete eet.

So het elke vissoort sy unieke rol binne ’n ekostelsel; daarom moet varswatervis­spesies bewaar word.  

Bedreigings

Die varswaterpalings wat in Suider-Afrika voorkom,
Die varswaterpalings wat in Suider-Afrika voorkom, broei in die Indiese Oseaan oos van Madagaskar uit. Nadat die palings uitgebroei het, neem hulle die Agulhasstroom teen die suidooskus van Afrika af en kom vestig hulle binne die varswater van Suider-Afrika

Varswatervisse is geheel en al afhanklik van die bogenoemde habitatte vir hul bestaan en oorlewing. Menslike aktiwiteite wat nie gereguleer of beperk word nie, kan veroorsaak dat visbevolkings negatief beïnvloed word. 

Selfs in so 'n mate dat die getalle van vissoorte in ons land aan die afneem is.  

Nagenoeg 80% van ons land se rivier-­ekostelsels word deur besoedeling bedreig, waarvan 54% as kritiek bedreig beskou word.

Die Vaal- en Krokodilrivier wat van Gauteng tot in die Limpoporivier vloei, word as die hard­werkendste riviere in die land beskou en moet bewaar word om varswater-ekostelsels te beskerm waarin varswatervisse woon.

Benewens waterbesoedeling kan ontginning (soos sand), die versteuring van watervloei, droogte, indringerplante (soos waterhiasinte), indringervisspesies en die agteruitgang van habitatte inheemse varswatervisspesies bedreig.

'n Tekort aan wetenskaplikes bestaan om inheemse visspesies te bestudeer. 

'n Studie toon net vyf varswatervisspesies is tussen 1997 en 2015 volledig ontleed, bestudeer en uiteengesit. As jy die studie van varswatervisse as 'n beroep wil oorweeg, kan dit vir die vis­bevolking se voortbestaan voordelig wees. 

Akwakultuur in Suid-Afrika

Kurpers is ’n geskikte spesie vir Suid-Afrika se akwakultuur. Foto: Gallo Images/ Alamy
Baberspesies reguleer die getalle vis­spesies binn
Baberspesies reguleer die getalle vis­spesies binne hul ekostelsels. Foto: Gallo Images/ Alamy

Sou jy ooit kon dink jy kan met visse boer? In Suid-Afrika is visboerdery nie iets nuuts nie; dit staan as akwakultuur bekend. ­Akwakultuur is die produsering van vissoorte in varswaterstelsels soos damme (oop of binnenshuis), hersirkuleringstelsels en tenks. 

Spesies waarmee veral geteel word, is forel, baber, kurper en karp. 

Die Akwakultuurvereniging van Suid-Afrika is rondom 1989 gestig. In 2008 het die land sowat 1 800 ton forel teen 'n markwaarde van R63 miljoen geproduseer. Provinsies waar onder meer forel geteel word, is die Oos- en Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. 

Die redes waarom daar met vis geteel word, is onder meer vir 'n ekstra voedselbron, om bestaande visbevolkings in plaaslike eko­stelsels aan te vul asook vir die verbruikers­mark waar 'n vraag is na dekoratiewe visse vir persoonlike akwariums. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.